Ons Egipte vakansie
13 tot 23 November 2008

 
     
 
Uiteindelik breek die groot dag aan, na nege maande se beplanning en uitsien sit ons op OR Tambo en wag om aan boord Vlug SA7205 na Cairo te gaan.

Sitplekke word aangewys en ons stoele se rugleunings is in die middel van die kajuit en teen 'n afskorting, Hulle kan dus nie in die slaapposisie terugslaan nie. Alhoewel die vlug seepglad verloop het, was dit slapeloos en het ek penregop gesit en drie swak flieks gekyk.

Net na 05h30 die volgende oggend land ons op Cairo Internasionale lughawe en die verteenwoordiger van die toermaatskappy haas ons deur die formaliteite en word ons met die maatskappy se bussie na ons hotel vervoer. Ons minibus taxibestuurders in Suid Afrika kan hier kom leer om te bestuur!

Ons was reeds voor die tyd gewaarsku dat Egipte en fooitjies of “bakeesh” .sinoniem is en die eerste ding wat ons toe by ons aankoms by die hotel doen is om van ons Egiptiese ponde, wat ons alreeds in Suid Afrika gekoop het, om te ruil vir kleiner note sodat bakeesh ons nie sal uitroei nie. Daar is ‘n 24 uur geldomruilfasiliteit in die hotel se voorportaal..

Ons was tuis in die Le Meridien Pyramids hotel en was aangenaam verras om die piramides van ons kamer se balkon af te sien, wel, eintlik net die toppunt van een van hulle, maar ons was hier en dis al wat getel het!

Na ‘n rustige oggend om verlore slaap in te haal het ons gaan stap en vir middagete elkeen ‘n schwarma by ‘n wegneemete plek gekoop, baie billik en baie lekker.. Ten tye van ons besoek was die Egiptiese pond (LE) gelykstaande aan R1.75

Die toer was geskeduleer om die volgende oggend amptelik af te skop, ons het die middag verwyl deur poskaarte te koop en te skryf. Elke kamer het internet konnektiwiteit teen LE25 vir 15 minute, jammer net dit was so stadig.

Daardie aand het ons teen LE130 per kop na die klank en lig-en-klankvertoning by die piramides gaan kyk. Dit was ons eerste kennismaking met die beroemde piramides van Giza en die sfinks en om dit in die nag belig te sien was iets besonders.

Die volgende dag was die Egiptiese Museum sowel as 'n verskeidenheid verskillende ou kerke aan die beurt. Die museum was stampvol met toeriste maar tog interessant . Mens sal 'n paar dae nodig he om alles behoorlik te kan besigtig, ons het net die belangrikste uitstallings kon sien.Mens word 5000 jaar teruggevoer en word vertel van die Egipte van ouds, piramides, mummies, Egiptiese gode en nog vele meer interessanthede.

Daarna het ons 'n paar ou kerkgeboue besoek, die beroemde "Alabaster mosque" uit marmer gebou, die kerk van St Mary wat ook die “Hanging Church" genoem word aangesien dit op 'n ou Romeinse bouval rus, ook die kerk van St Sergius waar Josef, Maria en die kind Jesus vir die Romeine weggebruip het. Ons laaste stopplek vir die dag was 'n papirusfabriek waar hulle ons gewys het hoe die Egiptenare papier van die papirus riete gemaak het..

Die verkeer in Cairo het spesiale vermelding nodig. Ons het in die stad op een van die hoofpaaie onder andere die volgende gesien, 'n trop skape, 'n trop bokke, donkiekarre, perdekarre, kamele, ‘n buffel en beeste. Een ou op 'n perd met twee bokke voor hom oor die perd drapeer het doodluiters 'n baie besige 4 laan hoofpad oorgesteek, min gepla oor die voertuie was moes rem aanslaan. Meeste motors lyk nie of hulle padvaardig kan wees nie, al wat goed werk is hulle toeters wat oortyd werk. Soos dit donker begin word, word ligte alleenlik gebruik om ander verkeer te flits en te waarsku om pad te gee. Ek sal nooit weer kla as ek in Johanneburg moet bestuur nie.. Die hoogtepunt was een ou wat op die sypaadjie gesit en kantspieeltjies verkoop het, klaarblyklik wat van voertuie afgery was soos hulle by mekaar verbyskuur.

Ons het sover nog nie skoon publieke toilette gekry nie. Veral die dames het gekla en het maar liewer geknyp as om die toilette te gebruik..

Die volgende dag was piramide dag. Na ontbyt is ons na Saqqara om die oudste piramide te gaan besigtig, die van Koning Zhoser. Die piramide dateer uit die tydperk 3000 voor Christus. Daarna is ons na Giza om die Groot Piramides en die Sfinks te gaan besigtig. Alle toeriste besoek hierdie besienswaardigheid en daar was letterlik derduisende besoekers en toergroepe. Ons gids was uitstekend en het ons sommer gou-gou binne gehad sonder dat ons in lang rye moes tou gestaan het in die son. Egipte baat baie uit toerisme en blykbaar kry toergroepe vorrkeur by ingange want ons het baie min tougestaan.

Die piramides was asemrowend, dit het ons vertom dat 100,000mense meer as 20 jaar aan die grootste een gebou. Ons kon nie glo dat mense 5000 jaar gelede slim genoeg was om sulke swaar blokke te kon oplig en mee bou nie. Dit was al redelik laatmiddag toe die Sfinks aan die beurt kom, net so indrukwekkend!

Oppad terug hotel toe is ons na ‘n parfuumfabriek waar parfuum uit saamgepersde blomme gemaak word.

Ons het die hotel verlaat en is per bus Cairo stasie toe vervoer vir die oornag treinrit na Luxor. Daar is aan ons voorgestel dat ons eers oppad stasie toe kos koop by 'n supermark aangesien die kos op die trein veel te wense gelaat het.

Die stasie was chaoties. Dit het gewemel van plaaslike mense en die verskillende toergroepe het soos skape in groepies gestaan en wag vir die trein. Na meer as 'n uur se gerondstaan kon ons uiteindelik inklim en na ons kompartement gaan. Dit was klein, en ek bedoel piepklein. Ons tasse het die klein vloerspasie amper volgestaan en ons het ons reggemaak vir 'n baie ongemaklike 7 uur lange treinreis. Maar ons leef nog om die verhaal te kan vertel. Ontbyt was baie basies met goor koffie om dit mee af te spoel.

Net na 6 die volgende oggend was ons in Luxor waar ons sommer dadelik per bus na die Vallei van Konings en die Vallei van Koninginne geneem is. Daar het ons hoofsaaklik grafkelders van die verskillende konings en koninginne besoek . Oppad terug het ons 'n alabaster (marmer) fabriek besigtig waar ons kon sien hoe hulle kruike en ander interessanthede maak. Baie indrukwekkend was ook die Tempel van Koningin Hatshepsut en die twee reusagtige standbeelde van Memnon.

By Luxor aangekom is ons Nyl toe waar ons aan boord van ons boot gegaan het, dit sou ons tuiste vir die volgende 4 dae wees.

Na middagete is ons weer in die bus oppad na die tempels van Luxor en dan ook na die grootste bestaande tempel, die tempel van Karnak.

Teen die tyd het ek al honderde fotos geneem, ek sorteer hulle maar uit soos ek 'n tydjie kry, ek het voor die tyd vir my een van die Acer halfgrootte skootrekenaars gekry wat nou sy gewig in goud werd geword het.

Daarna is ons weer boot toe. Dit is eintlik nie reg om dit 'n boot te noem nie, dit is eintlik 'n "5 ster de luxe" ,( die "de luxe " is glo beter as net plein 5-ster) , hotel. Ons kamer was baie luuks, die kos was baie en lekker en die enigste klagte wat ek het is dat hulle jou paspoort konfiskeer as jy aan boord gaan. Ek het gekla maar dit het nie gehelp nie.

Die hele boonste deel van die boot is 'n ontspanningsarea. Daar is dekstoele, sambrele en ook 'n swembad en ons het dit geniet om daar te sit en kyk hoe Egipte stadig by ons verbygaan soos ons die rivier op vaar.Sonsondergang oor die Nyl is nogal heel besonders.

Laatmiddag is ons toe onderweg. Ek het opgelet dat daar 'n menigte bote net soos ons s'n was, almal vologepak met toeriste. Ek het verneem daar daar meer as 400 soortgelyke bote as ons s’n op die Nyl was. Toerisme moet groot besigheid in Egipte wees.

Na aandete het ons gaan slaap. Mens kom nie agter dat jy op water beweeg nie, al wat mens hoor is 'n n veraf gedreun van die boot se motore.

Toe ons wakker word was ons alreeds vasgemeer by die dorpie Edfu. Na ontbyt is ons per bus na die Tempel van Horus., blykbaar die bes bewaarde tempel van alle tempels in Egipte. Die tempel was voltooi in 320 vC en daar is 184 jaar aan gebou. By die mark langs die tempel het ons vir ons tradisionele Egiptiese drag gekoop vir 'n Egiptiese partytjie wat die aand aan boord sou plaasvind.

Daarna is ons weer aan boord en het ons verder gevaar na ons eindbestemming op die Nyl, Aswan. Oppad soontoe het ons op die ontspanningsdek gesit en 'n sonsondergang op die Nyl beleef, werklik iets besonders. Dit was reeds donker toe ons by Aswan vasmeer en ons het onmiddelik na die Kom-Ombo tempel gestap, net in die straat af van waar ons vasgemeer het.  Dit is die kleinste tempel in Egipte en was helder belig sodat ons mooi fotos kon neem. Dit was onwerklik om 'n eeue oue tempel in die nag te kon besigtig.

Daarna het ons ons Egiptiese kleredrag aangetrek en het ons 'n tradisionele Egiptiese ete geniet. Tot laat die aand is partytjie gehou.

Die volgende oggend is ons al 5.30 oppad lughawe toe vir die 30 minute lange vlug na Abu Simbel. Die Abu Simbel tempel sou deur die Aswan dam oorstroom geword het en is toe stuk vir stuk na 'n nuwe staanplek bokant die watervlak vervoer. Weereens het dit daar gewemel van toeriste. Teen 11.30 was ons weer terug op die boot en kon ons rus na die min slaap van die vorige aand.

Die volgende oggend volg ons weer die nou standaard roetine en neem die bus na die volgende besienswaardigheid, die Tempel van die godin Isis. Hierdie tempel is ook blok vir blok verskuif na 'n ander staanplek aangesien dit oorstroom sou word deur die stygende water van die Aswan High dam. Ons is per Nyl taxi na die eiland waar die tempel nou staan. Die volgende stopplek was die wal van die Aswan High Dam en vandaar is ons vir 'n felluca rit om Elephantine en Kitchener eilande. Daar is honderde van die fellucas op die Nyl, dit is 'n seilbootjie met een groot seil, nogal 'n lekker ondervinding.

Die middag het ons rustig op die boot verkeer en toe is ons stasie toe geneem vir die 14 uur lang treinrit terug na Cairo. Aangesien die rit deur die nag was het ons die meeste van die tyd geslaap.

Terug in Cairo is ons na ons hotel geneem en daarna is ons na die Khan El Khalili mark toe waar ons vir 'n paar uur in die nou stratjies tussen honderde klein winkeltjies rondgedwaal het. 'n Moet-besoek in Cairo.

Die res van die middag was ons rustig by die hotel.

Die volgende oggend is ons na die lughawe geneem waar die volgende deel van ons vakansie sou begin, ‘n besoek aan Engeland.

Besprekings vir die Egipte vakansie is deur Flight Centre gedoen en die toermaatskappy in Egipte was On The Go Tours, beide kan aanbeveel word vir puik diens.