Vas aan die verlede

 
     
 
Ouers vra my gereeld: “Maar waar het dit verkeerd geloop?” of hulle eien sommer die skuld hulself toe vir hulle huidige krisis: “Ek moes meer aandag aan hulle gegee het” of soos een mamma ander dag sê: “Ek moes hom meer gefoeter het!” Dit is ‘n menslike eienskap om te analiseer wat verkeerd geloop het-en in die meeste gevalle ‘n konstruktiewe eienskap want sodoende probeer ons sorg dat dit nie weer gebeur nie. Maar dit doen soms meer skade as goed.
Partykeer is ons so oortuig van waar ons huidige teenspoed vandaan kom dat dit omsit in wrewel en haat. Ons kan so vasgevang raak in wie of wat die blaam moet dra dat ons vergeet om tekyk hoe ons die hindernis kan oorkom. Ons kan so verstrengel raak in die verlede dat ons die uitkoms miskyk wat voor ons staan. Hindernisse behoort beter mense te maak -nie bitter nie. ‘n Bitter mens is nie net ‘n aardse hel vir homself nie-maar ook vir die mense om hom.
Ons mag die verlede analiseer; maar meer belangrik -ons moet aanhou om ons toekoms te ontwerp. Aanhou om die positiewe en mooi te soek in ons huidige omstandighede, aanhou om geleenthede te skep en te soek vir persoonlike groei.
Die lewe gaan om vas te byt oor die bulte en afdraende te geniet. En dat die liefde eintlik alles die moeite werd maak.
Makliker gesê as om te doen.
Drie dinge weet ek:
Dit is nooit te laat nie-word stil, soek hulp, beplan en begin klein.
Net die mens wat ophou probeer is ‘n verloorder.
In die sagtheid en vergewensgesindheid-vir jouself, vir ander, vir God-is die enigste manier om ‘n beter wêreld agter te laat.
Met sagtheid van my aan jou.