Dissipline - Deel 2 |
||
Baie dankie vir al die briewe, vrae en kommentaar. Verlede maand het ek begin gesels oor maniere hoe om pro-aktief oor dissipline van jou kinders te dink en te doen. Hierdie goeie raad kry ek by Becky Bailey en dit mag selfs help om beter met jou man of baas oor die weg te kom! 1. Moedig jou kind op ‘n positiewe manier aan in goeie en moeilike tye. Goeie verhoudings (die basis van makliker dissipline) word nie gebou deur jou kind af te kraak om sodoende sekere gedrag teweeg te bring nie. Beginsel: Aanmoediging bemagtig. Toepassing: Wees jou kind se grootste ondersteuner. Maak hom bewus van die feit dat hy dinge self kan doen en planne maak deur vooraf te DINK. Vra gereeld: “Hoe het jy dit reg gekry? Watter gedagtes het jy gedink? Hoe het jy met jouself gepraat? Watter planne het jy gemaak?” wanneer hy suksesvol was. En wanneer hy sukkel: “Watter planne kan jy maak? Hoe kan ek help?” 2. Neem terug die beheer. Beginsel: Wie ook al jy en jou kinders glo in beheer is van die verhouding en die situasie, is gewoonlik. Toepassing: In plaas van om te sê: "Jy maak dat ek nou hierdie kar gaan stop” sê, "Ek stop nou die kar tot al die veiligheidsgordels vas is en almal veilig is.” En doen dit dan, kalm en beheersd. In plaas van om te sê: "Julle maak my mal," sê, "Ek gaan diep asemhaal en myself kalm kry. Dan sal ek weer met julle kom praat. So leer jy jou kinders ook tegnieke om hulle self te beheer. 3. Moenie jou kind te gevolge van sy keuses, woorde en dade spaar nie. Beginsel: Emosionele pyn help jou kind om te weet dat hy volgende keer dit anders moet doen. Toepassing: Help jou kind om die teleurstellende keuses te verwerk. Bied empatie en nie lesings nie oor sy swak keuses. In plaas van om te sê: "Ek het jou gewaarsku om nie jou CD skool toe te neem nie. Dis jou eie skuld", sê "Ek kan net dink dat jy baie ontsteld is oor jou CD gesteel is, sal jy dit volgende keer anders doen?” Empatie sal jou kind toelaat om volgende keer na jou raad te luister omdat hy kan sien dat jy omgee. Preek help net dat hy JOU kan blameer vir alles wat verkeerd geloop het! Belangrikste, wys jou liefde en speel met hulle! Kinders grootmaak is ‘n reis en nie ‘n bestemming nie. Partykeer is daar baie ongelukkigheid langs die pad, maar as jy konsekwent, liefdevol maar met duidelike reëls en grense, dit doen, mag dit selfs ‘n avontuur wees! |
||