Nou en dan kry ek 'n bevlieging en ek skryf self ietes, hier is een van daardie bevliegings....  
 

 

 
 

Die Jagluiperd

 
 

Peter Thomas

 
     
 

Elke nou en dan haak my weredhelf, Doreen uit. Ek weet nie of uithaak die regte terminologie is nie, maar as uithaak beteken dat sy iets buitengewoons aanvang, dan is uithaak die regte woord.

‘n Voorbeeld van so ‘n uithaak was toe ons, ek en sy en haar suster en haar man, destyds Sun City toe was om David Essex te gaan sien.

Nou David Essex doen niks vir my nie, maar daar was Doreen en haar (ouer) suster reg voor die verhoog tussen die Teeny Boppers aan’t gil vir David Essex.

Ek en my swaer het maar afgesak in ons stoele gesit en gemaak of ons hulle nie ken nie.

Die uithaak waarvan ek nou wil vertel het in die Kruger Wildtuin plaasgevind. Ons dogter, Lorraine, het sopas haar bestuurslisensie gekry en sy het die eer gehad om in die wildtuin te bestuur. After all, mens kan tog nie veel skade teen maksimum 50km/h veroorsaak nie?

As daar een dier is wat Doreen totaal en al laat uithaak, dan is dit ‘n jagluiperd. Ek bedoel totaal.

En dit gebeur toe so dat ons op ‘n lang reguit stuk grondpad ry, hy maak so ‘n lekker dippie en klim dan ‘n hoogtetjie uit. Doer op die horison beweeg iets oor die pad.

“Jagluiperd!” skree Doreen en ons wip soos ons skrik vir die skielike lawaai hier by ins in die kar. Mens kruie mos so droom-droom aan in die Wildtuin en verwag nie so ‘n luide kreet hier by jou nie.

“RY!” skree sy Lorraine toe en dié sukkel om in ‘n ander rat te kom sodat sy kan versnel.

Net toe sy haar Schumacher posisie agter die stuur inneem verskyn daar ‘n trop tarentale voor ons in die pad en hulle beweeg so draf-draf voor ons.

Die jagluiperd doer voor in die pad het teen die tyd al in die gras verdwyn en Doreen freak uit.

“As ek sê RY dan RY jy!” skree sy vir Lorraine.

“Maar ek KAN nie, daar is tarentale voor my” en die tarentale beweeg op ‘n tarentaaldrafstappie reg voor ons in die pad.

“Trap die donnerse goed” kom dit weer van Doreen af. Lorraine gee stadig vet maar die tarentale versnel ook maar bly voor ons in die pad.

“Dis die laaste keer wat jy hier bestuur” Doreen is nou goed boos.

Ek kon amper nie meer die tarentale hier voor die kar sien nie so naby was ons aan hulle. Een tarentaal besluit toe dat hy genoeg oefening vir die dag gehad het en draai af van die pad in die gras in en die res volg hom.

Toe ons by die plek kom waar ons dink die jagluiperd oor die pad geloop het, is daar niks te sien nie. Hy is lankal weg in die lang gras.

Die res van die pad kamp toe was in stilte, een ding wat ek geleer het is dat jy nie probeer slimpraatjies met twee dikbek vroumense maak nie!