Maak 'n verskil |
||
Ek is gereeld oorweldig deur die erge omstandighede waardeur meeste mense moet beur en eintlik nog meer verbyster deur baie individue wat bo dit kan uitstyg. Mense wat nie ondergetrek word deur die gety van negatiwiteit, neerdrukkende omstandighede of gesondheid nie. Hierdie enkele mense lig meestal nie net hulself uit hierdie moeras nie, maar ook die mense wat naby aan hulle is. Hulle bly nie slagoffer van hulle omstandighede nie, hulle is oorlewendes of meer spesifiek, oorwinnaars van hulle haglike omgewings. Daar word al baie dekades navorsing gedoen om te probeer vasstel hoe sommige mense hierdie uithou-en aanhou ingesteldheid verkry en behou. Ek het onlangs The Secret Millionaire op BBC kanaal gekyk waar rerige miljoenêrs vir 10 dae gaan bly in behoeftige gemeenskappe om sodoende waardige ontvangers te vind vir die duisende ponde wat hulle wil skenk. En midde hierdie mees onwaarskynlike plekke kry hulle altyd iemand: soms ‘n organisasie wat vir kinders met spesiale behoeftes sorg, soms ‘n kind wat begin om vir honger kinders in haar skool kos van winkels te vra en soms ‘n tagtigjarige wat medemenslik koek bring en nuwe inwoners verwelkom. Mens kom diep onder die indruk dat daar gewone mense is wat bo hulle omstandighede uitstyg deur barmhartig en onselfsugtig aan ander ‘n diens te lewer. Hulle maak ‘n verskil-hulle verrig wonderwerke helder oordag. Viktor Frankl, Joodse psigiater wie tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Nazi konsentrasie kampe aangehou was, was verbaas dat tenger en sieklike mense die helkampe oorleef het en sterk gesonde mense soms nie. Hy het ‘n aangrypende boek geskryf, Man’s search for Meaning, waarin hy dokumenteer hoe mense aan die lewe gehou is deur die liefdevolle dade vol deernis wat hulle aan ander gedoen het. Neem die besluit om van vandag af ‘n verskil te maak in jou huis, buurt en werksplek. Leef die verandering uit wat jy so na smag. Dit begin by een persoon, en daardie persoon kan jy wees. Begin mense groet met ‘n glimlag en luister met opregtheid na hulle, laat toe dat ander mense eerste stap of die laaste sitplek kry, tel die vuilgoed in die parkies op, plant bome, neem tee en koekies vir die nuwe bure, gee die voëls kos of speel met jou kinders. Bied jou vaardighede aan by skole, ABET sentrums, ouetehuise of vaardigheidsdienste. Betaal jou werker na waarde of betaal haar kinders se skoolgeld en benodighede. Die lys is oneindig en sal afhang van jou unieke posisie en omstandighede. Maar weet verseker: jy kan ‘n verskil maak. Dit is goed vir jou gesondheid en bied jou lewensvreugde. ‘n Seker manier om die wêreld ‘n beter plek te maak is om sagter met mense te wees; want elke een baklei teen sy eie monsters in die stilligheid. Stop jou verskonings en uitstel aksies en maak die verskil wat jy weet jy kan. DOEN dit net! Raak een van die “wonderwerkers”. Met ‘n warm hart van my na jou. |
||