Die Regte van Kinders in Egskeidings

 
     
  Ek sluit die tema van “Egskeiding is nie kinderspeletjies nie” vandag af met ‘n kort maar kragtige stem vir die regte van kinders wat deur egskeiding beinvloed word.

Die volgende gedagtes het ek op die webtuiste genaamd “Children in the Middle” gevind en het dit verryk met die stemme van die kinders waarmee ek elke dag werk. Dit omskryf baie duidelik en opsommend hoe om ‘n egskeiding te bestuur in die beste belang van die kinders in die middel.


Die Regte van Kinders in Egskeidings
1. Gee erkenning aan die feit dat ons albei ouers liefhet en nodig het.
2. Ons is nie boodskapdraers nie. Ma en Pa moet self met mekaar praat.
3. Moenie vir ons die slegte dinge van ons ander ouer vertel nie.
4. Moet ons nie ons onnodiglik onder kruisverhoor sit oor wat in ons ander ouer se huis aangaan nie.
5. Moenie ons vra om kant te kies nie.
6. Moenie ons laat voel ons is verraaiers as ons dit geniet om by ons ander ouer te wees nie.
7. As jy iets lelik te sê het oor ons ander ouer, moenie dit by ons sê nie.
8. Ons wil nie as wapens of afdreigmiddel gebruik word teen ons ander ouer nie.
9. Moenie ons probeer omkoop of bederf agv jou eie skuldgevoelens, minderwaardigheid of wraak nie. Ons het nou, meer as ooit, jou tyd, geduld en aandag nodig.
As ouers wat deur ‘n skeidingproses gaan hierdie riglyne kan navolg-kan hulle verseker dat die trauma verminder en dat kinders met ‘n gesonde selfbeeld uit die skeiding groei.

Mag vrede van my na jou vloei.