Kindermishandeling |
||
Kindermishandeling is tans weer baie in die kollig: seksuele, fisiese en emosionele mishandeling. Maar daar is een soort mishandeling wat oral in die land plaasvind (selfs in jou huis) wat ek nog niemand oor hoor praat het nie-“materiële mishandeling” of ook bekend as ”die-gee-van-stuff”. Ek sien dit so gereeld in my praktyk: studente wat rondval met geen dryf, ambisie of sin in die lewe nie, soekend na konsekwente liefde en geborgenheid op al die verkeerde plekke-seks, dwelms en partytjies. Volwassenes wat verslaaf is aan plastiese snykunde, intenet pornografie, prostitute, sigarette, dieëte, drank en werk slegs om ‘n hol kol ęrens in hulle siele te vul. Oral is daar die versmagting na MEER en omdat menslike verhouding soveel energie vra-kry hulle dit maklik in KOOP van “stuff”. En omdat die ouers gedryf word deur “stuff”, is dit vir hulle makliker wanneer hulle kind na tyd en menslike kontak, gesels en intieme verhoudings smag –hulle te paai met die koop van meer “stuff”. En so begin die bose kringloop van geslag tot geslag. Ek sien dit veral in welvarende families maar ek sien dit ook in enkel ouer- en probleemgesinne waar emosionele moegheid, bekommernis en skuldgevoelens ouers dryf om maar liewers te koop as om eerlikheid, tyd en emosionele energie te gee om aan hulle kinders se behoeftes te probeer voldoen. Dit kan wissel van die koop van gemorskos tot die nuutste elektroniese speelgoed. Wat leer ons kinders en gesinne uit hierdie lewenstyl? Dat “stuff” emosionele behoeftes (tydelik)kan vervul? Ek sal nooit die raad van Suster Lillian, ons plaaslike borsvoeding-en geboorte ghoeroe vergeet nie: “’n baba kan in ‘n ou laai as ‘n bedjie en tweedhandse kleertjies groot gemaak word en gelukkig wees, maar as hy nie gereelde menslike kontak, liefdevolle aanraking en kreatiewe spel beleef nie, maak jy ‘n sielsieke kind groot”. Baie kras-maar daar is besliste navorsing wat elkeen van haar stellings bevestig. En nou is dit op die vooraand van die grootste tyd van “materiële mishandeling”: Kersfees. Nogal ironies, nę? Gaan jy maar net gee? En gee? En nogmaals toegee? Of gaan jy jou eie tyd gee deur na te dink, na te vors, te beplan hoe om volgende jaar van jouself en jou tyd aan jou kinders te gee? Om geskenkies te maak saam met jou kinders, in plaas van om te koop? Om saam met jou kinders ‘n tiende van julle Kersfees- inkopies aan die armes en minderbevoorregtes te gee? Om in plaas van kosmaak die heel tyd, of voor die televisie lę-te gaan stap of plant of bak of maak of speel SAAM met jou kinders? Met geduld en konsekwentheid waardes en gewoontes aan jou kinders te leer wat die mensdom en die planeet tot voordeel sal strek? Dan gee jy die GROOTSTE GESKENK-waarvan Jesus ons voorbeeld was: dan gee jy liefde-in-aksie, dan gee jy jouself. Seëngroete van hart tot hart. |
||