Ouer-onderwyser verhoudings

 
     
 

Dis terug-skooltoe-tyd vir ouers en kinders-die ideale tyd om ouers te herinner hoe belangrik dit is om onderwysers sover te kan kry om slegs die beste belang vir jou kind te soek.
Ontmoet jou kind se onderwysers, behou en bou aan ‘n verhouding met elke onderwyser-wanneer die onderwyser die gesig sien wat agter die kind staan, word hy gedwing om elke keer te reflekteer, respekteer en met verantwoordelikheid met die kind om te gaan-wat ookal die situasie is. As hy weet hy gaan jou by sportbyeenkomste en skoolaangeleenthede moet groet sal hy heel moontlik makliker die spreekwoordelike ekstra myl met jou en jou kind loop. Woon skoolfunksies by, raak betrokke by verenigings en help waar jy kan. Leer hulle op hulle voorname ken, ruil telefoonnommers en epos adresse uit. Prys hulle wanneer hulle jou beindruk en bedank hulle vir die klein ongevraagde ekstra’s wat hulle vir kinders doen. Dan sal hulle dit soveel makliker volgende keer doen (miskien selfs vir jou kind).
Wanneer jy voel daar is regtig rede tot kommer, maak seker van die feite voor jy op jou witperd spring en die situasie wil stormloop,. Soos ‘n pre-primêre onderwyseres vir ouers by die eerste ouervergadering gesê het: “Ek belowe om nie alles te glo wat jou kind my vertel wat by die huis gebeur nie, as jy alles wat jy hoor in my klas gebeur, met ‘n knippie sout neem.” Jou intensie moet wees om die situasie op te los en te verbeter vir jou kind. Dit is soveel makliker as jy die “goodwill” van die onderwysers en skool in die proses kan behou. Hierdie is werklik een van daardie situasie waar, as jy humeur verloor, jy slegs die saak vir jou kind kan slegter maak.
Tydens die ouer-onderwyser vergadering behou die beginsels vir goeie menslike verhoudings: groet, glimlag, bly kalm, vra vrae eerder as om te beskuldig. Deel jou verwagtinge, wense en vrese met die onderwyser en vra hoe die ouerhuis kan help om die situasie te verlig. Die goue reël in die bestuur van mense verhoudinge (onderwysers is ook mense, ja) bly maar deur al die eeue: behandel ander soos jy ook behandel wil word.
Wanneer jy graag ‘n saak wil aanspreek: maak ‘n afspraak, bel of stuur ‘n brief aan die skoolsekretaresse of die onderwyser self (onthou om jou eie e-pos adres en/of selfoonnommer in te sluit). Hou boek van die datum en as jy langer as ‘n week moet wag, stuur dieselfde brief, wag drie dae en stuur die oorspronklike brief en ‘n brief ter verduideliking aan die vak of graadhoof en versoek ‘n vergadering met beide die graad en klasonderwyser teenwoordig. Begin dieselfde proses met die graad hoof as jy langer as 7 dae moet wag sluit die briewe aan die onderwyser, graad/vakhoof en stuur dit aan die skoolhoof. Daarna is die hiërargie van gesag: die Skoolbestuursliggaam en dan die kringbestuurder by die skool se OBOS (Onderwys Bestuurs en Onderrig Sentrum). Hou natuurlik die bewyse van jou pogings om vergaderings met die skool te reël, ter ondersteuning van jou saak. Ongelukkig moet sommige skole deur hulle ouer gemeenskap tot verantwoordbaarheid gedwing word.
Onderwysers is ook maar net mense – en as jy dink jy wil soms jou tiener inruil vir ‘n ander een - onthou hy sit met ten minste 30 van hulle vir 7 en ‘n half uur per dag, waarvan die meeste ure ‘n gestoei is om hulle net in hulle sitplekke te hou. Ja,hulle het gekies om dit te doen, hulle kry vakansies (om te werk in), en redelike salarisse. Maar hulle word emosioneel blootgestel aan uiters stresvolle omstandighede. Onderwys word tans as een van die tien mees stresvolle beroepe in Suid-Afrika gesien. Onthou dat onderwysers ook oortrokke rekeninge, struwelende kinders, verbrokkelende huwelike en siekte toestande het. Hulle word elke dag gekonfronteer deur misdaad, rebellie en hoogverraad – en dit nog vanuit hulle eie klas!

Uiteindelik is jy, die ouer, die persoon wat verantwoordelik is in hoe ‘n mate jy jou kind se opvoeding lei, begelei en bestuur. ‘n Ouer wat betrokke is by sy kind se skool verseker ‘n pad met minder dorings en slaggate vir sy kind se skoolloopbaan.

Seënwense van my hart aan jou en jou kind