Wie versorg die versorgers

 
     
 
Alhoewel ek meestal met kinders werk in my praktyk en die opvoedkundige stelsel, is dit onvermydelik dat ek ook met ouers en onderwysers moet konsulteer. En dit maak my bang.
Baie versorger van kinders is nie gelukkige mense nie, om dit maar sag te stel. Baie voel gedreineer van die nodige fisiese en emosionele energie om kinders te lei na gebalanseerde volwassenheid. In die ergste gevalle het ek al ondervind dat hierdie versorgers van kinders depressief of sommer net erge boelies is. Wat my weer laat wonder het: Wie versorg die versorgers (van die lewe)? Waar kry ouers, onderwysers, verpleegkundiges en maatskaplike werkers die energie om hulle batterye te herlaai sodat hulle die kwesbares kan versorg met warmte en langmoedigheid?
Omdat ek self in ‘n versorgingsberoep is, moes ek op die harde manier leer dat ‘n mens MOET herlaai en jou eie liefdes-tenk vol maak voordat jy dit met ander kan deel. Wanneer jy leegloop, bly daar net woede, irritasie en kortsigtigheid oor.
So hoe maak ‘n mens hierdie liefdes-tenk vol warmte, geduld en sorgsaamheid? Deur goed en mooi te wees met jouself, en ander mense toe te laat om mooi te wees met jou.
Die eerste stap is om gedurig bewus te wees van jou gemoedstoestand en tyd te neem om te bepaal wat jou pla en hoe om dit te verander. Sommige mense doen deur ‘n lang, warm bad te neem, te stap, tee met ‘n vriend, handwerk, te bid of selfs ‘n sessie in die gimnasium. Maar solank jy tyd maak om te stop en te reflekteer oor die toestand van jou gemoed.
Beplan en forseer jouself om opbouende pret te hê. Spandeer tyd met familie of vriende en lag uit jou maag uit. Alkohol en dobbel is nie voorbeelde van positiewe pret nie-aangesien dit baie keer meer skade doen. Wanneer jy lag oorspoel jou brein met ensieme wat jou emosioneel en fisies opbou-kyk prettige prente, speel met diere of wees ligsinnig met jou kinders en kleinkinders.
Maak tyd vir oefen en slaap genoeg-of soos ek dit noem “oksideer”. Slaap is ‘n belangrike fase van herlaai in ‘n mens se dag en sonder genoegsame slaap word mense oneffektief en ‘n gevaar vir hulle self en ander. Elke mens ‘n ideale getal ure wat sy moet slaap-jy sal weet as joune nie genoeg is nie.
Oefening is op so baie maniere goed vir jou dat jy dit as ‘n afspraak in jou besige skedule behoort in te skryf. Oefening kan sommer net ‘n lekker stappie tot ‘n harde oefensessie in die gimnasium wees. Selfs tuinmaak en karwas sal tel.
Eet gesond en drink genoeg water. ‘n Duursame motor kan nie op Coke en hamburgers loop nie; jou delikate chemiese samestelling kan ook nie optimaal funksioneer op hierdie brandstof nie .
Kyk mooi na jouself en versorg jouself met liefde-sodat ons mekaar beter kan versorg.
Warmste wense van my hart aan joune.