Situasie in Harrods
Peter Thomas

 
     
 
Seker een van die bekendste winkels in die wêreld en ook een van die plekke wat mens net moet besoek as jy ooit in Londen is, is die beroemde winkel, Harrods.

Alles omtrent Harrods is in die oortreffende trap.die aantal mense wat jou verdring, die pryse en ook die reeks goedere wat beskikbaar is. As jy by een van die deure inbeur besef jy dat hierdie winkel iets besonders is. Ek het nogal gewonder wat sou gebeur as ek een van die gesoet en getaaide assisttente vra wat hulle godkoopste item was, dalk sou ek dit kon bekostig.

So gebeur dit toe dat ons laat een yskoue Saterdagmiddag die winkel trotseer, ons en sekerlik duisende ander mense, Ons monde hang oop in verwondering. Die sjokoladeafdeling alleen is so groot soos een van ons supermarkte. Die hoeveelheid kase in die kaasafdeling is ongelooflik. Die pryse van die klere in die klere-afdeling het teveel nulle aan. Daar is soveel mense dat die beste manier om te beweeg is in treintjie-gelid, die grootste persoon voor om ‘n weg te probeer baan en die res agterhom of haar aan. So loop ons treintjie deur die skares van een afdeling na die ander.

Vriende van ons het gevra dat ons 'n Harrods Kersfeesteddiebeer vir hulle moet koop. Elke jaar het hulle 'n unieke beer met die naam Harrods asook die datum op pote van die beer. Die speelgoedafdeling beslaan die hele vierde verdieping. Dis enige kind se droom en enige ouer se nagmerrie. Kinders loop oopmond daar rond, tog te oulik.Daar is letterlik duisende bere in die teddiebeeerafdeling. Die spesiale bere is op aparte rakke uitgestal. Hierdie jaar se beer se naam is Oscar en hy het ‘n oulike rooi en wit trui aan met bypassende handskoene. Een beer kos 25 pond maar jy kan nog een vir halfprys kry, ons vat toe maar twee. Ons het besluit om nie Engelse pryse om te skakel na rand toe nie, dan sou ons niks gekoop het nie. Elke beer is om en by 30 sentimeter hoog en na ons betaal het plaas ons albei in 'n groot groen Harrods drasak en daar treintjie ons weer weer in 'n poging om by een van die deure te kom.

Ons beur deur die mensemassa, ek laaste in die treintjie met die groot Harrods drasak met die bere in. Die sekuriteitswag by die deur is groot en swart, ek onthou dat ek gewonder het of hy in sy vrye tyd dalk 'n stoeier is. Die treintjie sukkel die deur uit en ek word effens afgesny. Toe ek by die sekuriteitskandeerder kom trap iemand op 'n maervark se stert en die ding gaan aan die skree. Ek verstyf, was dit dan ek wat die vark laat skree het? Waar ek 'n paar sekondes gelede een van honderde was wat oppad uit was, is ek ewe skielik stoksielalleen. Daar is 'n vyf meter spasie rondom my en ek voel hoe 'n honderd paar oë na my staar. Die deurwag is op hierdie stadium nog vriendelik.

"Please step over here, sir!" en ek staan eenkaant toe.

Hy beduie dat ek weer moet deurloop, en daar skree die maervark weer.

"Please hand me your parcel, sir" en ek oorhandig die sak met die bere. gelukkig het ek die verkoopstrokie ook in die pakkie gesit en ek haal dit uit en wys dit vir hom. Ek waai dit ook sommer triomfantelik in die lug rond sodat al die nuuskieriges moet sien dat ek nie die bere gesteel het nie.

Die wag trek die een beer vir die sensor. Tjoepstil.

Hy trek die ander beeer voor die sensor. Tjoepstil.

Hy beduie dat ek weer moet deurloop, die maervark skree soos 'n besetene.

Ek hoor die wag praat oor st tweerigtingradio; " Secrurity, send assistance to door 4, we have a situation"

Ek raak nou bekommerd, ek is nou nie meer 'n onskuldige kliënt nie, ek is nou al 'n "situation".

Die nuuskieriges begin nou weer nader staan. Dis nie aldag dat 'n winkeldief in Harrods gevang word nie, dis amper so erg as om een van die koningin se teelepels in Buckingham Paleis vas te lê. My verbeelding gaan nou op hol met my en ek wonder of die gevangenes in hulle tronke koue hawermout gevoer word aangesien hulle sekerlik nie mieliepap in Engeland het nie.

Ek en die wag staar mekaar aan. "Please remove your jacket'. Die feit dat ek nie meer ge-"sir" word nie val my dadelik op. My aansien het nou verskuif van gewaardeerde klant na potensiële dief.

"Please empty your pockets" Darem “please” hy nog. Probleem nommer een. Die baadjie wat ek aanhet is een van daardie met baie sakke. En ek bedoel baie sakke, daar is sakke wat sakke op het. dan het vroulief ook besluit om 'n plakboek van ons vakansie saam te stel sodra ons weer tuiskom en elke kwitansie, kontantstrokie, toegangskaarjie en ou foonkaart is in die sakke ingeprop.

Ek begin die sakke eeen vir een leegmaak, die hopie op die wag se tafel word groter en die nuuskieriges staan nader.

Die wag beduie dat ek weer moet deurloop, die keer sonder die baadjie.

Die maervaark is tjoepstil.

Ons almal staar nou na die baadjie, ek wens ek het nooit die ding gekoop nie.

Die wag tel die baadjie met sy wysvinger en duim op en vee dit voor die skandeerder, die blerrie maervark skree sowaar weer.

Ek word yskoud, kouer as wat dit buite is. Sê nou net ek het na iets gekyk en dit sonder om te dink in by baadie gesit, ek proe al klaar daardie koue hawermout.

Die aantal nuuskieriges het nou aangegroei, hier is sekerlik iets wat hulle vanaand kaan oorvertel, dalk haal dit nog TV nuus.

Die wag begin nou die baadjie behoorlik deursoek, versterkings het ook opgedaag. Ek let op dat een van hulle tussen my en die deur staan, net ingeval ek besluit om 'n breek te maak.

"Aha!" en hy hou die baadjie triomfantelik in die lug vir almal om te aanskou. "And what's this?" en hy wys na iets wat lyk soos 'n swart knoop wat aan die agterste soom vasgewerk is.

"It's a security tag" beantwoord hy sy eie vraag, "and it is not ours"

Ek slaak 'n sug van verligting, nou weet hy darem dat ek nie by hulle gesteel het nie. Maar ek kan sien dat hy dink dat die baadjie nogtans gesteel is, behendig verwyder hy die ding wat die oorsaak van al my probleme was. Ek besef nou dat die winkel in Alberton waar ek die baadjie gekoop het nooit die sekuriteitsverklikker verwyder het nie, die blikskottels!

Teleurgesteld gaan die toeskouers voort met wat hulle besig was en ek raap my goed en my baadjie en die sak met bere op en sluit by my mense op die sypaadjie aaan waar hulle nou al ongeduldig wag.

"Waar was jy al die tyd?" vra hulle half boos vir my.

"Jammer dat ek julle vertraag het" antwoord ek, "ek het net met die sekuriteitswag gesels"
 
 
 

 
 

Ek met die twee bere