Asbrood
750 ml bruisbroodmeel
25- ml witbroodmeel
10 ml bakpoeier
2.5 ml sout
500 ml karringmelk
Meng droë bestanddele en maak aan met karringmelk. Druk deeg plat (ong 3 cm
dik) op 'n groot stuk aluminiumfoelie. Vou dig toe in foelie maar laat
ruimte om te rys. Plaas op half uitgebrande kole en gooi toe met oorblywende
kole. Bak ongeveer 45 minute.
Souskluitjies in
'n Ysterpot
125 g botter of margarien
60 ml fyn appelkooskonfyt
12.5 ml koeksoda
500 ml koekmeelblom (gesif)
knypie sout
100 ml melk
750 ml kookwater
250 ml suiker
5 ml vanieljegeursel
klontjie botter (ekstra)
Smelt botter en roer dan eers konfyt dan koeksoda by (mengsel bruis). Voeg
meel en sout beurtelings met melk by. Plaas oorblywende bestanddele in
ysterpot en laat opkook. Skep lepelsvol deeg in kokende vloeistof sodat
hopies nie opmekaar lê nie. Sit deksel op en prut vir 25 minute lank. Bedien
warm, stip met botter.
Potbrood
15 ml heuning
700 ml warm water
1 kg broodmeel
10 g droë gis 10 ml sout
15 ml olie
Meng die heuning en 250 ml water. Sif die broodmeel, gis en sout saam.
Maak ‘n holte in die middel van die bestanddele en voeg die heuningwater by.
Knie deeglik.
Voeg die res van die warm water by terwyl geknie word. Voeg die olie by en
knie tot elasties.
Smeer met olie en laat om te rys. Knie die deeg af. Smeer ‘n swart gietysterpot met olie. Plaas die deeg in die pot en laat rys.
Plaas die pot in kole en sorg dat die kole reg om die pot is. Bedek en laat
sowat 30 min ute bak.
Pak die kole op die deksel en laat nog 15 minute bak. Sit warm voor met
botter.
Potbrood
Ek vat partykeer
sommer kortpad as daar 'n Spar naby is en gaan koop dan 'n kilogram deeg
daar. Ek voeg dan my eie byvoegsels by, soos, fyn gerasperde biltong, of
kaas en uie of wat ookal. Dan spuit ek 'n platboompot met Spray n Cook,
strooi bietjie mieliemeel oor die bodem, dan 'n vel waspapier, alles om te
keer dat die brood nie brand nie. Dan breek ek die deeg in balletjies en
rangskik die balletjies onder in die pot, dit laat die brood maklik breek as
dit gaar is.
Dan plaas ek die pot
op 5 houtskool brikette wat net mooi grys gebrand het, sit die deksel op en
plaas 5 meer brikette op die deksel, dan los ek die spul vir so 50 minute
voor ek loer en toets of dit gaar is. As die kors bietjie bleek lyk plaas ek
die deksel terug en sit nog brikette op vir so tien minute, dan behoort dit
reg te wees!
Bobaas bierbrood.
500 g koekmeel
5 ml sout
340 ml bier
1 pak bruin uiesop
Voorverhit die oond tot 180º C. Spuit ‘n broodpan met kleefwerende middel.
Sif die bruismeel en sout saam.
Voeg die bier by en meng goed. Skep in die bereide pan en bak sowat 1 uur
lank.
Laat afkoel en keer uit.
Variasies:
# Spekvleis-bier-brood:
250 g spekvleis, fyn gekap
1 groen rissie, grof gekap en gesoteer tot sag
1 ui, fyn gekap en gesoteer tot sag
# Mielie-bier-brood:
410 g heel pitmielies, gedreineer
100 g gerasperde kaas
# Knoffel-bier-potbrood:
9 vars gekneusde knoffelhuisies, fyn gedruk
50 ml pietersielie, fyn gekap
Voeg die variasies se bestanddele by die basiese resep en bak soos deur die
basiese resep beskryf.
Vetkoekies
375ml koekmeelblom
ongesif
afgemeet 15ml bakpoeier
10ml suiker 5ml sout
500ml gaar koue rys
410g (1 blik) geroomde suikermielies
125ml melk 1 eier
kookolie vir vlak braai
Sif die koekmeelblom, bakpoeier, suiker en sout saam. Vou die rys en
suikermielies in die gesifte bestanddele in. Klits die melk en eier saam tot
gemeng. Voeg dit by die meelmengsel en maak aan tot ‘n sagte deeg. Skep
eetlepelsvol deeg in matig warm kookolie. Braai die vetkoek eers aan die een
kant tot goudbruin: dit moenie te vinnig braai nie. Dreineer die gaar
vetkoeke op kombuispapier en sit warm voor.
Heerlik saam met stroop of
heuning.
Mieliebrood in 'n
potjie op die vuur
Bestanddele:
500g bruismeel
1/2 teelepel sout
1 koppie melk
2 eiers
1 blikkie geroomde suikermielies 410g
Bietjie pietersielie en paprika vir versiering
Metode
Vryf jou platboompotjie goed in met bietjie olie (deksel ook). Meng al die
bestandele saam en stoom dit stadig oor lae hitte (omtrent 'n uur). Dis ook
lekker om bietjie kaas, spek en gebraaide uie in te roer.
Potbroodwiele
Hierdie potbroodwiele word gemaak van gekoopte brooddeeg wat per kg by die
meeste winkels se bakkerye beskikbaar is:
1 kg brooddeeg
tamatiepuree na smaak OF blikkie tamatie-en-uiesmoor
1 pakkie bruinuiesoppoeier
knoffel
1 blikkie mossels OF weense worsies (in skyfies gesny) OF gebraaide
spekvleis
gerasperde cheddarkaas
250ml room
Rol deeg in reghoek en smeer tamatie oor. Sprinkel soppoeier en knoffel oor.
Versprei vleis van jou keuse (mossels of worsies of spek) en kaas oor en rol
dit op soos 'n rolkoek. Sny in skywe, plaas in gesmeerde oondpan, gooi room
oor en bak vir 45 min teen 180°C. Of plaas in swart platboompot en bak in
buite-oond (gat in grond met kole om of op 'n rooster met 'n omgekeerde
appelboks oorgetrek met foelie).
Nardus van der Merwe
Volgende keer as jy braai probeer gerus hierdie tameletjiebrood van
my:
1kg klaargekniede deeg (Koop sommer by die shoppie)
Koppie Karamelsuiker
Houer Room
Meng room en suiker en kook tot suiker gesmelt is.
Maak deeg in bolletjies en pak in swartpot.
Gooi gekookte sous bo-oor en laat stadig bak tot gaar.
Jy vreet jou vingers af.
Dalene Minnaar
Dalene se Kaas en Bier Potbrood
Meng sommer in 3-pootpotjie die volgende: 1 x 1kg pak broodmeelblom, 2 x
sakkies kits suurdeeg, sout, 1 groot eier, 1 eetlepel olyfolie en bietjie
knoffel, halwe koppie louwarm water en 1 botteltjie bier.
Meng alles goed en
deeglik saam. Roer dan gerasperde kaas in hierdie mengsel. Laat die potjie
op 'n warm plek rus vir so 'n halwe uur. Maak nou 'n behoorlike vuur in 'h
holte in die grond aangesien die potjie van alle kante af moet hitte kry.
Nou behoort jou potjie lekker klaar te gerys het en die kole al lekker mooi
warm. Krap nou die kole weg sodat daar net 'n paar koletjies rondom die pot
oorbly, maar dit moet nie direk aan die pot raak nie. Sit 'n paar kole nou
bo op die deksel, en dan kan jy maar die pot sy gang laat gaan vir minstens
'n halfuur. Na 'n halfuur kan jy maar loer of die potjie warm genoeg is en
nog kole bykrap indien daar kort. Nou vir die laaste halwe uur. Indien jy
wil kan nog gerasperde kaas bo-op gestrooi word vir nog 'n ekstra lekkerte.
Gooi die broodjie uit en smeer bietjie botter/margarien bo-op en geniet
sommer so warm met braaivleis.
Potbrood met
soutvulsel
Nog 'n vinnige potbrood van gekoopte brooddeeg:
1 kg brooddeeg
Kies uit die volgende vulsels:
1. Gebraaide ui (skyfies), gebraaide spekvleis (250g), 1 k gerasperde
cheddarkaas
2. 1 k gaar (bevrore) spinasie, 1 k fetakaasblokkies
3. gebraaide ui (skyfies), gebraaide sampioene (250g), 1 k gerasperde kaas
Sit helfte van brooddeeg (klaar gerys) in gesmeerde platboompot. Sit vulsel
in en bedek met orige deeg. Sit deksel op en bak vir 45 min - 1 uur in
buite-oond van jou keuse
Soet, sondige potbrood
HEERLIK!! Hierdie broodbolletjies kry 'n soetkorsie en dit maak selfs 'n
karamelstropie daaroor. Amper so lekker soos poeding, maar dit kan saam met
'n braaivleisie geëet word:
1 kg brooddeeg
1 k room
1 k bruinsuiker
Rol brooddeeg in balletjies en pak in gesmeerde platboompot. Meng room en
bruinsuiker en gooi oor. Sit deksel op en bak 1 uur in matige oond.
Bierbrood
Ek vind die bak van brood intimiderend en beskou diegene wat sulke goue
korsagtige wonders skep, as kunstenaars bo my vuurmaakplek. Hier is 'n
lekker een uit wyle Sannie Smit se boek Potjiekos-gunstelinge. (Brood word
natuurlik in 'n platboompot gebak.)
550 ml witbroodmeel
600 ml gebreekte koring
1 t sout
10 mg kitssuurdeeg
350 ml bier
6 t heuning
3 t gesmelte botter
100 ml lou water
Meng meel, koring, sout en suurdeeg in groot mengbak. Meng bier, heuning,
botter en water en voeg by meelmengsel. Roer tot deeg maklik hanteerbaar
word. Keer uit op meelbestrooide oppervlak en knie tot deeg glad is -- so 5
minute. Vorm deeg in bal, druk bokant effens plat en plaas in potjie wat aan
binnekant liggies met olie gesmeer is. Bestryk deeg en binnekant van deksel
met gesmelte botter. Bedek en sit pot in warm plek vir sowat 45 minute tot
deeg in volume verdubbel het. Plaas pot oor stadige kole en sit sommer 'n
paar kole bo-op deksel sodat jy hitte van daardie kant af ook het. Bak vir
45 tot 60 minute. Die brood moet hol klink as hy geklop word. Keer die
wonderwerk uit, en bedank Sannie vir die resep.
Adele Sherriff
Hi daar, dit is mieliebrood resep wat ek by my ma gekry het, ek het dit
altyd by die huis gebak, maar toe gaan kamp ons en ek probeer dit, en ja dit
is lekkerder om die kampvuur met lekker plaasbotter en korrelkonfyt...
Mieliebrood
Bestanddele:
500g bruismeel
1/2 teelepel sout
1 koppie melk
2 eiers
1 blikkie geroomde suikermielies 410g
Bietjie pietersielie en paprika vir versiering
1 koppie kaas (strooi bo-oor deegmengsel)
Metode
Smeer die platboom pot goed in met olie sowel as die deksel. Meng nou al die
bestanddele saam en gooi in swartboompot. Dit bak omtrent vir 1 uur oor lae
hitte, hou maar net dop.
Indien verkies kan 'n mens groen rissies, bacon, uie, of feta kaas meng voor
jy bak.
Elsabe van Zyl
Mieliebrood in 'n potjie op die vuur
Bestanddele:
500g bruismeel
1/2 teelepel sout
1 koppie melk
2 eiers
1 blikkie geroomde suikermielies 410g
Metode
Vryf jou platboompotjie goed in met bietjie olie (deksel ook). Meng al die
bestandele saam en stoom dit stadig oor lae hitte (omtrent 'n uur). Dis ook
lekker om bietjie kaas, spek en gebraaide uie in te roer.
Roosterkoeke
+/- 16
Sif volgende bestandele saam:
4k meel
5ml koeksoda
5ml kremetart
5ml sout
Vryf 50ml botter in
Maak aan met +/- 375 ml suurmelk tot ‘n skondeeg.
Rol in ‘n wors. Sny in skywe van 4cm dik en druk effens plat. Laat rys tot
dubbel die grootte. Verhit ‘n swaarboompan op medium hitte. Braai tot bruin
en gaar. Bedien met botter en konfyt.
Danie - Egafrikaans
Vetkoek in
Skottelbraai (Emily)
2 koppies koekmeel
40ml suiker
10ml bakpoeier
knippie sout
2ml gemengde speserye
2ml kaneel
1ml gemaalde naaltjies
2 ekstra groot eiers (geklits)
250ml kookwater
30g rosyne of korente
olie vir diepbraai
Sif droë bestanddele saam.
Klits eiers en meng met kookwater. Meng droë bestanddele geleidelik in
totdat gladde deeg verkry is.
Roer die rosyne by.
Verhit olie in die CADAC skottelbraai en braai 3 tot 4 lepelsvol beslag in
warm olie tot poffering en goudbruin. Draai om en braai anderkant ook
liggies.
Verwyder van olie en dreineer op kombuispapier. Bedien warm. (Lewer omtrent
15 vetkoekies)
Marlene Badenhorst
Ek het 'n heerlike resep vir roosterkoek.
1 kg bruismeel
125 ml margarine
125 ml strooisuiker
10 ml bakpoeier
Sout
425 ml melk
Meng al die droë bestanddele saam. Vryf die botter in met die vingers. Voeg
die melk by om 'n lekker deeg te vorm, sodat koekies gevorm kan word. Vorm
koekies en laat staan om te rys voordat op die vuur gebraai word.
Susan Varnfield
Ek dink 'Jaffles' sal ook baie lekker wees vir kampeerkos. Vulsels
met maalvleis, kerrievis, enige lekker vulsel wat oor die vuur gemaak kan
word met 'n jafflepan.
(Ons het nog 'n ou
jafflepan maar deesdae is die mos in 'n "snackwich" maker!- Peter)
Bettie Lourens
Ek het 'n maklik broodresep.
1pak Brooddeeg (die wat jy in die winkels koop)
250ml Bruinsuiker
250ml Room
Vorm groterige balletjies met die brooddeeg
Pak in swartpot
Strooi suiker oor
Gooi room oor
Bak soos 'n potbrood in 'n gat met kole bo-oor.
Susan
Potbrood
1. Plaas gesmeerde ysterpot in son om warm te word.
2. Sif saam: 6 kop. koekmeelblom
2 eetl. suiker
1½ teel. Sout
3. Voeg 1 pakkie kitsgis by.
4. Maak aan met 625 ml sterk louwarm water.
5. Knie tot goed gemeng.
6. Plaas in pot om te rys.
7. Bak 1 uur op vuur. Gooi bietjie kole ook op deksel.
Gebruik deeg ook vir vetkoek.
Stokbrood
1. Sif saam: 2 kop. koekmeelblom
2 teel. bakpoeier
2 teel. suiker
2 ml sout
2. Vryf 2 eetl. margarien in bg. mengsel.
3. Voeg: 1 geklitste eier
75 ml melk
5 eetl. water by bg. en meng tot ‘n stywe deeg.
4. Rol deeg uit: 20 mm x 350 mm
5. Rol om stok en verseël punte met water.
6. Maak gaar oor vuur.
|