Ses sekondes |
||
Ek het onlangs ‘n brief ontvang van ‘n ma wat weeklaag dat baie van die riglyne wat ek in my oordenkings aanbied baie maklik klink, maar een van twee dinge gebeur wanneer sy dit wil toepas: sy raak ‘n blaffende bits teenoor haar dogtertjie of sy kry haar voorneme ‘n paar keer reg, klop haarself op die skouer en dan verval die gesin weer stadig terug in die ou, onwelkome patrone van gedrag. Sy is ‘n meester in haar werk en kan ‘n kantoor vol werknemers bestuur, maar vind dit onmoontlik om ‘n haar kinders en gesin te bestuur. Sy het die beste van voornemenes maar wanneer sy gekonfronteer word met konflik, strategie of beplannig ten opsigte van haar kinders, verloor sy rigting en haar humeur. Sy vra hoe sy meer doelgerig en “self-bewus” van haar intensies kan lewe, sodat sy ‘n beter ma kan word. Die antwoord is om op te hou REAGEER in ‘n situasie en sodoende liewer te kan OPTREE. Want dit is juis wanneer ons blindelings reageer teenoor prikkels dat ons oorreageer en impulsief raak. Ons sê dan dinge wat meer skade aanrig as probleme oplos en dis dan wanneer mens na die tyd spyt is oor jou woorde of dade, of selfs die gebrek daaraan. Vir almal wat hulle vasloop in hierdie soort situasie wil ek graag vandag die ”Ses Sekonde Riglyn” aanbied. Skryf eerstens elke voorneme in ‘n enkele sin neer en motiveer hoekom dit belangrik is vir jou of jou gesin. En begin dan leef volgens die Ses Sekonde Riglyn. Al wat dit vra is dat jy in enige situasie vir net ses sekondes die gevolge van jou woorde, gedagtes of dade sal oordink: of dit nou is om nie die sigarette te koop nadat jy besluit het om minder te rook nie, om getrou te bly aan jou voorneme om jou kind te leer om nie tantrums te gooi deur self kalm te bly wanneer jou sy ‘n vloermoer vertoning gee nie, om liewers die bitsige opmerking in te sluk omdat jy verstaan dat die verhouding belangriker is as die slim, snedige sin wat jy iemand in die hart mee wil steek. Slegs ses sekondes. Ses sekondes om liewer die gesonder weergawe te bestel op die spyskaart, om te besef dat jy lê en sleg raak voor die televisie, om jouself te vra hoe belangrik is dit om nou kwaad te raak of om kalm te bly en sodoende jou gesin en jou gesondheid te beskerm. Mens moet dit oefen en dit raak wel makliker. Gou-gou kan jy doelwitte en suksesvolle voorneme afmerk. Jy het beheer oor jou toekoms gekry omdat jy nou beheer het oor jou reaksies op die wilde winde wat jou wil wegwaai van jou voornemens. Jy lewe doelgerig en self-bewus; jy sien die klein suksesse raak en is dankbaar vir die geringste seëning. Gelukkiger en rustiger as vantevore. Seënwense van hart tot hart op jou voornemens. |
||