|
Terwyl ek onlangs lees aan ‘n genotvolle en inligtingryke boek genaamd
“Raising Boys” geskryf deur Steve Biddulph, herinner dit my aan ‘n baie
belangike aspek van kindgrootmaak, naamlik dat ouers wat omgee toelaat
dat hulle kinders verantwoordelik is vir pligte en takies in die huis.
Die redes is:
1. Dit maak kinders gereed om vir hulle self te kan sorg. Nie net sal
jou kind leer om na homself om te sien nie, maar hy sal ook leer hoe om
in ‘n span saam te werk. Kook, maak skoon en aan die kant agter jou kind
slegs as jy wil hê hy moet verewig in jou huis bly! Begin vandat hulle
kan speelgoed optel en sokkies in pare kan sorteer-dit raak ‘n derde
wêreldoorlog as jy eers begin as hulle tieners is-dan kry hulle ernstige
aanvalle van ‘kombuis blindheid’ en ‘vuil wasgoedia’ wat later oorsit in
die dodelike ‘dikbekmania’.
2. Dit versterk ‘n kind se selfbeeld. Die afgelope 50 jaar of so het die
grootste deel van die wêreld gedink die beste manier om ‘n kind se
selfbeeld te verbeter is ‘n vermaaklikheidprogram met die naam “I got
talent”. Montesorri skole het ontstaan juis uit die beginsel dat dit wat
‘n kind vir homself kan doen hom beter laat voel oor homself. Dit
verbreed ‘n kind se vermoëns en bied nuwe vaardighede. Om die tafel te
kan dek, aartappels te skil, gras te sny bied verdere groei na die
liefde om skeppend te wees, die waardering van styl en ‘n belangstelling
in meganiese dinge.
3. Dit bied geleenthede aan jou om in hulle harte en lewens te kyk. Deur
‘n kind touwys te maak in ‘n vaardigheid en sy-aan-sy te werk, skep
geleentheid vir gesprek. Wanneer hande besig is, gaan harte makliker oop.
Of dit was-en-afdroog van skottelgoed is, plantjies plant of die opvou
van wasgoed-min dinge bied soveel onforseerde geleentheid vir die vorm
van emosionele bande as die saamdoen van takies. ‘Sylangse gesels’ is
nie so intimiderend as ‘n ‘aangesig-tot-aangesig’ nie. Dit is sulke tye
wat jy terloops sal uitvind van onderwysers, maats en vrese van jou
kind. Hou jou mond toe en jou ore oop-behalwe as jy wil hê sy moet soos
boek toeslaan en ophou praat.
4. Skuif af die bekommernis en deel die vreugde. Verhoudings word gebou
op menslike verbintenis, wat geskep word deur gedeelte tyd en
ondervindinge. Leer jou kinders deur take met vreugde te doen, saam met
hulle te doen en die vreugde van gesinwees sal volg. Jy en jou kinders
sal almal hierby baat.
Vreugde van hart tot hart. |
|