Lewensles in karakter

 
     
 
Baie dankie vir almal wat so positief gereageer het op die vorige brokkie . Dit het lesers geraak op verskeie vlakke: party is herinner aan hulle eie waarhede, party het nuwe insigte verkry en party het ‘n slag positiewe besluite geneem tov hulself en hulle gesinne.
Vandag wil ek ‘n ware verhaal en les in karaktervolle lewensingesteldheid met julle deel. Baie dikwels hoor mens dat daar nie meer rolmodelle vandag nie. Maar die waarheid is dat ons nie meer die helde raaksien nie, miskien omdat ons waardes so versmelt het met die breë samelewing dat ons nie meer eerbare gedrag herken nie. Maar inderwaarheid is daar navolginswaardige gedrag elke dag te vinde.
Die een skool se se laaste naelloper in die aflosresies het die stokkie sowat 20 meter voor die volgende skool se kampioen ontvang-die agteros was lank, gespierd, aantreklik en vinnig. Die hele pawiljoen was op hulle voete. Die spoed waarmee die tweede hardloper die spasie verkort het, was asemrowend. 10 meter voor die eindstreep het hy die voorste hardloper verbygesteek en terwyl hy dit doen, sy hand opgesteek en ‘n nare handgebaar vir hom gewys. Een skool snak na hulle asems en die ander skool vier fees. Na die tyd het die verloorder deur die gemaal gebeur om die wenner geluk te wens-maar die wenner het sy rug op ordentlikheid en die gelukwensing gekeer-en verder die respek van baie toeskouers verloor.
Alhoewel die storie effens interessant is, is wat die volgende dag in een van die skole gebeur het insiggewend. Die “verloorder” het die kampioen in die oë van sy skool geword, en die “wenner” is met minagting geheen. Kinders het tuis gekom met ‘n mondvol oor hoe om eervolle lewens te lei-die skool het die geleentheid aangegryp om kinders op te voed en nie net te leer nie.
Gryp jy sulke geleenthede aan om karaktervolle en eerbare keuses te onderstreep vir jouself en gesin ? Herinner jy jouself gedurig dat jy lewe in diensbaarheid tot ander- om die wêreld ‘n beter plek te maak?
Alhoewel die kampioen die wedloop gewen het, het hy die respek van die toeskouers verloor - het hy die toets van karakter verloor. Jy kan wen en nog steeds ‘n “loser” wees .
‘n Ryk sakeman, ‘n kliënt van my, kla ander dag by my dat hy die respek van kollega’s en die vrees van werknemers gewen het , maar die een ding wat van kristal gemaak is-sy familie-verloor het. Deur te dink dat hulle hom sy ontrouheid en afwesigheid sal vergewe, is hy nou ‘n gerespekteerde, ryk en EENSAME ou man.
Ongelukkig leer ons sulke lesse soms eers wanneer dit laat is. Ons lewe net een keer op aarde-besluit binne watter reëls en waardes jy van nou af sal leef. En leef elke dag eerbaar en “self-bewustelik” volgens hulle.
Seënwense van hart tot hart.