WEES JOU KIND SE HUISWERK KONSULTANT - Deel 2 |
||
Vandag voltooi ek die lys met wenke vir
ouers hoe om huiswerk dilemmas binne die UGO stelsel te hanteer. 8. Moedig jou kind aan om lang termyn doelwitte (gebind aan graad verwagtinge) neer te stip op ‘n kalender, kort termyn doelwitte (gebind aan weeklikse take en projekte) op ‘n weeklikse skedule lys en daaglikse doelwitte (gebind aan wat vandag afgehandel moet word) op ‘n daaglikse “te doene” lysie; 9. Moedig jou kind aan om nuwe leerstof te probeer bind aan sy belangstellingsveld, om sodoende volhoubare aandag te ondersteun. Bv. wanneer jou krieketmal kind maalsomme moet maak, bind dit aan lopies per kolfbeurt of winste gemaak by die koeldrank stalletjie; 10. Help jou kind om patrone raak te sien. Bv. wanneer hy ‘n opstel skryf moet, herinner hom aan die beplanning struktuur van ‘n vorige opstel, of onderstreep sleutelwoorde in ‘n wiskundige berekening en vra wat dit beteken het in ‘n vorige soortgelyke som. (Hou goeie voorbeelde om later daarna te verwys.); 11. Leer hulle om hulle lessenaar se werksoppervlak skoon te hou van onnodige goeters- die meeste kinders moet netheid aanleer; hulle word nie daarmee gebore nie; 12. Lei jou kind om eers te breinstorm (brainstorm) rondom onderwerpe vir take en mondelinge. Sukses begin gewoonlik deur die regte keuse te maak. Leer jou kind navorsings-en opsommingsvaardighede. Hulle moet deurentyd daaraan oefen totdat hulle dit onafhanklik kan doen. 13. Leer jou kind tik. Daar is min vaardighede wat hy so nodig gaan kry as die tikvaardigheid. Daar is wonderlike sagteware beskikbaar of betaal ‘n tutor. 14. Gee belonings vir werk wat gedoen is. Kinders moet van vroeg af leer dat inspanning lonend is. Sodoende besef hulle dat hulle die uitkoms kan bepaal as hulle gefokusde inspanning aanwend. Kinders wat glo dat hulle KAN probeer harder; wat weer hulle kanse vergroot om wel sukses te behaal; 15. Versterk en prys produksie. Vertoon en vertel trots van die resultate op hulle harde werk. Wees trots op elke klein verbetering in werkskwaliteit en-etiek. Bewonder wat nou is en hou op om te sê: “Maar jy kan soveel beter…” Jou opregte trots sal genoeg motivering bied om steeds harder te probeer. Druk en negatiewe kommentaar sal moontlik hulle net verder van jou af laat dryf; en 16. Beloon hardwerkendheid en deursettingsvermoë; en nie slegs punte nie. ‘n Kind behoort erkenning te kry vir die manier wat hy werk, bv. take wat betyds ingehandig word, wanneer sy iets sonder jou hulp kan doen en die bereiking van doelwitte-en nie punte nie. WANNEER KINDERS ‘N KOSBARE VAARDIGHEID MOET AANLEER, IS KONSEKWENTE TOEPASSING VAN KARDINALE BELANG. As dit is om huiswerk te doen; dan moet daar gereelde huiswerktyd wees. As dit is om spesifieke werksgewoontes of studievaardighede; dan is gereelde herinnering daaraan en die oefen van daardie gewoontes nodig.
Hierdie wenke het die toets van die tyd
deurstaan. Kinders word nie noodwendig “slim” gebore nie; hulle lyk slim
omdat hulle slim truuks geleer is en deurlopend goeie gewoontes uitleef. As
ouers nie hierdie truuks en gewoontes aan hulle kinders leer nie, het hulle
maar ‘n skrale kans om suksesvol te wees. |
||