ADHD |
||
ADHD is die Engelse afkorting vir Aandag Tekort Hiperaktiwiteit Sindroom en is een van die mees gedebateerde kinder sindrome. Daar is twee redes vir die kontroversie: eerstens omdat die voorkoms so drasties gestyg het en tweedens as gevolg van die medikasie vir gewoonlik voorgeskryf word vir mense wat aan ADHD ly. ADHD lyers ly aan breinoordragstof tekort van dopamien en noradrenalien in dele van die brein wat impulsiwiteit en konsentrasie beheer. Die tekort van hierdie oordragstowwe maak dit vir hulle (amper) onmoontlik om te fokus op leerinhoud. As 'n leerder nie kan fokus in die leersituasie nie, mis sy leergeleenthede en ontwikkel dus leeragterstande. Onaangespreek word hierdie kinders se akademiese en sosiale selfbeeld geweldig gekneus, en gewoonlik behaal hulle lae prestasie of selfs herhaling. Hierdie frustrasies ly weer tot uitbarstings of ander emosionele hindernisse. En moenie vergeet nie - as ‘n mens oordrewe impulsief optree, beland jy gereeld in groot moeilikheid! Soms presenteer kinders met emosionele trauma met simptome wat baie lyk soos iemand wat ‘n ADHD lyer is. En soms kan kinders met leerhindernisse ook simptome toon wat soos ADHD lyk. As ‘n kind die “rerige” ADHD het kan sy gewoonlik nie akademies vorder sonder medikasie nie. ADHD is 'n mediese toestand en het mediese behandeling nodig Ritalin is nie 'n wonderkuur nie; maar dit is 'n noodsaaklike hulpmiddel. ADHD lyers moet leiding kry tov die aanleer en toepassing van tegnieke wat hulle kan help om hul gedagtes, en ook hul lewe beter te organiseer. Ouers moet help om vaste roetines te skep, leiding te gee met huiswerk en leer om lysies te maak. Terapie tov van lees/leerprobleme (algemene probleme onder ADHD lyers) bied ook ondersteuning. Dit is ook belangrik om in ag te neem dat daar sterk navorsingbewyse is dat ADHD geneties is. Ouers het dus dikwels self leiding nodig. Daar is ook 'n ander produkte, Concerta en Strattera beskikbaar. By die gebruik van enige van hierdie middels kan newe-effekte verwag word-soos met enige ander medikasie. Dit is ook so dat baie leerders verkeerdelik Ritalin en soortegelyke middels voorgeskryf word of dit word nie deur ‘n ervare medikus gemonitor nie. Dit is BAIE BELANGRIK dat hierdie produkte deur verkieslik 'n pediater of pediatriese psigiater voorgeskryf word. Die medikasie moet baie gereeld, ten minste 2 keer per jaar gemonitor word, omdat die dosis baie spesifiek vir elke individu voorgeskryf word. Dieet en gestruktureerde leer is belangrik maar die verandering daarvan alleen sal nie die ware ADHD leerbehoeftes aanspreek nie. Die skade aan ‘n kind se selfbeeld is gewoonlik groter as die moontlike newe-effekte van medikasie. Volgende maand sal ek leiding bied hoe ouers kan besluit om medikasie of nie vir hulle kinders te aanvaar. Tot dan: Groete van hart tot hart. |
||