Danie |
||
Ek deel vandag ‘n terapeutiese brief wat ek onlangs aan ‘n 14-jarige klient van my geskryf het (sommige feite is verander om die identiteit van die familie te beskerm). Liewe Danie, ek en jy het mekaar leer ken in die weeklikse sessies by die Vaardigheidskool wat jy tans is. Jy het rerig baie gesukkel om die meeste van jou vakke en jare in die gewone skoolsisteem te slaag en hier kry jy die geleentheid om baie handvaardighede aan te leer, o.a. sweiswerk. Om te kan sweis gaan jou moontlik help om nader aan jou lewensdroom te kom, om ‘n onderwatersweiser te word. Jy woon hier in die koshuis omdat jou gesin in ‘n baie klein en afgesonderde gehuggie 158 km van hier woon. Jy het my vertel hoe jou stiefpa ‘n dwelmgebruiker was, hoe hy jou ma se neus gebreek het en jou vingers, toe jy haar probeer beskerm het. Ek het gehoor hoe jou stiefpa se broer jou seksueel mishandel het toe jy 7 jaar oud was. En hoe verlig jy was toe jou stiefpa vermoor is deur ‘n ander dwelmverslaafde. Ek weet dat jy jou gesin baie mis en dat jy bekommerd is oor hulle veiligheid en gesondheid. Die kommer het gemaak dat jy al drie keer weggeloop het huis toe in die afgelope 10 maande. Die laaste keer verlede week. Ek waardeer die feit dat jou ma en jou 72-jarige oupa gister die 158km geryloop het deur die Weskus reën om te kom gesels oor voorsorg sodat jy nie meer wegloop nie. Ons het gesels oor hoe jou gesin se harte stukkend raak met bekommernis elke keer as jy wegloop-amper soos jou ouma se hart wat ses maande gelede twee hart-omleidings moes ondergaan in die Kaap. Jou oupa sê hy hou van die klein gemeenskappie waar julle bly want die mense kyk na mekaar, afgesien van die kleur van jou vel. Hulle kerk ondersteun hulle en hulle was dankbaar om op die vloer van ‘n kerksuster te mag geslaap het toe hulle jou kom besoek het. Jou ma het eers in die naaste dorp 40 km weg van julle huis af gewerk. Maar nadat sy amper deur een van haar rygeleenthede verkrag is, het sy besluit om liewers in haar HOP huisie te bly. Nou werk sy elke week op die vuilgoedhope, waar sy artikels herwin om haar bejaarde ouers en ook haar kinders te kan versorg. Sy het ook ‘n klein huiswinkeltjie waar sy ‘n ekstra geldjie maak. Ek het jou trane gesien toe jou niggie vroeër vanjaar aan leukemia oorlede is. Jy trotseer graag die Weskus water want swem help jou om vry te voel van jou omstandighede. Jy sukkel nou al hoe lank om op te hou rook en om uit die hande van die skollies te bly. Gister het ek gesien hoe jou lyf klein word toe jy onder jou ma se arm in gewoel het en hoe jou lyf verdwyn in die arms van jou lang oupa toe hy jou totsiens gesoen het. Ek het gehoor dat jy jou oupa help wilde heuning uithaal en help in die groete tuin waarvan julle leef en ook verkoop. Jy het my vertel van die vis wat jy aan toeriste verkoop en hoe jou ouma kerrievis inlê vir die maer jare. Ek weet hoe jy teken en draad items maak vir jou eie plesier en vir die verkoop daarvan. Gister het jou oupa jou gevra om die woorde teen die kantoormuur hardop vir hom te lees: “Ek is nie 'n gevangene van my omstandighede nie. Net ek kan besluit wat ek met my lewe wil maak- al het ek min.” Gister het jou oupa sy kerkbroek met ‘n klein gaatjie op die knie, ‘n das en kerkskoene aangehad. En toe hulle gaan het hy met trane in sy oë gesê: “Die Here sal ons beskerm en op Hom vertrou ons.” Ek het gedink: there for the Grace of God goes my son, my sister, my father, and I. Geseënd is hulle wat die storms van die lewe met soveel karakter kan deurstaan. Mag jou hart hierdie Kersfees die nood van ander raaksien en jou hande werkmaak daarvan. |
||