| |
Marina
Botha
Ons het na so 2 weke in die wildtuin altyd baie lus begin word vir groente,
maar wou dit natuurlik op die vuur gaarmaak so ver moontlik. Ek het die
volgende twee resepte;
Kool in Tinfoil.
1 medium groote koolkop
125ml regte botter
1 houertjie room
Aromat
1 koppie kaas in skywe gesny
Verwyder die buitekantste blare. Sny die koolkop in skywe so 3cm uitmekaar
soos wat jy 'n knoffelbrood sal sny. Moenie deursny tot onder nie. Die
koolkop moet nog onder aanmekaar wees.
Sny die botter in skywe en pak in die gleuwe saam met die kaas
onderskeidelik. Sprinkel mildelik met Aromat, knoffelsout of enige ander
geurmiddel waarvan jy hou. Gebruik nou twee lang stukke swaar foelie en
plaas dit oormekaar in die vorm van 'n kruis. (Blink kant binne) Vou die
kool nou versigtig toe en maak seker daar is nerens 'n gaatjie nie. Los net
'n klein opening aan die bo-kant. Gooi nou die room by die opening in en
maak die kool deeglik toe. Dit is belangrik dat die kool baie goed
toegedraai is. Gebruik meer foelie indien nodig. Sit die koolkop nou in die
kole en bak so ongeveer 'n 1uur. Die kool sal heerlik sag wees en is 'n
treffer. Tot die kinders eet kool!
Vir variasie kan jy gebraaide spek en sampioene ook bysit. Heerlik
Groente Pot.
1 blik soetmielies
1 pakkie murgpampoentjies
1 gerasperde ui
sout en peper
4 eiers
1 koppie koekmeel
300 ml Melk
Meng die meel, eiers, melk, sout en peper om 'n dun beslag te maak. Sny die
murgpampoen in skyfies en meng dit saam met die mielies in die meelmengsel.
Smeer 'n platboom gietysterpot met 'n bietjie botter en giet die mengsel
daarin. Sit die pot tussen 'n paar kole en plaas ook 'n paar kole op die
deksel. Toets na 30min en bak langer indien nie mooi gaar.
Vir variasie kan jy enige groente wat jy het ook byvoeg. Gerasperde wortel,
gerasperde aartappel fyn gesnyde boontjies, groen rissie, patats ens. Dit is
heerlik.
Mariaan Wentzel
Dagsê, ons is ook baie lief vir kampeer en ek hou van afwisseling as dit by
kos kom, want om vir twee weke net braaivleis te eet, raak naderhand 'n
bietjie dik om te sluk. Ek mis veral my groente, en ek deel dan graag met
jou my idees vir groente as ons kamp.
Ek vat mielies (nie die blikkies nie, die op die stronk) en draai 'n repie
spek om hulle. Dan draai ek hulle toe in aluminium foelie en rooster dit
op die kole.
Partykeer vat ek sosatiestokkies en dan ryg ek klein uitjies, klein
aartappeltjies, sampioene, murgpampoentjies en patty pans op die stokkie.
Dis nogal lekker as jy hier ook so 'n repie spek omdraai, en dan weer in
die foelie, en op die rooster.
My kinders is ook mal oor die spinasie wat ek maak.
Braai die volgende saam in bietjie olie en 2 eetl. margarien, in 'n platboompot
2 groot uie (fyngesny)
2 pakkies sampioene (gekerf)
1 pakkie spek (fyngesny - opsioneel)
Skep uit en voeg 2 bossies spinasie (Fyngekerf en goed afgespoel) by die
olie wat in die pot is. Roerbraai tot die spinasie begin sag word.
Meng 1 houertjie room met 1 pakkie Potato Bake (sour cream & chives is nogal
lekker) en voeg dit by die spinasie.
Kook tot die begin verdik. (Jy kan ipv die room ook gewone melk gebruik,
veral as jy in die boendoes is, werk langlewe melk net so goed.)
Wat ek baie keer doen as ons gaan kamp, dan sny en braai ek klaar vooraf my
groen rissies en my sampioene, en dan sit ek dit in plastiese sakkies wat ek
dan "vacuum seal" en dan vries ek dit, en dan kan ek dit gebruik soos wat ek
dit nodig het, en as die groen rissies en die sampioene nou so klaar gekerf
van gebraai en verseël is, dan vat dit baie minder plek ook in die vrieskas
as wanneer jy die heel groente sou saampiekel.
Ons het al tot fondue gehou so rondom die kampvuur. En 'n lekker Chinese
braai is ook lekker. Ek kerf en blansjeer dan ook my groente klaar vooraf by
die huis en "vacuum seal", en vries dit.
Sharon du Plessis
Devil's Fork Sampioene
1 bottel Spur Bruin Braaisous, 1 pakkie of meer sampioene
Sit sampioene in ‘n bak. Gooi Spursous oor die sampioene. Marineer
sampioene ten minste 2 dae. Ryg sampioene in stokkies en braai oor matige
hitte. Terwyl sampioene braai verf van die sous mildelik oor.
Sharon du Plessis
Groentepakkies
Pak gemengde groentes in stukke bv. baby marrows, klein mielies, blomkool,
botterskorsiestukke, ens. op ‘n stukkie foelie. Meng margarien met neutmuskaat,
komyn, sout en peper en plaas klontjies bo-op die groente. Vou foelie stewig
toe om die groente en rooster die groente oor matige kole tot sag.
Groentegereg
1 pak gevriesde gemengde groente (kool, broccoli, boontjies en wortels)
1 houer vars room of suurroom
1 pakkie Patato Bake (Sour Cream & Chives)
Melk
Gerasperde kaas
Rooipeper
Verhit die oond tot 180°C - indien op vuur moet die vuur nie te warm wees
nie, aangesien dit langer neem om gaar te word. Kook groente tot amper sag
met kruie na smaak (ek gooi sout, peper en Robertson se Veggie Sprinkle en
bietjie knoffel in). Meng die room en Patato Bake en voeg melk by om dunner
te maak indien nodig (jy kan ook 'n bietjie kaassmeer byroer). Gooi groete
in oondvaste bak of bak wat jy op vuur kan plaas. Gooi vloeistof bo-oor.
Strooi gerasperde kaas en rooipeper oor en sit in oond of maak toe met
foelie en plaas eenkant op vuur. Groente is reg as die sous verdik het en
die kaas gesmelt is - toets groente - dit moet sag wees. Jy kan die oond
afdraai na 160°C indien die groente nie sag genoeg is nie
Cowboy pasta
Hierdie gereg kan binne 30 minute voorberei word en is ideaal as al die
vleis al op is.
• 2 kg Pasta
• 4 teelepels sout (vir pasta)
• 5 blikkies boeliebief (in klein blokkies gesny)
• 3 blikkies tamatie-en-uiesmoor
• 3 blikkies pitmielies of geroomde suikermielies
• 4 uie en groen rissie in repies gesny (opsioneel - braai apart in olie)
• sout, peper en ander smaakmiddels
Kook pasta gaar. Voeg alles daarby in en laat deurwarm word vir nog 15
minute. Bedien dadelik.
Ina
Groente bygereg vir braai
Neem 'n groot stuk foelie en sit vars groente van jou keuse, opgesny, in die
middel. (Uie, wortels, patats, kool......)
Gooi 'n koppie of twee wyn oor en kruie na smaak.
Vou toe en bak oor matige vuur vir sowat 30 min. - draai "pakkie" so twee
maal om gedurende hierdie tyd.
Groente kan net so voorgesit word, of vir variasie, maak die pakkie oop en
los aan kant van vuur, gooi 'n handvol gerasperde kaas bo-oor en bedien
sodra kaas gesmelt het.
Heerlik!
Danie - Egafrikaans
Soetpatatresep
3 groot patats (geskil en in dik skywe gesny)
3 x eetlepels botter
½ koppie suiker
½ koppie melk
½ koppie water
½ teelepel sout
½ teelepel koeksoda
2 teelepels suurlemoensap
1. Roerbraai botter en suiker tot karamel. Voeg melk, water, sout, kremetart
en suurlemoensap by (roer deur en oppas dat die mengsel nie oorkook nie).
2. Sit skywe patats in die sous en sit die deksel van die kastrol op. Draai
plaat laag en laat patats kook tot sag, maar steeds souserig. Bedien saam
met kerrievleis of hoender en natuurlik saam met snoek is dit heerlik!
Danie - Egafrikaans
Pampoenkoekies
(1923)
2 koppies fyn pampoen
1 eetlepel botter
half teelepel sout
kwart teelepel peper
geel van een eier
2 eetlepels meel
1. Bak, kook of stoom die pampoen tot gaar. Druk deur 'n sif. Gooi botter,
sout, peper en geel van 'n eier by.
2. Vorm klein frikkedelletjies, steek in eier en broodkrummels en braai in
vet.
Rene Laten
Pampoenreseppie
Botterskorsies
Patats
Baby Marrows
1 Pak bruin uiesoppoeier
1 Pakkie room
Skil pampoene en meng deurmekaar, gooi soppoeier bo-oor en meng deur.
Dan volg die room. Maak gaar tot pampoen sag is en sousie lekker dik is.
Gerda de Swardt
Bosveld warmpatat in foelie op die vuur
Bestanddele
Een klein tot medium patat per persoon
Tinfoil (Foelie)
Botter
Growwe peper / peperkorrels
Growwe sout / soutkorrels
Extra Virgin Olyfolie
Een suurlemoen
‘n Paar takkies vars tiemie
Voorbereiding
Was die patats skoon en droog af (hou die vel aan)
Neem ‘n vurk en steek so ‘n paar gate in die patats reg rondom
Plaas die patats elkeen op ‘n stuk foelie (blink kant na binne)
Drup so klein bietjie olyfolie op elke patat
Smeer so bietjie botter op elke patat
Sny die suurlemoen in die helfte en druk ‘n klein bietjie sap op elke patat
Meng die sout en peperkorrels en maal dit fyn – strooi op die patats
Plaas een takkie vars tiemie saam met die patat op die foelie
Draai die patats goed toe in die foelie – moenie dat die tiemie uitval nie,
want dit bring so ‘n lekker geurtjie en smakie daarby.
Gaarmaak
Steek jou vuurtjie aan die brand – onthou gebruik net lekker goeie hout vir
kole, soos Sekelbos, Mopanie of Rooibos. Los maar die Hardekool vir eers uit,
hierdie mooi bome van ons raak darem nou te skaars.
Jy het twee keuses. Jy kan die patats of op ‘n rooster op die vlamme sit, of
dit reg langs die vuur / kole sit. Baie mense verwoes patats of selfs
aartappels in foelie, as hulle dit onder by die vuur of kole sit, want hulle
laat die vel brand en dan is dit glad nie lekker nie.
My keuse is om die patats in foelie op ‘n rooster bo op die vlamme te sit –
so aan die buitekant van die rooster. Draai gereeld om met ‘n goeie
braaitang. Op hierdie manier reguleer jy die hitte beter. Jou kole sal
redelik gou reg wees en op die manier kan jy die wors dan ook bo op die
rooster sit, met die patats wat al amper gaar is aan die buitekant van die
rooster – sodoende bly die patats warm – en as jou wors gaar is, dan is jou
patats ook al klaar gaar en nog steeds warm gehou.
As jy die patats reg gaargemaak het, sal die vel ongeskonde wees en jou
patat deurgaar en lekker sag, geurig en smaaklik.
Fred en Eunanza
Farrell
My man was saam met 'n groepie mans in die Kalahari met werk en moes tussen
die duine kosmaak. Hy is nie juis 'n kok nie, maar die gereg was maklik en
lekker en soggens het hulle vuisgeslaan oor wie die opgewarmde oorskiet gaan
kry!
Kalahari Aartappel en Botterskorsiepot
6 - 8 aartappels, geskil in blokkies gesny
3 botterskorsies, geskil in blokkies gesny
Gooi saam in 'n swartpot en kook tot gaar in water met 'n knippie sout.
* Terwyl dit kook berei solank die volgende sous voor:
Meng: 1 lt melk
1 pakkie Wit uieroomsop
1 pakkie Potato bake (enige geur)
Gooi oorblywende water af en voeg die sous * by.
Strooi gerasperde kaas oor en laat prut oor lae hitte vir omtrent 20 minute.
Bedien met braaivleis!
WENK:
Werk jou spyskaart uit vir die tydperk wat jy op vakansie gaan wees.
Verpak elke maaltyd waar jy kaas gaan gebruik, klaar gerasper in 'n Ziploc
sakkie. Dit kan dan by die vleis in die vrieskassie gepak word.
So kan jy ook groente ens. in sulke sakkies verwerk en verpak, alles
bymekaar in die vrieskas
Susan Smith
Pampoengereg
Selfde hoeveelheid van volgende
Botterskorsies
Patats
Baby marrows¨
1 pak bruin uiesoppoeier
1 pakkie room
Metode:
Skil pampoene en meng deurmekaar, gooi soppoeier bo-oor en meng deur. Dan
volg die room. Maak toe met foelie en bak vir so 'n uur lank tot pampoene
sag is. Maak oop en bak nog 'n rukkie verder tot sousie lekker dik is.
Groenboontjiegereg by Braaivleis
'n Pakkie Groenbone (dun tipe)
4 - 6 huisies knoffel, fyn gesny of gerasper
1 middelslag ui, fyngekap
sout en peper na smaak
3 teelepels bruin asyn
3 teelepels olie
½ pakkie spek, fyngekap en bros gebraai
Amandelvlokkies, opsioneel vir garnering
Metode
Kook die boontjies ongeveer 15 minute tot NET sag. Spoel af met koue water
en dreineer baie goed. Meng die olie, asyn, sout en peper met die knoffel en
uie. Gooi oor die boontjies in 'n mooi plat glasbak. Roer die brosgebraaide
spek deur die bone en sprinkel amandelvlokkies (of enige ander neute) bo-oor
vir garnering. Laat staan oornag in yskas en bedien volgende dag. Heerlik.
Botterskorsie gebak met lemoensjerrie
500 g botterskorsie, geskil en in skywe gesny
45 ml lemoensap
15 ml sjerrie
45 ml bruinsuiker
30 ml botter of margarien
knypie fyn kaneel en knypie sout
Metode:
Rangskik die botterskorsieskywe in 'n vlak oondvaste bak. Sprinkel die
lemoensap, sjerrie en bruinsuiker eweredig oor. Stip met die botter of
margarien. Geur met kaneel en sout. Bedek met foelie (blink kant na binne)
en bak 'n uur lank in 'n voorverhitte oond by 180ºC Verwyder die foelie en
bak oop vir nog 20 minute tot effens bruin. Sit dadelik voor.
Marleen
Groentegereg
2 blikkies groenboontjies
2 blikkies aspersies
1 medium bottel smeerkaas
sout en peper na smaak
Gooi alles bymekaar en verhit op jou gassstoof of op die vuur. Makliker
kryjy nie en dit is regtig lekker!
|
|