Ons besoek

 
     
 

Mapungubwe Oorgrenspark

 
 

5 tot 9 November 2007

 
     
 

Klik hier om die mapungubwe fotos te sien

 
 

 

 

Vroegdag, nog voor die Albertonse mossies ons kom wakker hoes, was ons all oppad Mapungubwe toe. Glimlaggend sien ons hoe die Pretorianers kruip op die Ben Schoeman om te gaan werk in Johannesburg. Daar is definitief voordele aan om op kierieverlof te wees!

Die plan was om die amper 500 kilometer Mapungubwe toe af te draf en so vroeg moontlik die tent opgeslaan te he. Dit was vroeg November en al lekker warm in die Noorde.

Hoe nader ons aan ons bestemming kom hoe warmer word dit en toe ons by Mapungubwe se hek indraai besluit ons om liewer in een van hulle  tente te gaan bly as ons eie een. Die weerburo het ook reën voorspel en ons kon aan beter dinge dink as om nat kampeergoed op te pak. Ons kry toe vir ons een van hulle luukse tente by die Limpopo Forest Tented Camp.

Luuks was die tent inderdaad. Slaapgegeelte met badkamer, stoep en klein kombuis wat selfs met ‘n mikrogolf oond kon spog.

Tent bly maar tent, en binne meet ons die temperatuur op ‘n lekker warm 40 grade C. Die dakwaaier doen sy bes om ‘n koel luggie te probeer sirkuleer.Tente 2, 5 en 6 kry die meeste koelte en 5 en 6 is ook by die watergat, onthou dit as jy dalk wil bespreek. Daar is ook ‘n klein swembadjie met elektriese draad omhein, glo omdat die olifante dit kom leegdrink!

Waar ons oorspronklik vir vier dae in die Mazhou kampeerterrein bespreek het, het ons dit nou verander na twee dae by die Limpopo    kamp en twee dae in die Leokwe hoofkamp in een van hulle chalets. Mapungubwe is in twee gedeel deur privaatgrond en bestaan uit ‘n Oostelike deel en Westelike deel. Limpopo kamp is in die Westelike deel en Leokwe in die Oostelike deel, dit gee nou vir ons twee dae in elke deel van die park.

Paaie in die Park is redelik en daar is ook 4X4 roetes op die kaart aangedui.  Die Maloutswa Voël Skuiling is 3 kilometer van die kamp af en voëlkykers kan ‘n paar uur daar deurbring en ‘n hele paar voëlspesies besigtig of afneem. Paaie is meestal twee-spoor in die deel van die kamp maar heel rybaar en kronkel tussen bome en bosse en gee jou ‘n regte weg-van-alles gevoel.

Die Mazhou kampeerterrein is so ‘n kilometer van die Limpopo Tentkamp. Die staanplekke almal in die koelte en elke staanplek het sy eie krag en waterkraan. Die ablusies is ook baie netjies en skoon.

Mens moet alles saambring Mapungubwe toe. Hier is niks, behalwe water. Geen winkel, geen restaurant, geen telefoon, geen selfoonontvangs, net mooi niks. Al wat ons gesien het wat te koop aangebied word is ‘n pet en t-hemp en blikkieskoeldrank by ontvangs.

By  ontvangs het hulle ons meegedeel dat dit ‘n Groot Vier park is, hier is nie buffels nie. In die Westelike deel het ons wel groot kat spore in die pad gesien, maar dis al. Ons het wel heelwat boksoorte en voëls gesien. Limpopo en Mazhou kampe is wel omhein met geelektrifiseerde draadheinings wat seker net bedoel is om olifante uit te hou, enigiets anders kan eenvoudig onder deur loop.

Gedurende ons tweede nag maak die hemelsluise oop en dit sous katte en honde, of is dit nou blouwildebeeste en vlakvarke? In alle geval, ons dank ons sterre dat ons in hulle luukse tent slaap en nie in ons eie tent nie. Die volgende oggend ontwaak ons met voelgesang en die reuk van nat bosveld, wat ‘n begin tot enige dag.

Ons moet egter verhuis na ‘n bungalow by Leokwe kamp en sommer vroeg vroeg is ons in die pad na die Oostelike deel van die park. Ons is egter te vroeg om in te teken en besluit om eers die Tree Top Walk te gaan beloop en ook om na die samevloei van die Shashi- en Limpoporiviere te gaan kyk.

Die Tree Top Walk is ‘n goed geboude wandelpad so tien meter bokant die grond tussen die bome deur met ‘n skuiling wat oor die Limpoporivier uitkyk as eindbestemming. Die bobbejane hou ook vreeslik van die wandelpad en jy moet maar mooi trap so tussen die bobbjaanmis deur. Die magtige Limpopo was droog met net hier en daar poele water.

By die samevloeiing van die Shashi- en Limpoporiviere kan mens van verskeie uitkykpunte fotos neem en ook Zimbabwe en Botswana besigtig.

Teen die tyd was dit al laat genoeg sodat ons by ons akkommodasie by die hoofkamp, Leokwe, kon inteken.

Weereens was ons aangenaam verras met die skoon, netjiese rondawels. Groot slaapkemer, oopplan leefarea, lekker braai area en selfs ‘n opelug stort! Wel gedaan, Parkeraad! Nou moet julle net die plek in stand hou ook!

Die kamp is nie omhein nie en jy word gewaarsku om nie sommer net rond te wandel nie en om jou voertuig te gebruik as jy na die swembad, wat ‘n baie mooi rotspoel is, wil gaan. Weereens ‘n regte “bos” ervaring.

Ons laaste dag breek toe aan met die wonderlike klank van deurdringende reën. Ons verwondering word gou gedemp toe ons besef dat ons op die begeleide uitstappie na Mapungubwe koppie, wat om 7 uur sou begin, bespreek het. Ons verskuif dadelik ons uitstappie tot die een wat om 10 uur begin en gelukkig klaar dit effens op en ons bestyg die Landy wat ons na Mapungubwe koppie sou neem.

Die Mapungubwe omgewing was, volgend geoloë. Tussen 1220 en 1290 bewoon deur on en by 5000 mense. Die koninklikes en hulle gevolg het bo-op die koppie gewoon. ‘n Boer met die van Lotriet, (hy is oorlede in 1917), was glo die eerste blanke wat tot bo-op die koppie geklim het. Hy het ‘n paar kleipotte saam met hom afgebring en van hulle aan sy swart metgesel gegee. In 1932 het ‘n ene Van Graan, wat op ‘n jagtog was, water gaan soek by die ou swartman. Hy is toe water aangebied in een van die kleipotte. Hy herken dit toe as oudhede en probeer toe uitvind waar die swartman die potte gekry het, maar dié het geswyg soos die graf. Die man se neef kon toe met silwer geldstukke omgekoop word en die verklap toe die geheim van Mapungubwe koppie. Van Graan klim toe tot bo en kry nie net kleipotte nie maar ook ysterware en ook heelwat goue artifakte. En die res, soos hulle sê, is geskiedenis! Die artifakte word in die Mapungubwe museum by die Universiteit Van Pretoria ten toon gestel.

Ons klim toe die 149 trappies na bo waar ons gids die geskiedenis van die koppie an ons weergee. Bo op die koppie is nog heelwat tekens dat mense daar woonagtig was, ronde gate in klippes waar graan gemaal was, ‘n gat waar water of graan geberg was en ook ‘n ou bordspel. 

Weer by die kamp aangekom begin dit weer reën en ons besluit om die pad te vat huistoe.

As jy nog nie by Mapungubwe was nie, gaan kyk gerus. Ek stel voor nie minder as twee dae in elke deel van die park. As hitte jou pla, bly weg in die somermaande. Die chalets by Leokwe het egter lugversorging as jy in die somer wil gaan. As jy stilte en rustigheid in ‘n bos atmosfeer soek is dit die plek vir jou.