DEEL 2 van ANKERS EN SEILE vir FAMILIES

 
     
 

Gesinne ondervind gereeld moeilike tye wat die hoof gebied kan word met behulp van sterk gesinswaardes en die warm menslike verbintenis wat dit teweegbring. Moeilike besluite om probleme te oorkom kan vergemaklik word omdat jou gesin waardes het wat julle besluite rig. Hierdie waardes noem ek die ankers en seile van gesinne. ‘n Seilboot het ‘n anker vir veilighed en seile om dit voort te dryf. ‘n Seilboot kan so selfs téén die wind seil en die anker hou dit veilig as die stormwinde dreig om dit te verwoes.
Verlede maand het ek geskryf hoe die waardes van betroubaarheid, konsekwentheid en sagtheid ‘n gesin kan anker in moeilike omstandighede. Soos die seile van ‘n seiljag, so kan speelsheid, kreatiwiteit en aanmoediging jou kind help om te versnel deur die moeilike storms van die lewe.
Met Speelsheid sluit ek beslis enige elektroniese speletjies uit. Elektronika vorm ‘n skeiding in mense-verbintenisse; alhoewel ons dit “speel” is ons gewoonlik ingesluk in individuele aktiwiteit of opwinding. Gesprekke tydens elektroniese speletjies is gewoonlik oppervlakkig en tegnies, nie vol intimiteit of ‘mense konneksies’ nie. In sielkunde sê ons altyd: “Speel is die kind se taal.” Ouers wat met hulle kinders speel verkry gewoonlik goeie invloed by hulle kinders sodat die kind later met minder baklei sy kamer netjies hou, huiswerk doen of huistakies verrig. Wanneer jy jou kind met ‘n speelse stem terregwys, kan hy nie so maklik met die gewone woede reageer nie. Menslike verbintenisse floreer in ‘n atmosfeer van Speelsheid.
Baie ouers glo dat die aanmoediging van hul kind se Kreatiwiteit is afgehandel wanneer hulle haar aflaai by musiek of kunslesse. Maar die soort kreatiwiteit moedig nie noodwendig menslike konneksies aan nie. Alhoewel alle kinders kreatiwiteit geniet, gebruik nie alle kinders dit instinktief nie-jy moet dit bietjie aanhelp. Jy kan dit vermag deur: nie te wys hoe slim jy is deur die eindelose vrae voor die voet te verduidelik nie, maar deur hulle te vra wat hulle dink; deur hulle biblioteek toe te neem en hulle aan te moedig om self uit te vind; en deur met hulle te bespreek wat julle op die TV sien. Jy kan bv. die lewenskwessies en moontlike oplossings van sepies en flieks met hulle bespreek; en kritiese en kreatiewe denke aanmoedig deur vrae en gesprekke wanneer julle dokumentêre programme kyk. Dit is nie deur TV te kyk en boeke te lees wat jou kind leer om kreatief te dink nie maar wel deur die gesprekke wat dit tussen julle genereer. Dit is nie die kunsklasse wat jy vir haar betaal nie, maar die kreatiwiteit wat julle saam beoefen wanneer julle iets saam maak of regmaak, wat die intieme verbintenisse van ‘n sterk gesin bou.
In moeilike tye moet ons moed/durf aan ons kinders gee-ons moet hulle Aanmoedig. Nie deur ‘n taak oor te neem nie, of hulle toe te laat om tou op te gooi nie, maar deur hulle te motiveer en te lei sodat hulle sukses behaal. Soms help dit om jou kind te vertel hoe jy gesukkel het met ‘n probleem, wat jou gehelp het daardeur en wat jy geleer het daaruit. Soms met (ouer) kinders is dit genoeg om hulle te herinner dat jy aan hulle kant is en dat jy ook wil hê dat hulle suksesvol sal wees, en HULLE dan te vra hoe jy kan help om daardie sukses te behaal.
Hopelik het jy ‘n eggenoot wat jou ondersteun in die rigting wat jy jou gesin wil lei. En hopelik het jy ‘n duidelik visie waarheen en hoe jy jou gesin wil lei. As jy nie het nie, mag jy dalk net vind dat enige klein onderstroming van die lewe jou gesin van koers kan stuur, met geen hoop om ooit julle drome te bewaarheid nie.
En weereens, as jy ‘n Groot Navigator het wat duidelike en betroubare riglyne bied, sal dit JOU versterk in nood. Slegs dan kan jy die hawe wees waar jou kind glo sy is veilig – maak nie saak watter storm dreig nie.