WEES JOU KIND SE HUISWERK KONSULTANT - Deel 1 |
||
Ek het onlangs vrae ontvang t.o.v. hoe ouers hulle kinders kan ondersteun met skoolwerk, veral in die lig van die nuwe opvoedkundige stelsel van UGO. Hier is ‘n lysie wenke hoe ouers kan help met huiswerk kopsere. Ouers kan ondersteun deur as taakfasiliteerder op te tree. Te veel ouers ontneem hulle kinders die kans tot ontwikkeling en die aanleer van belangrike vaardighede deur die werk vir die kind the doen of deur ‘n ongenaakbare kritikus teenoor alle werk wat sy kind lewer of as ‘n passiewe saamloper op die moeilike pad van vaardigheidverwerwing en groei na volwassenheid. 1. Help met prioritisering en “multitasking”. Die ouer kan die kind help om ‘n lys op te stel van die moontlike aktiwiteite van die week. Dan word elke aktiwiteit gelys hoe belangrik dit is, wanneer dit moet klaar wees en hoe lank dit sal neem om te voltooi. 2. Leer jou kind om altyd te vra: “Hoekom is dit belangrik om hierdie werk te ken” en soek dan in die werklike lewe redes hoekom dit belangrik is. Help jou kind om die konsep wat hy moet leer te haak aan die werklike lewe en veral aan dinge wat aan hom bekend is. So sal hy dit makliker verstaan en onthou. 3. Leer hou kind om aktief te lees deur die donkergedrukte woorde van opskrifte in vrae te omskep. Moedig hulle nou aan om die antwoorde op die vraag in die teks onder die opskrif te soek. 4. Fasiliteer self-refleksie deur te vra, “Wat het goed gegaan vandag? Wat het nie goed gegaan nie? Wat was die resultaat? Wat moet jy volgende keer anders doen?” 5. Plak die volgende vrae bo jou kind se studeerplek vas. Byvoorbeeld, “Waaraan herinner hierdie werk my? Waarmee kan ek dit assosieer? Hoe kan ek ‘n prentjie maak in my kop om dit beter te onthou? Wat spring eerste in my kop as ek hierdie lees? Hoe kan ek hierdie assosiasies gebruik om dit beter te onthou?” 6. Die vaardighede wat jou kind gebruik om suksesvol te studeer is lewensbelangrik en vervleg met baie eise wat die lewe nog aan haar gaan stel. Gefokusde verstandelike inspanning , die vertraging van bevrediging, strategiese beplanning, tydsbeplanning, self-dissipline is byvoorbeeld almal belangrik vir sukses - wat hulle tot in hulle oudag gaan nodig kry. 7. Wees ‘n simpatiekde en nie-veroordelende konsultant. Moenie toelaat dat studeertyd ‘n ewige geveg raak nie. Effektiewe ouerskap bied die diens van ‘n rustige raadgewende konsultant sonder om die werk vir die kind te doen. Ouers mag nooit toelaat dat hulle voorkom as hulle kind se skerpste kritikus nie. Ek het die meeste van hierdie wenke al oor ‘n paar jaar getoets met leerders in die laerskool tot omtrent graad 10, en dit kan regtig jou kind ‘n voorsprong in die lewe gee en vir jou gemoedsrus bied. WANNEER KINDERS ‘N KOSBARE VAARDIGHEID MOET AANLEER, IS KONSEKWENTE TOEPASSING VAN KARDINALE BELANG. |
||