Buffelpaai

 
 

Peter Thomas

 
     
 

Was jy al ooit so lus vir iets dat jy teen die mure wil uitklim? Nee, niks met seks te doene nie, ek bedoel KOS! 

Die vier van ons was in die Kruger Nasionale Park oppad Shingwedzi toe waar ons sou oornag. Doom Piet en sy vrou, Marlene was agter en ek en Doreen het voor gesit. 

Ons het so teen 40 km/h aangekarring en uitgekyk vir wild toe Doom Piet ewe skielik sê: “Laas keer toe ons in Shingwedzi was, het hulle die lekkerste buffelsvleis paais by die kafeteria verkoop” 

Dis stil in die kar. Elkeen van ons sien in sy verbeelding ‘n groot bord met ‘n paai daarop, ‘n buffelsvleis paai, maak dit sommer twee paais.  

“Met tjips,” voeg Marlene by. Die vier verbeeldingsborde kry elkeen ‘n porsie tjips by. Ons monde water, die naald kruip ongemerk op na 60 km/h. 

“Jy ry te vinnig,” maan Doreen. Ek lig my voet effens van die pedaal, maar in ‘n minuut of so is dit alweer op 60. Ek is haastig om by Shingwedzi te kom. 

“Met ‘n lekerrrr sous oor die paais.” las Doreen by. Ons verbeeldingborde lyk nou al watertandlekker. 

“Met tamatiesous vir die tjips” las ek ook by. Nou lyk die verbeeldingsborde rêrig lekker. Dis weer stil in die kar soos ons ons verbeeldings vrye teuels gee. 

“Olifant!” skreeu Doreen as sy eerste die reuse dier reg by die pad sien. “Bogger die olifant” mompel ek. “Daars nog baie van hulle” Ek ek ry voort Shingwedzi toe. Daar is prioriteite! 

Kort kort kruip die naald 60 toe, ek moet my net inhou om nie vinniger te ry nie. Die spoedgrens is 50 en as ons 60 ry is ons seker nog veilig? Wat van 70? 

Toe ons by Shingwedzi se hek inry gor ons mae al, klink soos ‘n trop leeus in die kar. Ons pyl reguit op die kafeteria af en kry vir ons ‘n tafel wat oor die rivierbedding uitkyk. As jy buffelvleispaai eet het jy nos ‘n UITSIG nodig. 

Die kelnerin is nog nie eers behoorlik by ons tafel nie of Doom Piet begin: 

“Twee buffelpaais vir elk van ons asseblief” 

“Met lekkerrrr sous daaroor” las Marlene by 

“Met tjips,” las Doreen by 

“Onthou die tamatiesous vir die tjips” las ek my deel ook by. 

Niks lekkerder as buffelpaais met sous, porsie tjips met tamatiesous in Kruger nie. Enige ander plek sou dit nie dieselfde geproe het nie! 

Ek hoop almal wat nou die lees is lekker lus vir paais met sous en tjips met tamatiesous! 

Lekker smul!!!  Ons het!!