Meksikaanse mengelslaai
Blaarslaai
2 Tamaties (in blokkies gesny)
seldery
1 koppie Kaasblokkies
1 blikkie 'Baked Beans'
1 klein pakkie Frito's
Meng saam in slaaibak.
Sous
1 k mayonnaise
1 k gewone yoghurt/maaskaas
Meng sous en gooi oor slaai.
Rysslaai
1 k rou rys (kook tot gaar)
½k rosyne
1 ui (fyn gekerf)
1 tamatie (in blokkies gesny)
½ groen rissie (fyn gesny)
1 klein blikkie perskeskywe
Laat rys afkoel en meng met res van bestanddele.
Sous
1 k mayonnaise
2 t kerriepoeier
1 e Chutney
Meng sousbestanddele en roer deur slaai.
Sweetcorn en
spekslaai
1 blikkie 'sweet corn'
100g gaar spek
½ groen rissie (fyn gekerf)
Kruie na smaak
Meng alles saam en sit voor.
Kerriepiesangslaai
6 piesangs
1 t kerrie
1 k mayonnaise
1 e konfyt
Sny piesangs in skyfies, meng sousbestanddele en gooi oor piesang.
Piesang en
pynappelslaai
4 piesangs
1 blik pynappelstukke (hou sap vir sous*)
Kook stroop:
1 t suiker
2 e mielieblom
1 t kerrie
sap *
Meng stroop met vrugte en laat afkoel.
Appel en
yoghurtslaai
3 appels
1 k joghurt
½ k grondbone & rosyne (of neute)
Sny appels in blokkies en meng met die res.
Baked beans slaai
1 blikkie baked beans
1 piesang
1 e mayonnaise
Meng alles saam.
Bone en
pynappelslaai
1 blikkie botterbone
1 blikkie pynappelstukke (hou sap vir sous*)
Kook sous:
50ml suiker
50ml asyn
25ml mielieblom
sous van pynappels *
Gooi sous oor en laat staan 1 uur.
Tropiese
groenteslaai
1 blikkie gemengde
groente (gedreineer)
1 blikkie pynappelstukke (hou sap vir sous*)
1 ui (fyn gesny)
gaar pasta (opsioneel)
Sous:
20ml sap *
50ml mayonnaise
Meng sousbestanddele en gooi oor slaai.
Stywepap en Krummelpap
Daar is vele menings oor hoe on stywe- of krummelpap te maak.
Mens kan mieliemeel ipv die braaipap gebruik wat hieronder genoem word. Ek
dink die resepte kom oorspronklik van die pakkies af waarin dit verkoop is.
STYWE PAP (4-6 porsies)
1 liter water (4 koppies)
5ml sout (1 teelepel)
500ml TRADISIONELE BRAAIPAP (2 koppies) (320g)
Gebruik 'n groot swaarboomkastrol en verhit water en sout tot kookpunt. Voeg
TRADISIONELE BRAAIPAP by. Roer deeglik met 'n houtlepel en plaas deksel op.
Verminder hitte en prut vir 40 minute. Roer 'n paar keer. Voeg 125ml (1/2
koppie) koue water by pap. Prut pap oor lae hitte vir 'n verdere 30 minute.
KRUMMELPAP (4-6 porsies)
500ml water (2 koppies)
5ml sout (1 teelepel)
750ml TRADISIONELE BRAAIPAP (3 koppies ) (480g)
Gebruik 'n medium swaarboomkastrol en verhit water en sout tot kookpunt.
Voeg TRADISIONELE BRAAIPAP by, plaas deksel op en prut vir 15-20 minute.
Roer met 'n vurk tot pap krummels gevorm het. Prut vir 20-30 minute. Roer 'n
paar keer.
Wanneer ons egter vir ons krummelpap maak, dan kook ons dit vir baie langer
as wat hulle hier bo voorstel. Ons glo die krummelpap moet stadig en baie
lank prut.
Roer die krummelpap vir die eerste keer nadat die meel 'n velletjie gevorm
het -- dis belangrik om nie te vroeg te roer nie. Hoe lank jy die pap ná die
roer laat prut, hang ook af van hoe groot jou krummels is. Ek vind dat 20
min. op 'n medium-lae gasvlam genoeg is, maar smaak verskil
(hehehe) en elke
kenner het sy manier
Ryspap
1 liter water.
500 ml. ( 2 k. ) gaar rys.
5
ml. ( 1 t. ) sout.
450 ml. mieliemeel.
60
ml. ( 1/4 k. ) botter of magarien.
Verhit die water, rys en sout saam tot kookpunt. Laat dit stadig prut en
roer die mieliemeel geleidelik by -dit vorm 'n slap pap. Laat dit 20 minute
lank stadig oor lae hitte prut tot deurgekook en gaar. Roer die botter of
magarien in en bedien warm saam met pangebraaide wors en warm tamatiesmoor.
Genoeg vir 5 - 6 mense.
Leona Lambrechts
'n
Vinnige aartappelresep is soos volg:
Neem
een aartappel per persoon.
Was aartappel en sny in dik snye.
Plaas elke aartappel op 'n laag tinfoelie, blink kant binne.
Plaas 'n paar snye ui, bietjie knoffel, sout & peper en 1 eetlepel botter op
elke aartappel.
Maak toe met foelie.
Plaas nog 'n laag swaar foelie om.
Plaas dit nou tussen die kole tot gaar.
Maak oop en besprinkel met gerasperde cheddarkaas.
Susan Varnfield
Slaaie
6 Piesangs in skyfies gesny
1 klein houertjie pynappel of grenadilla joghurt
Meng en bedien.
Maklike slaai
1 blikkie geroomde suikermielies
1 blikkie groenertjies, gedreineer
1 blikkie pynappelstukkies, gedreineer
Meng en bedien.
Sharon du Plessis
Heerlike pampoenslaai
1
botterskorsie, grof gerasper. Strooi 1 pakkie perskejellie net so oor (moenie
aanmaak). Net so ook baie lekker. Kan ook 1 blik gesnipperde pynappel
ingooi, sonder sous. Alternatiewelik, grenadillamoes.
Mielietert
·
2-liter baie dik kaassous
· 500g gerasperde cheddarkaas
· 500g gesnipperde spek
· 1 groot ui, fyn gesny
· 2 groot pakke kaas-en-uie Simba skyfies
· 3 blikke babamielies, gesny
· bietjie olie om spek en ui in te braai
Braai die spek tot lekker bros en soteer die ui. Maak die Simba skyfies fyn
en meng die ui in. Sny die babamielies in ronde wieletjies. Meng nou die
kaassous en al die ander bestanddele.
Skep in swartboom pot en bak by lou tot matig totdat tert gestol is. Garneer
met
sprietuie.
Trudie Maree
Ons is net so lief vir die bos en gaan so gereeld as wat ons kan.
Gewoontlik in 'n groep van so 6 mense. Almal in die groep vra altyd of ons
ongesonde pap gaan kry, so ek is altyd voorbereid.
Lekkerste
ongesonde pap
Maak mieliepap nie te styf nie, maar ook nie heeltemal slappap vir die
hoeveelheid mense wat honger is. Jy kan maar meer ook maak want koud is dit
net so lekker.
Die byvoegings is vir 'n pot vir so 6 mense.
As die pap gaar is meng 'n blikkie heel pit mielies by.
Meng 'n 250g knoffel botter blok by.
Roer alles deurmekaar.
Rasper 'n klomp kaas bo-oor. Sit die pot se deksel op en 'n paar kole bo-op
om die kaas te verbruin/smelt.
Jy kan ook gesnipperde gebraaide
spek,
sampioene
en uie byvoeg dan is dit
sommer 'n maaltyd op sy eie.
Mandie van der Merwe
Ons woon die afgelope 12 jaar in New Zealand maar is nog steeds ywerige
kampeerders. Jou idée vir ‘n resepteboek is uitstekend want ‘n mens bly by
dieselfde ding.
Ieder geval, hier is ‘n paar maklike resepte.
Blitsvinnige pastaslaai
TYD: 10 Min
Porsies: 2 as ‘n maaltyd
2 t olyfolie
½ rooi ui – fyngekap
100g spek, gekap
2e gekapte pietersielie of 1t gedroog
3k gekookte pastaskulpies (of wat ookal beskikbaar is)
¼ k wit asyn
1 klein blikkie “corn kernels”
Verhit olie en braai ui en spek vir 2min. Verwyder van hitte and voeg
pietersielie, pastaskulpies, asyn en mielies. Meng goed. Voeg sout en peper na smaak
by. Bedek en verkoel tot benodig.
Danie - Egafrikaans
Mieliepap In Mikrogolf (Flip)
3 koppies mieliemeel
1200 ml kookwater
2 teelepels bakpoeier
2 teelepels sout
4 eetlepels margarien of botter
Plaas mieliemeel in mikrogolfbak (omtrent 2,5 liter bak) en mikrogolf
onbedek op hoog vir 5 minute.
Voeg bakpoeier en sout by en meng deeglik.
Roer margarien by kookwater tot gesmelt.
Voeg kookwater met gesmelte margarien by mieliemeel en roer deeglik totdat
daar geen droë meel meer oorbly nie.
Mikrogolf met deksel op, op hoog vir 8 minute.
Haal uit en roer deeglik.
Plaas terug in mikrogolf met deksel op en mikrogolf vir 'n verdere 8 minute
op hoog.
Danie - Egafrikaans
Pampoenpoffertjies in Stroop (Annelise)
(Hierdie resep is baie lekker saam met enige tipe gekookte kos, en
braaivleis)
500 ml fyngemaakte pampoen
250 ml bruismeel
10 ml bakpoeier
2 ml sout
kookolie
15 ml botter
325 ml suiker
200 ml melk
40 ml mielieblom
175 ml koue water
kaneel
Meng
pampoen, bruismeel, bakpoeier, sout en eier deeglik. Skep teelepels in warm
kookolie. Braai goudbruin en gaar.
Dreineer
op bruinpapier en skep op opdienskottel. Verhit botter, suiker en melk tot
kookpunt.
Los
mielieblom in water op en roer in 'n straaltjie by melkmengsel. Verhit tot
kookpunt en skep oor koekies. Dien warm op.
Danie - Egafrikaans
Polonie-vetkoekies (Amanda Viljoen)
2 koppie meelblom
1 teel sout
1/2 teelepel peper
1 eier
1 koppie melk
1 koppie gerasperde knoffelpolonie
Sif die droë bestanddele saam en voeg die geklitste eier en melk by.
Voeg die polonie by en meng deeglik.
Skep lepelsvol in warm vlak olie en braai bruin aan albei kante.
Danie - Egafrikaans
Stampkoringslaai (Annatjie)
250 ml stampkoring
1 x 410 g blik perskeskywe
1 soetrissie
2 ml mosterdpoeier
125 ml mayonnaise
sout
peper
1 kookappel
1 uitjie
Kook stampkoring sowat 45 min of tot sag - gooi in vergiettes en spoel met
koue water af. Laat goed dreineer
Meng mayonnaise en mosterd. Kap ui - sny appel in dobbelsteentjies en
ontpit - sny soetrissies in repe
Dreineer perskes en sny kleiner. Plaas alle bestanddele in slaaibak. Geur
met sout en peper en meng met twee vurke.
Bernadet Botes
Noedels en room
1 ui
1 pakkie spek
1 Groen en rooi
rissie
Bietjie olie
Gemengde kruie
1 bakkie room
Braai
alles behalwe die room saam tot gaar. Gooi die room by en laat ‘n bietjie
kook to die room dik word.
Eet saam met
noedels.
Nonnie Erasmus
Tunapoffertjies
1 blik tuna (gedreineer)
sout
peper
2 eiers (geklits)
5ml suurlemoensap
12,5ml pietersielie(gekap)
5ml bakpoeier
120ml meelblom
30ml melk
paprika
olie om in te braai
Vlok tuna en voeg oorblywende bestandele, behalwe olie en paprika by. Skep
opgehoopte teelepels vol van mengsel in warm olie en braai tot goudbruin.
Dreineer poffertjies en besprinkel met paprika. Dien warm op.
Nonnie Erasmus
Mieliepappoffertjies
250ml slap mieliepap, berei van
80ml mieliemeel
250ml meelblom
sout en peper
15ml bakpoeier
2ml mosterdpoeier
250ml gerasperde Cheddarkaas
knypie rooipeper
4 repies swoerdlose spekvleis gekap
1 eier geklop
of 2 russiese worsies
1 ui gerasper
Om te braai: 20ml olie
Om te sprinkel: 20ml braaivleisspeserye
Meng al die bestanddele in ‘n groot mengbak. Verhit olie in ‘n groot pan,
braai teelepels vol van die mengsel op ‘n slag tot goudbruin. Dreineer op
kombuispapier, sprinkel speserye oor.
Sit warm voor.
Nonnie Erasmus
Gegeurde piesangpoffers
6 piesangs meelblom, gemeng met kruie en speserye
suurlemoensap van jou keuse
geklitse eier droë broodkrummels
olie
Skil piesangs, sprinkel met suurlemoensap, rol in meelblom, dan in eiers en
laastens in droë broodkrummels.
Braai in warm olie totdat dit rondom goudbruin is.
Soet/sout slaai
1 x blikkie roommielies
1 x blikkie ingelegde perskes
1 x blikkie pynappelstukkies
1 medium tot groot ui
Kaas in blokkies gesny soos verlang
bietjie Knoffel en kruiesous (sommer so klaar gekoop in die bottel) na
smaak.
Dreineer die sap van die perskes en pynappel. Sny dan die perskes in
kleiner stukkies. Meng alles saam en voeg die sous by soos na smaak. Mens
kan dit seker afwissel met 'n bietjie kerrie vir 'n byt; hoe langer die
mengsel lê, hoe lekkerder!
'Crabstick' Slaai
1 x pakkie 'Crabsticks'
1 x groen rissie
1 x rooi rissie
1 x geel rissie
1 medium tot groot ui
Mayonnaise
Ontvries die 'crabsticks', sny in ringetjies, sny al die pepers fyn nadat
dit ontpit is, sny die ui fyn en meng alles saam met die mayonnaise.
HEEEEERLIK!
Dadelkluitjies
Stroop :
500 ml suiker
1 liter water
30 ml (2 eetlepels botter)
30 ml (2 eetlepels gouestroop)
2 ml (halwe teelepel) sout
Kluitjies
500 ml koekmeelblom
15 ml (1 eetlepel) koeksoda
2 ml (halwe teelepel) fyn kaneel
30 ml (2 eetlepels) botter
125 ml (halwe koppie) fyn gesnipperde dadels
250 ml (1 koppie) melk
Meng al die bestanddele vir die stroop saam in 'n stoompot. Roer oor lae
hitte tot die suiker opgelos is. Kook dan vyf minute lank.
Meng koekmeelblom, koeksoda en kaneel saam. Vryf botter in en voeg die
dadels by. Meng goed deur. Voeg die melk stadig by terwyl aanhoudend geroer
word.
Laat stroop weer kook en skep lepels van die kluitjiemengsel in die kokende
stroop. Verlaag hitte (dit moet baie stadig prut anders kook dit oor) en
prut 20 minute lank. Moenie die deksel oplig nie. Dien op saam met vla, room
or roomys.
Genoeg vir 6-8 mense.
Danie - Egafrikaans
Nuwe slaai
Ek het sopas 'n slaai aanmekaar geslaan wat skrik vir niks en moet dit eers
met julle deel.
Ek het twee appels geskil, ontpit en in blokkies gesny. Daarby het ek 'n
halwe komkommer in dieselfde grootte blokkies gesny. 'n Blikkie ertjies
bygevoeg en seker so drie eetlepels mayonnaise - die tipe wat nie te suur is
nie. Dit lyk vir my na genoeg slaai vir so vier of vyf mense
Dit lyk na vreeslik baie moeite maar is vreeslik lekker. Ek het dit ook nog
nie voorheen iewers raakgeloop nie.
Danie - Egafrikaans
Soetsuur-doopsous
1 blikkie kondensmelk
Mayonnaise (dieselfde hoeveelheid as die kondensmelk)
gerasperde kaas
gesnipperde suuruitjies (groen of rooi lyk mooi saam met kaas)
1. Meng alles saam en laat staan 'n rukkie sodat die smake kan meng.
2. Bedien saam met Simba/Willard skyfies.
Danie - Egafrikaans
Bruinrysslaai
4 kop gekookte bruinrys
6 gekapte salotte
l klein gekapte rooi soetrissie
1/3 kop sultanas
60 g geroosterde neute (eie keuse)
2 eetlepels sonneblomsaad
Gekapte pietersielie (opsioneel)
1. Meng alle bestanddele
2. Giet volgende mengsel oor bogenoemde en roer deur:
1/4 koppie olyfolie
3 eetlepels sojasous
2 eetlepels suurlemoensap
1 fyngekapte knoffelhuisie
Danie - Egafrikaans
Mosterdsous
250 ml wit suiker
25 ml mosterdpoeier
12,5 ml koekmeelblom
1 ml sout
125 ml asyn
125 ml water
2 groot eiers
1. Meng suiker, mosterdpoeier, koekmeelblom en sout in diep bak.
2. Voeg asyn en water by en meng - mikrogolf vir 4 min by 100% krag. Roer na
2 min.
3. Klits die eiers, klits nou bietjie van kokende sous by eiers, voeg res
van die eiermengsel by kokende sous en roer goed. Mikrogolf 3 min by 50%
krag en roer elke minuut.
Andre
Steenkamp
Kwaai sous
Die resep het ek by ‘n vriendin Magdaleen gekry. Dit is baie lekker en is
great oor braaivleis of selfs aartappels opgekook in hul vel. Nie vir enige
een op ‘n dieët nie!
Betanddele:
Bietjie olie
2 Uie (Gekap)
1 Pakkie Brown Onion Sop
100ml Melk
500ml Room
Metode:
Braai die Uie stadig in die olie tot lekker bruin.
Meng die sop met die melk tot al die sop opgelos is.
Gooi die sopmengsel en room by die uie en prut vir meer as ‘n half uur.
Roer gereeld.
EET MET
Baie lekker as ‘n sous oor Braaivleis of oor “Jacketed Potatoes”
(Nie sommer oor altwee saam nie. “Can be too much”)
Gerda de Swardt
Maklike slaai
Hierdie is genoeg vir twee mense - pas maar die bestanddele aan as daar meer
mense is wat gaan eet.
Bestanddele
‘n Paar vars slaaiblare
Een groot tamatie
Een groot groen murgpampoentjie (baby marrow)
‘n Handvol olywe sonder pitte
‘n Klein blikkie aspersie stukke of ‘n halwe groot blikkie
‘n Paar stukkies fetakaas in blokkies gesny
‘n Paar knopie-sampioene sampioene (button mushrooms)
Een vars suurlemoen
Swart peper – die korrels
Gemaalde sout
Metode
Was alles goed in koue water (behalwe natuurlik die swart peper en die
suurlemoen) met bietjie sout daarby
Sny alles op in eetbare stukkies en meng dit goed
Sny die suurlemoen in die helfte en bedrup die slaai goed
Strooi ‘n knippie sout op die slaai – nie te veel nie
Laastens strooi die vars gemaalde swartpeper daarop
Moenie dit nou gaan beduiwel met allerhande olies of ander dinge nie. Dis
gesond net so. Geniet die slaaitjie soos ek gesê het saam met ‘n paar
stukkies gekerfde biltong (eenkant gehou nie saam met die slaai gemeng nie)
en geniet veral, op daardie warm dae, die lekker koue Duitse bruisdrankie
daarby!!
Gerda de Swardt
Spekrolletjies voorgereg
Bestanddele
Gewone wit sampioene
Ontbytspek – verkieslik goeie rugspek met bietjie vet aan wat lekker hard en
krakerig gebraai word - of min vet nes jy wil na jou eie keuse
Tandestokkies (Toothpicks)
Voorbereiding
Neem die wit sampioene en was dit in soutwater – droog af
As die sampioene te groot is, sny hulle in die helfte anders word hulle dalk
nie heeltemaal gaar nie
Sny die spek in die lengte in die helfte deur
Draai nou die repe spek om die sampioene – een of twee per sampioen en steek
vas met die tandestokkies deur die sampioen
Gaarmaak en eet
Neem hierdie spekrolletjies en braai hulle op die kole. Dit moet so ‘n
entjie bo die kole gebraai word – nie te warm nie, maar warm genoeg sodat
die spek lekker krakerig kan word. Terwyl hulle braai, gooi sommer so
bietjie braaisout of seesout op na smaak. Jy sal sommer sien wanneer hulle
gaar is. Wanneer jy hulle afhaal, laat dit eers so ‘n bietjie afkoel want
dis baie warm en jy kan jou mond lelik verbrand as jy te haastig is om te
eet. As die Spekrolletjies so bietjie afgekoel het kan jy maar begin smul
daaraan. Daar’s hy – so eenvoudig soos dit.
Jy kan natuurlik presies dieselfde resep volg deur van daardie rooi
gebottelde kersies (sonder pitte natuurlik), of pruimedante (ook natuurlik
sonder pitte) te gebruik, in plaas van die sampioen. Jy draai ook die spek
om dit en steek vas met die tandestokkie. ‘n Goeie idee is om ‘n klompie van
elk te maak sodat daar ‘n bietjie van ‘n verskeidenheid is in die voorgereg.
Maak net genoeg want dis baie lekker!!!
Onthou nou net om daardie koue enetjie van jou op te top en sommer daarmee
almal anders s’n ook, voor jy die Spekrolletjies op die kole sit.
Terwyl so ‘n klomp van ons nou die aand gebraai het, vat my ou vriend Dikkes
twee groot spekrolletjies, prop hulle in sy mond in, kou so bietjie, neem ‘n
groot sluk van sy yskoue bier en sê: “Ai man, hoekom het jou niggie nie al
lankal vir jou hierdie resep gegee nie? Dis so lekker, ek drink sommer al
jou bier uit vanaand.”
Gerda de Swardt
Koning sampioen met 'n lekker roomkaasmengsel
Met ‘n lekker koue drankie in die hand langs 'n gesellige vuurtjie, eet jy
hierdie kampioen sampioen.
Bestanddele
Groot sampioene - Afhangende van hoeveel mense daar is, soveel sampioene
moet jy gebruik, want ek praat nou hier van daardie groot bruin sampioene
wat by die meeste supermarkte of party groentewinkels gekoop kan word. Die
sampioene is elk omtrent so groot soos ‘n piering en een sampioen per
persoon is oorgenoeg. As jy nie die heel groottes kan kry nie gebruik dan
die kleiner bruin sampioene, maar dan moet jy omtrent twee of drie per
persoon voorberei.
Vars tiemie – so ‘n handvol
Vars Pietersielie
Growwe seesout
Heel gemengde peperkorrels
‘n Houertjie gladde maaskaas met kruie (“cottage cheese”) of
vir ‘n ander geur bietjie roomkaas of “cream cheese”
‘n Houertjie Fetakaas
‘n Blokkie Cheddarkaas
Botter – sowat twee eetlepels botter
Een eetlepel meelblom – of meer afhangende van die hoeveelheid sampioene
‘n Lekker ou kampvuur
Rooster of plaat
Foelie (Tinfoil)
Voorbereiding
Jy moet natuurlik eers jou vuur aan die gang kry sodat dit solank ‘n paar
kooltjies kan maak - gebruik natuurlik goeie hout soos bv, sekelbos of
mopanie. Sodra die vuur lekker brand en almal met ‘n lekker koue een in die
hand sit begin met die voorbereiding.
Was die sampioene goed af in koue soutwater en spoel dan af in lopende koue
water.
Droog die sampioene dan af met papiervadoeke of iets dergeliks. Laat staan
vir sowat twee minute.
Neem ‘n mengbak en gooi die maaskaas of roomkaas daarin
Druk die fetakaas baie fyn en gooi dit by die maaskaas
Rasper so bietjie cheddarkaas en gooi dit ook by die maaskaas
Voeg bietjie pietersielie en tiemie by
Voeg die botter by
Voeg die meelblom by
Maal of stamp die peper en sout fyn en gooi dit in die mengsel
Neem ‘n vurk en meng nou die bestanddele baie goed sodat daar nie klonte in
is nie
Smeer nou die boonste gedeeltes van die sampioene mooi dik en vol met die
mengsel
Gaarmaak op die kole
Sodra daar so paar kole is, krap ‘n bietjie uit die vuur en plaas ‘n rooster
of plaat so medium hoogte daarop – die kole moenie te warm wees nie.
Indien jy die rooster gebruik – trek dit eers oor met foelie (”tinfoil”)
Gooi botter op die tinfoil of op die plaat indien jy ‘n plaat gebruik
Plaas die sampioene op die foelie of plaat en wag
Hou die sampioene goed dop en sodra die kaasmengsel mooi gesmelt het haal af
met ‘n plat skep-instrument soos ‘n eierspaan of ”egglifter”
Plaas elke sampioen op ‘n bord en bied aan
Lek jou lippe af en eet
Onthou die sampioene is groot, so sny dit miskien in die helfte of in kwarte
sodat ‘n mens dit lekker met die hande kan eet, of bedien dit heel op ‘n
bord sodat die mense dit self kan sny met mes en vurk
Gerda de Swardt
Broodslaai
sny brood in dik snye en dan in blokkies
sny kaas van jou keuse in blokkies
gebraaide spekvleis in stukkies gekap
gelyke hoeveelhede kondensmelk & mayonnaise
olie vir diepbraai
gebraaide sampioenstukkies (opsioneel)
Diepbraai broodblokkies in olie tot bruin. Dreineer en laat afkoel. Voeg die
res van die bestanddele by die mayonnaise mengsel ‘n halfuur voor opdiening
by.
Hoenderslaai met mango en gemmermayonnaise
6 hoenderborsie filette
250ml wit wyn
250ml hoenderaftreksel
2ml swartpeperkorrels
3 lourierblare
bossie gemengde kruie
2 selderystingels, gekap
45ml pietersielie, gekap
3 groot mango's, geskil en gesny.
Gemmermayonnaise
200ml mayonnaise
200ml suurroom
1 suurlemoenskil, gerasper
30ml suurlemoensap;
10ml heuning
1 stukkie gemmerwortel, geskil en gerasper
sout en peper na smaak.
Meng alle mayonnaise bestanddele saam, geur en verkoel.
Kook hoender liggies gaar in wyn en hoenderaftreksel, asook met kruie,
peperkorrels en lourier blare. Sodra gaar, sny in stukkies. Meng gaar
hoender met seldery, pietersielie en mango skyfies. Meng met gemmermayonnaise.
Lensie-en-rysslaai
200 g lensies
200 g ongepoleerde rys
1 middelslag ui, geskil en fyngekap
1 knoffelhuisie gekneus
200 ml fyngekapte pietersielie
sout en peper na smaak
175 ml lae-vet slaai-olie
75 ml asyn of suurlemoensap
Gooi lensies en rys saam in 'n bak en bedek dit met koue water. Laat dit
sowat 2 uur week. Spoel in 'n sif onder lopende water af en plaas in 'n
kastrol. Voeg koue water en sout na smaak by en kook dit sowat 20 minute tot
sag maar nie pap nie. Dreineer in 'n vergiettes. Gooi in slaaibak. Voeg uie,
knoffel, pietersielie sout en peper by en meng. Meng slaai-olie en asyn of
suurlemoensap en gooi oor.
Biltongslaai
Slaaisous:
60 ml balsemiek-asyn
125 ml olyfolie
1 knoffelhuisie, gekneus
5 ml suiker of na smaak
5 ml Dijon-mosterd
1 stingel sprietui, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper
Slaai:
250 g klam, baie dun gekerfde biltong
375ml gerasperde cheddarkaas
'n verskeidenheid blaarslaai om die slaai op te rangskik
3 agurkies, gekap
2 hardgekookte eiers, in skyfies gesny
2 ryp avokado’s, in blokkies,besprinkel met suurlemoensap
Plaas al die bestanddele vir die slaaisous in 'n skroefdekselbottel en skud
goed. Hou in die yskas tot benodig. Plaas die biltong en kaas in 'n bak en
voeg genoeg van die slaaisous by om dit goed klam te maak. Bedek en marineer
ten minste 'n uur (of selfs tot 'n dag lank) in die yskas. Rangskik die
blaarslaai op 'n mooi groot plat slaaibord en pak die slaaibestanddele bo-op.
Besprinkel liggies met van die slaaisous. Skep die gemarineerde
biltongmengsel bo-op en sit die oorblywende slaaisous apart in 'n klein
bekertjie voor. Sit dadelik voor.
Bros aartappelskilslaai
8 aartappels se skille
15ml olie
200g gekapte spekvleis
blaarslaai
100ml gekapte haselneute
60g fetakaas, in blokkies gesny
2 rooi, ongeskilde appels, in blokkies
Skrop aartappels onder koue, lopende water. Druk droog. Skil aartappels in
eweredige repe en braai in verhitte olie tot goudbruin en bros. Braai
spekvleis tot bruin en bros en dreineer. Voer ‘n slaaibak uit met slaaiblare.
Meng neute, kaas, appel, spekvleis en aartappelskille liggies. Plaas in
slaaibak en verkoel.
Lewer 4 porsies.
Maklike uieslaai
500-750g skoongemaakte uitjies
100ml kondensmelk
5ml mosterdpoeier
100ml tamatiesous
100ml witasyn
Kook die uitjies in soutwater tot sag en dreineer. Laat koud word. Meng
kondensmelk en mosterdpoeier. Klop tamatiesous en asyn by en meng goed.
Plaas uitjies in ‘n slaai bak en gooi die sous bo-oor.
Lewer 4-6 porsies
Avokado en maaskaasslaai
2 avokado’s
150ml korrelrige maaskaas
2 pynappelringe, in die helfte gesny
slaaiblare
2 hardgekookte eiers
Halveer en ontpit die avokado’s
Skep gelyke hoeveelhede maaskaas in die avokadohelftes.
Plaas ‘n halwe pynappelring bo-op elkeen.
Plaas die avokado helftes bo-op slaaiblare en garneer met eierskywe.
Eierslaai
1 slaaikop, fyn gekerf
8 eiers, hardgekook
sout en vars gemaalde swartpeper
250ml natuurlike jogurt
50ml mayonnaise
45ml blatjang
5ml suurlemoensap
1 klein ui, in ringe gesny
fyn gekapte pietersielie
Rangskik die slaaiblare op ‘n mooi opdienbord. Sny die eiers in kwarte en
rangskik bo-op. Geur goed met sout en peper. Meng die res van die
bestanddele behalwe die pietersielie en ui en giet oor die eiers en
slaaiblare. Rangskik uieringe bo-op en strooi pietersielie oor.
Lewer 6 porsies.
Warm kaas en artappelslaai
4 groot aartappels
120g Zoetvlei kaas, in blokkies gesny
2 repe spekvleis, gebraai & gekap
125ml Franse slaaisous
gekapte grasuie
Kook aartappels in kookwater tot sag. Trek skil af en sny in blokkies. Plaas
in opdienbak. Voeg kaasblokkies by en meng. Sprinkel spekvleis oor. Verhit
slaaisous maar moenie kook nie. Giet oor slaai, sprinkel grasuie oor en dien
dadelik op.
Ina
Snyman
Kerrie noedelslaai
Bestanddele:
1 pak noedels
1 groen rissie
2 uie
125ml olie
125ml asyn
200ml suiker
250ml tamatiesous
25ml kerriepoeier (matig)
Swart peper en sout na smaak
Metode:
Kook noedels
Braai groen rissie en uie saam
Kook ander bestandele saam
Meng alles saam
Dis 'n heerlike slaai!
Gerbrecht van der Vyver
Soetpap
Stywe Mieliepap
1 blik Kondensmelk
1 blik Suikermielies
1 blik Pitmielies
Maak 'n groot pot stywe pap, genoeg vir 6 * 8 mense. Wanneer dit gaar is,
voeg die res van die bestanddele by en roer deeglik
Susan Smith
Spek-en-eier-spaghetti
200 g spaghetti
sout
250 g spekvleis
4 eiers
75 g gerasperde cheddar (¾ k)
growwe swartpeper
Metode:
Kook spaghetti tot sag. Spoel af onder lopende koue water. Snipper spekvleis
en braai tot gaar. Voeg spaghetti by, met spekvleis en verhit stadig tot
goed warm. Klits eiers en voeg die kaas by. Roer die eiermengsel by
spaghetti. Verhit stadig totdat eiers romerig gaar is en kaas gesmelt het en
roer af en toe. Geur na smaak met sout en swartpeper en sit dadelik voor.
Kerrie eiers
Braai 2 middelmatige uie in 2 eetlepels vet/olie tot bruin en geurig.
Skep uit en sit eenkant.
Neem 'n kastrol, sit daarin:
3 eetlepels koekmeelblom
1 eetlepel botter
1 teelepel borrie
half teelepel kerrie
knippie sout
Metode:
Laat dit smelt en meng goed. Roer gedurig. Voeg by 2 koppies water en klits.
Laat dit kookpunt bereik en voeg 2-3 eetlepels suiker en half koppie asyn
by. Voeg gebraaide uie by, en 'n halwe na 1 koppie gerasperde kaas. Gooi
sous oor eiers en laat staan vir 'n half uur.
Aartappelkaaskoekies
3
aartappels, geskil
1 ui
1 eier, geklits
30 ml koekmeelblom
sout en peper na smaak
5 ml bakpoeier
125 ml gerasperde Cheddarkaas
10 ml gekapte pietersielie
olie om in te braai
Metode:
Rasper die aartappel en ui saam. Roer die eier, koekmeelblom, sout, peper en
bakpoeier by. Roer die kaas en pietersielie by. Skep lepelsvol van die
mengsel in vlak, warm olie en braai dit tot goudbruin aan albei kante.
Dreineer dit op kombuispapier.
Mieliebrood (mikrogolf)
4 eiers
knippie sout
125 ml melk
1 blik (410 g) suikermielies
125 ml suiker
1 blik (410 g) pitmielies (ops)
250 ml mieliemeel
30 ml kookolie
25 ml koekmeelblom
paprika
7 ml bakpoeier
Metode:
Klits eiers, melk & suiker saam. Sif droë bestanddele saam op eiermengsel.
Meng. Voeg mielies & olie by en meng. Smeer ‘n 28 cm broodpan. Gooi mengsel
in & strooi paprika bo-oor. Plaas pan op ‘n omgekeerde piering in
mikrogolfoond. Mikrogolf broodjie 12-15 min op 100% krag. Laat staan 10 min
voor uitgekeer word.
Piesang-en-Kaasbroodjie (Mikrogolf)
1 Franse brood, sny in skyfies.
Smeer Marmite op.
Sny piesangs in skyfies en sit bo-op.
Rasper kaas bo-oor en mikrogolf tot gesmelt.
Fyn Vetkoekies
2 eiers
ongeveer 250 ml melk
350 g bruismeel (2½ k)
30 ml suiker (2 e)
2 ml sout
sonneblomolie vir vlak braai
Metode:
Klits eiers en vul dit met melk aan tot 1½k. Sit die bruismeel, suiker en
sout saam. Voeg die vloeistof by en meng totdat ‘n gladde beslag gevorm het.
Skep dessertlepels vol beslag in matige warm, 2 cm diep sonneblomolie in ‘n
braaipan en braai dit eers aan die en kant tot goudbruin en daarna aand die
ander kant. Dreineer op papierhanddoek.
Mieliepap In Mikrogolf
3 koppies mieliemeel
1200 ml kookwater
2 teelepels bakpoeier
2 teelepels sout
4 eetlepels margarien of botter
Metode:
Plaas mieliemeel in mikrogolfbak (omtrent 2,5 liter bak) en mikrogolf
onbedek op hoog vir 5 minute. Voeg bakpoeier en sout by en meng deeglik.
Roer margarien by kookwater tot gesmelt. Voeg kookwater met gesmelte
margarien by mieliemeel en roer deeglik totdat daar geen droë meel meer
oorbly nie. Mikrogolf met deksel op, op hoog vir 8 minute. Haal uit en roer
deeglik. Plaas terug in mikrogolf met deksel op en mikrogolf vir 'n verdere
8 minute op hoog.
Heerlike voorgereggie vir braaivleis
Pynappelwiggies
Russians in skuins skywe gesny
Agurkies skuins gesny
Metode:
Marineer alles vir 'n paar uur in pynappelsous. Ryg op sosatiestokkies en
braai vir so 5 minute.
Suikermieliepoffers
250 ml koekmeelblom
10 ml bakpoeier
5 ml sout
1 ml rooipeper of matige kerriepoeier
30 ml margarien(gesmelt)
2 eiers (geskei)
5 ml ui (gerasper)
300 ml Cheddarkaas(gerasper)
420 g geroomde suikermielies
olie vir vlakbraai
Metode:
Sif die droë bestanddele saam. Voeg die margarien by. Klop die eiergele en
voeg dit by die koekmeelblommengsel. Vermeng dit goed. Voeg die ui, kaas en
suikermielies by en meng dit deeglik. Vou die styf geklitste eierwitte in.
Skep teelepelsvol van die beslag in warm olie en bak dit tot goudbruin.
Dreineer dit goed.
Lemoenpoffers
1 koppie suiker
750ml koekmeelblom
15ml bakpoeier
2.5ml koeksoda
knippie sout
3 eiers, geklop
15ml olie
250ml lemoensap
15ml gerasperde lemoenskil
kaneelsuiker
Metode:
Sif suiker, meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam. Klop eiers, olie,
lemoensap en -skil saam. Voeg by die meelmengsel en maak 'n beslag. Verhit
olie tot warm en skep teelepels vol in warm olie. Braai tot goudbruin aan
albei kante en gaar. Dreineer op kombuispapier. Plaas kaneelsuiker kardoes
of plastiek sak. Plaas poffertjies daarin en skud goed totdat alles bedek
is. Sit dadelik voor.
Mieliepap poffertjies
250ml slap mieliepap, berei van 80ml mieliemeel
250ml meelblom
sout en peper
15ml bakpoeier
2ml mosterdpoeier
250ml gerasperde Cheddarkaas
knypie rooipeper
4 repies swoerdlose spekvleis gekap of 2 Russiese worsies
1 eier geklop
1 ui gerasper
Om te braai: 20ml olie
Om te sprinkel: 20ml braaivleisspeserye
Metode:
Meng al die bestanddele in ‘n groot mengbak. Verhit olie in ‘n groot pan,
braai teelepels vol van die mengsel op ‘n slag tot goudbruin. Dreineer op
kombuispapier, sprinkel speserye oor. Sit warm voor.
Lekka ywe sonder trane
4 groot uie
botter
Vulsel
4 repe spek
250 ml gekookte wit- of bruinrys
30 ml hoenderaftreksel
5 ml pietersielie
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Metode:
Kook die uie in water vir sowat vyf minute tot sag. Haal die uie se
binnedeel uit, maar los 'n redelike buitenste dop. Kap die binnedeel van die
uie fyn en meng dit saam met die res van die vulselbestanddele. Verdeel die
vulsel tussen die uie en stip elkeen met botter. Smeer die blinkkant van
twee lae tinfoelie met olie en draai die uie daarin toe. Braai oor medium
kole aan die kant van die vuur vir sowat 20 - 25 minute. Dien warm op.
Susan Smith
Monkey Gland-sous
1½ k vrugteblatjang
½ k tamatiesous
½ k worcesterous
½ k soetwyn
4 e suiker
¼ t knoffelvlokkies
Metode:
Meng al die bestanddele en verhit dit stadig tot kookpunt. Sit dit warm of
koud voor.
Braaisous (vir braaivleis)
200 ml olie
100 ml suurlemoensap
100 ml sojasous (met soet basis)
30 ml (2e) geuropwekker soos Aromat
10 ml (2t) geuropwekker soos Zeal
20 ml (4t) braaispeserye
20 ml (4t) paprika
Metode:
Skud al die bestanddele vir die braaisous saam in 'n fles en verf oor die
varkfilette terwyl gebraai word.
Yoghurt Marinade Vir Hoender
600 ml Joghurt (enige geur)
1 medium ui - fyn gekap
1 huisie knoffel - gekneus
25 ml suurlemoensap
sout + peper na smaak
Metode:
Plaas alle bestanddele in 'n fles en skud goed tot deurgemeng. Prik hoender
met 'n vurk en plaas in 'n bak en giet marinade oor. Marineer 8 ure of
oornag in yskas - dra draai gereeld om. Braai oor lae hitte kole of in die
oond.
Wenk:
As die res van die marinade verhit gaan word om saam met die vleis voorgesit
te word, onthou dat joghurt maklik skif op 'n hoë hitte. Roer 'n bietjie
mielieblom (5 ml) in die mengsel. Die joghurt marinade kan ook vir bees en
skaap gebruik word.
Slaaisous
1 eetlepel botter
2 eetlepels suiker
1 teelepel mosterd
1 koppie melk
1 eetlepel meelblom
1 eier
¼ teelepel sout
½ koppie asyn
Metode
Smelt botter in kastrol en voeg meelblom by. Laat kook vir paar minute – hou
aan met roer. Voeg geklitste eier, suiker, mosterd, sout en melk by en roer
totdat dit mooi dik is – moenie dat dit kook nie
Wanneer heeltemal koud is, voeg die asyn by en roer goed
Franse Slaaisous
Gooi die volgende bestanddele in 'n leë bottel:
2 Koppies olie
1 Koppie asyn
(Skud die bottel totdat die mengsel wit word) en voeg dan verder by:
2 Teelepels Aromat
2 Teelepels Sout
3 Lepels Suiker
1 Teelepel Tiemie
2 Teelepels Droë Pietersielie
1 Teelepel Swartpeper
1 Knoffelhuisie fyn gesny
Metode:
Skud die mengsel goed en plaas in die yskas. Hoe langer dit staan hoe
lekkerder word die sous en is heerlik oor mengelslaai.
Groenslaaisous
150ml gewone jogurt
1 huisie knoffel (fyngemaak)
sout en peper na smaak
3ml aangemaakte mosterd
25ml gerasperde ui
50ml gekapte pietersielie
25ml vars suurlemoensap
25 ml agurkies (fyngekap)
Metode:
Meng bestanddele vir slaai en plaas in opdienbord. Plaas bestanddele vir
slaaisous in ‘n voedselverwerker en verwerk tot glad. Giet slaaisous oor
slaai net voor bediening. Meng goed om egalig te bedek, en bedien.
Malinda Labuschagne
Onderstebo Paptert
Bestanddele:
1x Blik tamatie-en-uie mengsel
1x Groot ui
2x 250g sampioene
500g spek in stukkies gesny
3x koppies gerasperde kaas
10ml kook olie
Mieliemeel
Blatjang
Metode:
Sit water vir die pap op die stoof en laat dit kook. Maak meng pap maar moet
nie te veel mieliemeel ingooi nie want ons wil die pap nie te styf hê nie.
Terwyl die pap prut gooi olie in ‘n pan en sny uie in klein blokkies en sit
in olie. Braai uie tot amper deurskynend. Voeg spek by en braai tot gaar.
Voeg blatjang by en braai vir nog so 5 minute. Voeg dan sampioene en tamatie-en- uie mengsel by. Roer aanhouded totdat sampioene lekker sag is. Wanner pap
gaar is voeg by pap en meng deur. Voeg kaas by en meng goed deur. Prut op ‘n
lae temparatuur totdat die kaas gesmelt het en daar is jou onderstebo
paptert.
Nelia De Meillon
Allermaklikste appelslaai
Die reseppie het ek by 'n kollega - Isabel gekry en dit is so maklik en
lekker dat ek dit met julle moes deel. Omdat hierdie 'n kampkos resep is,
word bestandele en hoeveelhede per kop sommer so met die oog geskat.
Bestanddele
Gerasperde Appel (geskil of ongeskil)
Grondboontjies en Rosyne
Romerige Mayonaise
Metode:
Meng alles bymekaar en skep op slaaiblare. |