|
Ek wil graag vandag vir u vertel waar hierdie lied ontstaan het. Die baie ou
Hollandse gebed in gedig-vorm was baie jare gelede getoonset deur Prof
Gabriel Gideon Cillié .
Die Magaliesbergse Aandlied is ‘n lied wat ‘n mens nogal gryp aan die hart.
Jy kan nie daarna luister of dit sing sonder om geraak te word nie. Dis nie
alom bekend nie, maar is al deur verskeie kore en sangers gesing. Onder
andere deur:
die Acapella koor
Drakensbergse Seunskoor
Bloemfonteinse Kinderkoor
Tygerberg Kinderkoor
Steve Hoffmeyer
Nianella het op 2005 se Huisgenoot Skouspel die gehoor gaande gehad met haar
verwerking hiervan
Nou wil ek kortliks net verduidelik wie Prof. Cillié was. Prof Gawie was 25
jaar lank, vanaf 1939 tot 1964, orrelis van die NG Moedergemeente op
Stellenbosch. Hy was ook vir 33 jaar lid van die FAK-Musiekkomitee, en was
‘n baie belangrike medewerker aan die hersiene FAK-sangbundel van 1961 en
ook weer dié van 1979. Hy het sy hele lewe gewy aan die werksaamhede van die
FAK. Hy was Voorsitter van die FAK vanaf 1979 tot 1985. Dit was as gevolg
van sy navorsing oor ons ou SA Volksliedere en wysies dat hy op juwele soos
die Magaliesbergse Aandlied afgekom het. Dit is ook hoekom hierdie lied
aanvanklik in die FAK- sangbundel op geneem is voordat dit in die kerk
gesing is. Gelukkig was baie van Prof Gawie se werk gepubliseer anders het
dit dalk verlore gegaan.
Prof Gawie het die woorde - destyds nog in Hollands - raakgeloop en besef
dat dit ‘n wonderlike gebed is en dat dit getoonset kan word. Die lied is
deur hom getoonset op ‘n ou klein trap-orreltjie in die huis van oom Frans
Fouchè op die plaas Doornhoek. Die plaas is geleë aan die voet van die
Magaliesberg in die distrik tussen Magaliesburg en Maanhaarrand. Vandaar dan
ook nie naam “Magaliesbergse Aandlied”. Volgens wat ek kan aflei was die
oorspronklik plaas destyds heelwat onderverdeel sodat my oupa en sommige
ander familielede op die ou end elkeen hulle eie stukkie grond gehad het wat
maar almal die naam Doornhoek behou het. My oupa was Fanie Coetzee en oom
Frans Fouchè was oupa se neef. Die ander neefs, wat ek geken het, op die
ander gedeeltes was Oom Theuens Coetzee en oom Ben Coetzee.
Nou moet ek net vlugtig noem dat my Coetzee-voorsate ook van Stellenbosch
afkomstig was soos Prof Gawie Cillié. Die plaas Coetzenburg het baie jare
gelede aan my Coetzee-stamvader behoort. Dit was in die tyd toe Adriaan van
der Stel die Goewerneur aan die Kaap was. Ek weet nie of Prof Gawie dalk
daar in Stellenbosch al my familie leer ken het en later weer by hulle
uitgekom het nie. Ek is net bly hy het hierdie wonderlike gedig raakgeloop
en getoonset. Wie die gedig oorspronklik geskryf het weet ek glad nie. Dit
was in besit van my familie en ek weet nie of een van hulle dit geskryf het
en of hulle dit van Holland af saamgebring het nie.
Die lied is ook vertaal in Engels en nou hoor ek dat die lied selfs al in
Zulu gesing word. Op 17 Mei 2008 was daar ‘n veeltalige Jazz-Gospelkantate
genaamd “Coming Home” deur Isak Roux in die Johannesburgse Stadsaal. Op
hierdie geleentheid het Sibongile Khumalo die Magaliesbergse Aandlied in
Zulu gesing. My hare het natuurlik gerys toe ek die woord JAZZ hoor. Ek
wonder nou net of die lied – soos baie ander – ook verkrag is deur dit ‘n
hele jazz verwerking te gee. Maar nou ja, as dit ook die harte raak van
ander mense wat ander tale praat, is dit nogtans wonderlik.
Ek het ‘n blaai uit ‘n skryfblok in my besit waarop my oorlede pa nog in sy
eie handskrif die lied in Hollands neergeskryf het. Hier onder is die
Hollandse woorde. Ek weet net nie of die spelling heeltemal korrek is nie.
Leg my om te slapen neder
Goede God die altijd waak
Wil my in u guns bewaren
Als het kwade my genaak.
Ag vergjeef my al my sonde
Dan leg ek my hoof hier neer,
Dan deet die dood nog hel my vresen
Want gy zyt my heil o Heer.
Neemt my ouers en my vrinde
En bewaar hen desen nacht
Opdat morgen bij die ontwaken
U die lof zyn toegebracht
Prof Gabriel Gideon Cillié
(13.07.1910 - 15.06.2000)

|
|