Laingsburg

 
     
 
Ek moes al deur baie trauma en persoonlike verliese strompel in my kort lewe, insluitend om vir die dood te knipoog. Die een ondervinding wat my lewe so aangrypend verander het dat ek altyd aan my lewe in terme van “voor” en “na” hierdie episode dink is die feit dat ek die groot vloed van Laingsburg in 1981 oorleef het. Om op ‘n dak te sit wyl mense voor jou oë verdrink en onseker is of al jou geliefdes veilig is, is ‘n ondervinding wat ‘n mens se verwysingsraamwerk 360 grade verander. Ek het elke enkele besitting binne 24 uur te verloor, uitsluitend my lewe, ‘n Bybel en ‘n sak vol onderklere! Eendag sal ek vertel van daardie dag maar vandag wil ek graag deel wat ek uit daardie skrikwekkende ondervinding kon leer.
Daardie dag het ek geleer dat ‘n mens kan die dood in die gesig staar en totaal rustig daaroor wees. Hieruit het ek geleer om die dood nie langer te vrees nie, maar te respekteer.
Om alles wat jy het te verloor en om slegs ‘n paar badkamerteëls oor te hê van wat jy eers jou tuiste kon noem, leer ‘n mens dat wat jy het, eintlik genoeg is. Jy het nie eintlik meer en meer en meer nodig nie. Jy het eintlik net nodig om dit wat jy het, meer en meer te waardeer. Jy leer dat wat onontbeerlik in die lewe is, is werklik die dinge wat jy nie kan sien nie-soos ons lees in The Little Prince. Liefde, gesondheid, verhoudings en geluk-onder andere.
Ek het geleer dat die Dood definisie gee aan die Lewe. Sonder die Dood sou ons ‘n ongemotiveerde lui lot gewees het, met geen dryf om elke dag tot die volste te lewe nie.
Ek het geleer om die lewe in sy volheid te omhels-soos Thoreau gesê het: “to suck out the marrow of life”. Eenvoudig omdat elke dat regtig jou laaste kan wees.
Die filosofiese knyptang is natuurlik dat dit menslik onmoontlik is om elke dag voluit te lewe, want ‘n mens raak so opgevang in elke dag se kleinighede. Ek het wel ‘n manier ontdek hoe ek elke dat “amper voluit kan lewe”. Ek beskryf dit in ‘n frase wat gereelde lesers nou al sal herken: “selfbewuste lewe”. In die sielkunde word dit in verskillende terme beskryf, meestal in die term “mindfulness living”. Dit beteken om elke minuur van die dag te weet waarheen jou tyd gaan, sodat jy daardie minuut kan laat tel, al is dit net in volkome “niksdoen”. Dit beteken ook om te weet wat jy voel en wat andere moontlik voel. Toevallig is dit ook die basis van wat ons vandag ken as “emosionele intelligensie”.
Ek het geleer om genot te put uit selfs die kleinste plesiertjie terwyl jy kan, om vir die meeste mense life te bly solank as wat jy kan, om sterk maar sag te wees, om elke situasie en elke mens met soveel humor as moontlik te hanteer en dat sagtheid meer regkry as aggressive. Ek probeer om meestal te lewe vanuit hierdie persoonlike waarhede. En ek slag. Meestal.
Seënwense van hart tot hart.