Riglyne ter ondersteuning van AAS/AAHS

 
     
 

In die laaste artikel het ek basiese inligting omtrent Aandag Afleibaarheid en Hiperaktiwiteit Sindroom (AAHS) gedeel en gemotiveer hoekom ouers dit sterk moet oorweeg om hulle AAHS kind met Ritalin te ondersteun. 

Na aanleiding van ‘n leser se vraag verduidelik ek kortliks die verskil tussen AAHS en AAS (in Engels - Attention Deficit Disorder). Aandag Afleibaarheid Sindroom (AAS) verwys na afleibaarheid wat meer na binne gefokus word-die medici praat van “nie-aandaggewend”. Hierdie is gewoonlik die kind wat as ‘n “dromer” of “verstrooid” beskryf word. Hierdie kinders is selfs meer in gevaar as die hiperaktiewe kind omdat haar leerhindernisse “onder die radar” van ouers en onderwysers beweeg maar die impak kan net so erg op haar akademiese vordering wees.

In AAHS (die mediese term is die hiperaktiewe-impulsiewe tipe) is daar twee tipiese gedragpatrone te sien: die een is die “orkaan” en die ander die “vroetelaars”. Mens moet nooit hierdie gedrag met ouderdom-gepaste gedrag verwar nie, byvoorbeeld , ‘n vierjarige sal en moet van tyd tot tyd soos ‘n gomlastiekballetjie aangaan.

Enige van bogenoemde gedragstipes kan ernstige negatiewe impak hê op ‘n kind se akademiese sukses en sosiale verhoudings. AAS/AAHS se simptome word gewoonlik duidelik wanneer die kind skool toe gaan. Wanneer die kind se aandagafleibaarheid ‘n hindernis tot leer of negatief op die kind se sosiale verhoudings werk behoort ouers dit raak te sien en te oorweeg om ‘n kenner te raadpleeg. 

Voor ouers medikasie hoef te oorweeg moet ‘n neuro-sielkundige assessering gedoen word met die kind deur ‘n bekwame opvoedkundige sielkundige en psigiater/pediater. Die sielkundige behoort ‘n omvattende assessering oor die kind doen en met haar onderwysers konsulteer. Die sielkundige sal ook ‘n neuro-sielkundige assessering met die kind doen en met die ouers konsulteer. Die sielkundige sal bepaal of die kind lei aan ‘n hindernis tot leer, sielkundige en emosionele trauma of AAS/AAHS (Sien die vorige artikel oor AAS/AAHS). Medikasie, soos Ritalin, word dikwels verkeerdelik voorgeskryf omdat kinders simptome toon wat baie soos AAS/AAHS voorkom. 

As die sielkundige vind dat die kind ly aan “rerige AAS/AAHS” sal sy die kind verwys na ‘n betroubare psigiater of pediater. Die psigiater of pediater sal dan sy eie verkorte neuro-assessering doen, geondersteun deur die omvattende assessering van die sielkundige en ‘n moontlike aanbeveling vir die gebruik van medikasie maak. 

AAS/AAHS gaan gewoonlik gepaard met ‘n paar ander probleme, soos Opponerende Sindroom, Gedragssindroom, Leerhindernisse of Gemoeds- en Angsstoornisse, wat ook aangespreek moet word. 

AAS/AAHS kan nie genees word nie maar kan effektief bestuur word. Navorsing toon dat medikasie alleen, nie sal waarborg dat AAS/AAHS hindernisse oorkom sal word nie. Die kind het lewensvaardighede, tegnieke en strategieë nodig om optimaal funksionerend te word. Die opvoedkundige sielkundige sal die kind kan ondersteun met lewensvaardighede, leiding aan die ouers kan gee t.o.v. tegnieke en strategieë aan onderwysers. Daar is wonderlike ondersteuningsgroepe waar kenners en ouers kennis en raad kan deel om sodoende die kind beter te ondersteun. 

Groete van hart tot hart.