Beheer jou gedagtes - beheer jou geluk |
||
Soms wanneer ek en ons hond gaan stap druk ek ‘n R10 in my sak vir die koerant of ‘n roomys. Onlangs toe tydens ons stappie by die kafeetjie oorkant die parkie ‘n roomys wou gaan koop haal ek die R10 uit-oeps- geen R10! Ek soek orals terwyl ek met spyt dink aan die roomys wat ek so na uitgesien het. Terwyl ek aanstap , dink ek: “Mirna, hou op om jou energie te mors op iets wat jy nie kan verander nie, fokus liewers op die lekker stap en op die NOU.” Toe kon ek my aandag verskuif na die nuwe bougainvilles bloeisels en die mense bekyk wat in die park is. Ek kon dink aan my dag en die kindes, ouers en onderwysers waarmee ek gewerk het. Die beste gedagte was egter toe ek besef dat dit moontlik is dat ‘n kindertjie of ‘n behoeftige persoon daardie R10 gaan optel en hoe bly hulle sal wees. Terug by die huis is ek opgewonde dat ek moontlik iemand se dag kon maak met daardie onverwagte R10-noot. En daar op die vloer lê die R10-noot. Ek het ampertjies uitgegaan en die R10 êrens in die parkie gaan los. Ons lewens-oomblikke word bepaal deur HOE ons dink oor ‘n insident; nie soseer deur die wat rerig gebeur het nie. Ek moedig ouers gedurigdeur aan om hulle kinders te herinner hoe ‘n negatiewe situasie positief kan uitwerk of wel uitgewerk het. Dit help hulle om geduldig slegte ervarings te deurleef of om slegte ervarings te verander in die positiewe omdat hulle wyer as die slegte van hier en nou kan sien. Natalie du Toit (nasionale swem kampioen) het hierdie beginsel uitgeleef. Toe sy een van haar bene in ‘n ongeluk verloor het, het sy ‘n keuse gehad: word ‘n slagoffer of styg uit bo die negatiewe omstandighede. Haar positiwiteit, uithouvermoë en vasberadenheid het haar laat styg van ‘n nasionale kampioen na ‘n internasionale ikoon van hoop en inspirasie. Gholfballe was eers glad, maar spelers het later besef die balle trek verder en meer akkuraat as hulle al grof en stukkend was. Vandag het alle gholfballe 432 dimpeltjies. Herinner jouself dat wanneer die lewer rof raak, verander jou denke-verander dit in ‘n dimpel. Die keuse om op die negatiewe te bly fokus: bitter oor die verlede, bitter oor dit of dat maak van jou ‘n slaaf van wanhoop-‘n toestand waar jy nie kan uitstyg bo omstandighede om sodoende vrede en geluk te ervaar nie. Fokus deurlopend op die positiewe-so raak jy ‘n vry van slagofferskap-kry jy ‘n kans tot blydskap. Met dankbaarheid van my aan jou. |
||