Die strepe tussenin |
||
Ek het ‘n paar eiesoortighede wat ek nie eers probeer verstaan nie: een is my belangstelling in grafstene en doodsberigte. Hierdie gedenktekens het gewoonlik ‘n geboorte datum en sterf datum. Tussen hierdie twee datums is ‘n strepie en alhoewel die twee datums sekerlik van die belangrikste in enige mens se lewe is, is dit die strepie tussen in wat betekenis aan jou lewe sal gee. Ons staan aan die begin van ‘n wonderlike, opwindende geleentheid elke more wanneer ons wakker word. Gedurende daardie dag kan jy jouself, jou lewe, jou omgewing, jou verhoudings verander - ten goede of ten kwade. Of nie. ‘n Lewe, lank of kort, bestaan uit sekondes - jy het ‘n keuse hoe jy kies om daardie sekondes te spandeer, waarvoor jy eendag onthou sal word en die invloed wat jy het op jou geliefdes het. Jy kan toelaat dat die lewe maar net gebeur met jou of jy kan doelwitte en beginsels hê wat jou nader lei waar jy graag wil eindig. Een vaardigheid wat jou sal help om nader na enige doelwit toe te beweeg, is om BEWUS te wees van wat NOU gebeur. Jy sal dan bewus word wat jou tyd opvreet en waarop jy dit spandeer-ek noem om “selfbewus te lewe”. Laat jy toe dat onverskillige bestuurders jou kwaad maak sodat jy dan lelik is met jou huismense? Laat jy toe dat jou kind jou toonnaels laat krul met sy/haar geneul of kyk hulle stilweg in die oë en sê dat as hulle goeters wil hê sal hulle moet werk daarvoor, net soos jy. Jy hoef nie toe te laat dat mense of omstandighede jou gemoedstoestand of besluite bepaal nie. In plaas van om woedend of gefrustreerd te raak, gebruik jou energie om in die rigting van jou droom te werk en om planne te maak om omstandighede te verbeter of dit ten minste beter te kan hanteer. En jy sal dit slegs maklik en goed kan doen as jy dit daagliks oefen. ‘n Makliker manier om dit te verstaan is om dit met ‘n lang reis te vergelyk. ‘n Mens het ‘n plek en tyd van vertrek en ‘n bestemming en ‘n geskatte tyd van aankoms. Daar is deurentyd dorpe en padmerkers as aanduiding hoe mens vorder, en of jy steeds in die regte rigting oppad is. Natuurlik sal daar baie dinge wees wat jou aandag aftrek. Hindernisse, ompaaie, gevaar en selfs pret. Sommige van ons reis in ‘n Mercedes en ander in ‘n VW Beetle; geeneen het ‘n waarborg dat hulle veilig of suksesvol by hulle bestemming sal opdaag nie. Slegs die wat doelbewus en selfbewus lewe het moontlik ‘n kans om te arriveer waar hulle beplan het om te wees of darem naby die doelwit. Besluit vandag wat jou doelwitte vir jou en jou familie is hierdie jaar sodat jy deurentyd nader kan beweeg waar jy eintlik wil wees. Breek dit op in haalbare doelwitte. Skryf dit neer en hersien dit weekliks sodat jy daagliks daarop kan fokus. Teken jou hindernisse en vordering skriftelik aan. Ons kan weliswaar nie ons eie geboortedatum of sterfdatum bepaal nie. Maar jy kan kies hoe jy die tyd gaan spandeer tussen daardie twee datums om die wêreld ‘n beter plek te maak. Moenie uitstel nie, doen dit vandag en doen dit skriftelik. Seënwense van hart tot hart. |
||