|
Om te dink dat dit
alles met onse dorpie gebeur het. Nee kyk, dis nie aldag dat daar so iets
hier gebeur nie, ek meen nou, dit was 'n bom wat ons getref het! Om te dink
dat my ou Miesies Bessie nou sou staan en ...
Wag wag nou, ek loop die storie alweer vooruit. Kom ons begin by die begin.
My ou Miesies Bessie is oud. Kyk, laat ek nou nie vir jou vertel dat ek nog
jonk is nie, maar wanneer mens die dag jou tande begin wegpak in ‘n glas
water saans, en bedags op 'n kierie moet aansloer, dan is jy oud!
Jy sien, my tande is nog net mooi waar dit hoort, in die kake. En ek kan nog
'n hoender duskant sy enkels raakduik om hom kop af te kap, daarom is ek nog
nie so oud nie.
Maar wag, die storie gaan nie oor my nie, 'nevermind'! My ou Miesies Bessie
is nie net oud nie, sy is ook baie sieklik. Elke week is dit klokslag haar
roete dorp toe. ‘Lucky’ vir my weet ek nog hoe om die bakkie min of meer in
die pad te hou.
Dan is dit maar die gewone, eers laat sy ou Salie haar bietjie haartjies wat
sy oorhet regkam by dié se salon, dan gaan kry sy haar weeklikse
boegoebrandewyn by Hettie onder die toonbank by dié se winkeltjie. Nee, nee
Hettie stook nie mampoer nie, haar man doen. Bertus Klopper stook die beste
mampoer in die hele distrik, ek weet. Ek het een maal toe Miesies Bessie
laatnag hyg na haar asem en my geroep het vir ‘n medisynetjie, so skelmpies
gedeel in dié wondermiddel.
Wel, met die boegoebrandewyntjie veilig in die bakkie, is Miesies Bessie se
laaste draai haar dokter afspraak. Jy weet, net ingeval iets in die week
gebeur het waarvan sy nie weet nie. Daar is altyd 'n klagtetjie vir dokter,
haai sies tog. Net verlede week het haar niere haar so verpes dat sy dokter
twee keer laat uitkom het plaas toe.
Dokter gee haar darem altyd 'n aspirientjie of iets, en dan moet sy 'n dag
of wat gaan rus sodat die medisyne sy werk kan doen. En dan is dit maar weer
ek, ou Kaaitjie, wat alles vir haar moet aandra.
Maar ag wat, ek kla nie. Sy is immers die oudste van ons twee. Die ou storie
sou seker nou nog so aangegaan het, as dit nie was vir die ‘Ingelse’ dokter
nie. Was dít nou vir jou 'n storie. Onse ou dokter besluit toe, nee, hy moet
hulp kry. Mens kan nie glo dat daar soveel siekte op so klein dorpie is nie,
dis iets vreesliks.
Die nuwe dokter is toe nou ook bonop nie net 'n aantreklike jong man nie,
maar ook sonder vrou. Jong, was dít nou 'n geskarrel onder die vrouens. Nie
vir hulleself nie, nee, vir hulle dogters. Ek bedoel, die gode het nou
wraggies hulle ‘job’ geken met dié stukkie mens.
En dis net waar my ou Miesies Bessie toe ook besluit, maar sy het die nuwe
dokter nog nie juis te siene gekry nie. Net die volgende week boender sy my
ontydig die bakkie in, en daar sit ons toe af na die dokter se spreekkamers
toe, die bors se gehyg sien, sy kry omtrent nie asem nie.
Dis nou eintlik waar die bom begin bars het, want sien, die nuwe ‘Ingelse’
dokter kry toe geen fout aan my ou Miesies Bessie nie. Haar hartklop is glo
normaal, haar bloeddruk piekfyn, haar bors hyg nie, tot haar niere makeer
niks.
Ou Lina wat by Miesies Gerda op die duskantste plaas werk sê sy het gehoor
dat die vrou wat by die slaghuis werk sê dat die ‘nurse’ by die spreekkamer
sê dat Dokter Hamilton Miesies Bessie twee keer van kop tot toontjies
ondersoek het. Nou ja, en hierdie ‘Ingelse’ dokter van die grootte stad sê
hy gee nie medisyne as mens niks makeer nie.
My ou Miesies Bessie was so ontsteld toe sy daar uitkom, dat ek eers die
boegoebrandewyn se prop vir haar moes losbyt. Ja, haar bors was só toegetrek,
dat sy nie die rit terug plaas toe sou haal nie. Net daar in die bakkie moes
ek haar tot kalmte bring.
"Kwak! Dis wat hy is Kaaitjie, laat 'n bogkind my staan vertel ek makeer
niks nie. Het hy geen respek vir die ouderdom nie? Voel," en sy beduie met
haar hand na haar rug, "voel net hoe staan hierdie nier van my weer vandag!"
Kaaitjie voel en voel, maar Kaaitjie voel niks.
Dis toe dat die storie met 'n spoed, wat die wind in die skande sou steek,
die gerugte op die dorp doen. Moenie Dokter Hamilton se tyd mors nie. Of jy
makeer, en hy gee jou die regte doepa, of jy makeer nie, en bly by jou huis.
Dis eers toe ou Giepie van die buurplaas my weer kom help bees slag, dat ek
die regte storie hoor. Dokter Hamilton sê glo Miesies Bessie makeer niks,
dis ‘all in the mind’. Eensaamheid, dis glo wat die dinge veroorsaak.
Sies tog, dis gin wonder nie, my ou Miesies Bessie is al lankal so alleen
saam op die plaas.
Nou ja toe Kaaitjie, sê ek vir myself terwyl ek ou Giepie dophou waar hy die
bees uitmekaar haal, wat is daar te doen aan híérdie situasie? Ek meen, ek
is ook by myself. Maar tenminste het ek vir ou Giepie om mee te praat as ek
te veel vir my kamer word. Die buurplaas is ook nie té ver nie, en wanneer
ek op die ‘phone’ roep, kom ou Giepie altyd in ‘n stofwolk daar aan vir ‘n
kommetjie koffie en beskuit. Nee, dis nie wat jy dink nie, ons is net vrinne.
Ek is al ver duskant daardie stuitige dinge.
Maar wat! Daar gaat ek alweer. Die storie loop draai om Miesies Bessie, en
hier sit ek en uitwei oor myself.
“Ou Giepie,” vra ek hom mos die ander dag waar hy besig is om ‘n beesvel
lekker met sout by te kom, “wat gaan ons omtrent my ou Miesies se alleenheid
doen?”
“Hoe bedoel jy nou ou Kaaitjie?” Die frommelgesiggie kyk gesteurd op.
“Net wat ek sê. My ou Miesies is baie alleen, en jy het gehoor wat sê die
nuwe ‘ingelse’ dokter”
“Dis so ja,” die ou kop knik op en af, “Maar wat wil jy daaraan doen?”
“Ag nee Giep, ons albei weet jy is altyd die ene met die idees. Ek is die
een wat sê of dit ‘oraait’ is of nie.”
“Wel ja,” Giepie vryf stadig oor sy ken met die sout nog taai aan sy vingers,
“dis bietjie laat vir ‘n vryklonk om kers te kom opsit sou ek sê...”
“Giep!” Kaaitjie kyk hom baie geskok aan. “Dis nie wat ek ingedagte gehad
het nie.”
“Nou wat dan?”
“Iets anders...iets wat haar besig hou...iets…”
“Iets soos ‘n kat?”
“Nou waarom sou my ou Miesies Bessie nou ‘n kat wil hê vra ek jou? Sy het
net verlede week die spulletjie agter die skuur weggegee ...” sy bly skielik
stil asof iets haar te binne skiet. “Ek hét dit!” Kaaitjie spring so vinnig
op dat Giepie skoon van die sout in sy hande laat val. “Ons moet iemand kry
wat vir haar kom kuier. Familie, goeie vriende, enige iemand wat vir ‘n
rukkie hier kan kom kuier wat haar aandag kan aflei van haar eensaamheid af.”
“Nou is dit jy wat die idees het, maar,” Giepie gaan weer ongestoord verder
met die sout, “dis ‘oraait’.”
En dis hoe dit gebeur het dat Surita op onse plaas beland het. Dié is nou my
ou Miesies Bessie se broer se kleinjong wat vir die ‘varsity’ vakansie
bietjie vars plaaslug kom soek het.
Ou Giepie het die storie so staan en kyk en teruggedraai om aan te gaan
waarmee hy besig was.
My plan sou gewerk het as dit nie was dat Surita meer as net vars plaaslug
gekry het nie.
Miesies Bessie het weer vir ou dokter laat uitry plaas toe om te kom help
met die hygbors, toe ou dokter met die ‘ingelse’ dokter hier aankom.
Ek dink die plaas sou na daardie dag nooit weer dieselfde wees nie. Ou
dokter moes mooi praat voordat Miesies Bessie die ‘ingelse’ dokter die huis
wou toelaat. Na ou dokter kalm vir Miesies Bessie verduidelik het dat die
‘ingelse’ dokter net wou kom ekskuus vra oor nou die dag, het sy ingestem.
En daar gebeur dit toe dat die ‘ingelse’ dokter byna self ‘n hygbors kry.
Nie van aansit nie, maar van dít wat hy in die voorhuis sien. Surita met
daardie lang bos hare wat nooit ‘n rekkie sien nie, slaan toe sowaar die
‘ingelse’ dokter se asem weg nog voor jy kan sê mampoer se ...
Haai ekskuus!
Ou Giepie sê dat Lina sê dat sy maar net gehoor het van die ding wat dié
affêre op die dorp veroorsaak het. Ek bedoel dan nou, van die ‘ingelse’
dokter op die dorp aangekom het, was dit een groot katgeveg na die ander
tussen die vrouens vir hulle dogters, en hier slaan ‘n wildvreemde jongetjie
uit, nat agter die ore, en sy gryp hom so voor algers se neuse weg.
Ja ou Kaaitjie, sê ek vir myself, as die dorp moet uitvind dit was jóú idee
dat Surita moes plaas toe kom, sit jy nie weer ‘n voet op die dorp nie.
Dit gebeur dan ook so dat die ‘ingelse’ dokter baie huisbesoek op die plaas
kom doen. Nie dat my ou Miesies Bessie juis baie daarvan gehou het nie. Maar
toe die gort klaar gaar was, het sy maar met stywe lippe gesit, sonder om ‘n
woord in die geselskap te sê. En loop loop sy ook nie, nee, sy sit haar sit
tussen Surita en die ‘ingelse’ dokter, totdat die kers ‘n swart kring op die
pierang brand.
Maar die ‘ingelse’ dokter gee nie op nie, en met die volgende huisbesoek kom
hy met ou dokter daar aan.
“En nou Dokter?” Miesies Bessie staan met haar hande vroom voor haar
inmekaar gevleg, glimlag alle kante om. “Ek het dan nie gebêl dat Dokter
moet uitkom nie.”
“Nee wat Bessie, toe Dokter Hamilton praat van plaas toe kom, dog ek so by
myself, dat ek liewer saamry, dan hoor ek sommer hoe klink daardie bors van
Bessie vandag.”
“Maar dit is darem baie bedagsaam van Dokter, wat het dan vandag van Dokter
se tassie geword, of is dit nog in die mouter?”
“Eee … ja. Ek skat ek het dit in Dokter Hamilton se motor vergeet.”
‘Shame’, ek het nog nooit vir ou Dokter so ongemaklik en verleë gesien nie.
Hy sê dan voor almal dat hy na Miesies Bessie se bors wil luister, maar hy
het nie sy tassie by hom nie. Glo in die mouter vergeet, maar uitgaan om dit
te gaan kry, doen hy ook nie.
Die plan het gewerk. Ou Dokter het die heeltyd vir Miesies Bessie besig
gehou, en kort voor lank moes Surita se vakansie ook tot einde kom. Die
vrouens op die dorp was darem baie verlig hieroor, die ‘nurse’ by die
spreekkamer sê sy kon nie voorbly met die afsprake nie.
Maar nee wat, dit het gelyk of die ‘ingelse’ dokter klaar sy hart verloor
het. Dit was ‘n oor en weer gebêllery, Lina sê Martie by die sentrale sê dit
was die beste tyd in al die jare wat sy werk.
Elke week as Miesies Bessie in die salon was, het ek gou oorgehardloop om
die nuutste nuus van die week te hoor by Martie. Dit het die rit elke week
dorp toe die moeite werd begin maak. Oppad terug plaas toe, het ek vir
Miesies Bessie vertel wat ek gehoor het.
“Vêr van jou goed, na aan jou skade Kaaitjie,” het Miesies Bessies elke week
vir my gesê, maar dit het gelyk of daardie sentrale nog sou uitbrand van die
gevryery so op die ‘phone’.
En so het dit maar aangegaan. Martie by die sentrale, Daantjie by die
poskantoor. Lina sê die poskantoor se dak en mure was skielik altyd nat as
sy die pos gaan afhaal het. Dis van die gestoom sê ek vir jou. Daantjie wou
dit nooit erken nie, maar skielik het hy in die vryer van die distrik
verander.
Ja-nee, en voor ons onse oë kon uitvee, was dit ‘Christmas’ en was Surita
terug op die plaas vir die feestyd.
Ek weet nou nog nie hoe vandag se jongmense se koppe werk nie, maar toe ons
weer hoor, loop Surita met die grootste en blinkste diamant aan haar
ringvinger rond.
Waar die ‘ingelse’ dokter dit gekoop het? Nee mens, ek weet nie. Stefanus sê
Andries by die ‘jewellery’ sê dis beslis nie by hóm gekoop nie, en die
enigste ander is ‘n honderd myl van die dorp af.
Ja? En met Surita weer terug na ‘sodem en gemora’ toe, droog die afsprake
skielik op. Die ‘nurse’ by die spreekkamer sê al wat leef wou skielik nét ‘n
afspraak by ou Dokter kry.
En asof dit nie genoeg was nie, het ou Hana se dogter ook nog amper van die
kerktoring afgespring. Ja, die kerktoring mens! Waar sou sy tog ‘n ander hoë
gebou kon kry, alger is so laag, sy sou net haar enkels verstuit!
‘Shame’.
Ou Dokter het ook erg begin moeg raak van die die siek mense, want hy was
die enigste wat afsprake kon kry, dit was net die bitter eindes wat nog met
te veel ‘make-up’ op hulle gesigte by die ‘ingelse’ dokter kom inloer het.
En daar kom die dag toe dat die ‘ingelse’ dokter vir ou Dokter sê hy dink hy
sal maar liewer terug grootte stad toe. Dis in elk geval net ‘n kwessie van
tyd voor hy en Surita vir mekaar sou sê ‘I do’.
Hy was ook net weg toe die tweede bom onse dorpie tref. Met al die
huisbesoek wat ou Dokter so saam met die ‘ingelse’ dokter kom afgelê het,
het dit ‘n gewoonte geword dat ou Dokter toe nou elke Sondag by ons kom eet
het.
Vir ou Kaaitjie was dit die ‘heat’ van die week om Sondae te kook. Ek kon al
my ‘fancy tricks’ met die kos uithaal wat ek nie gedoen het met my en
Miesies Bessie so alleen nie.
En so saam met die paashaas kom kupido toe ook plaas toe. En mens, daar sak
ons ou Dokter, een van die respekvolstes in die dorp, op sy een knieg neer
en vra my ou Miesies Bessie die groot vraag wat elke vrou hoop om tenminste
een maal in haar lewe te hoor.
Ek dink Miesies Bessie het die ja-woord sekerlik drie keer herhaal toe sy
eers besef ou Dokter is nog nie op nie, want sy een knieskuif het uitgehak!
Ek sê vir jou, dit het my én ou Giepie gekos om hom weer op sy voete te kry,
nie dat ou Giepie juis armpies het nie, hy is net ‘n asempie.
Wie sou nou kon dink dat my ou Miesies Bessie en ou Dokter ...
Dit was skok, regtig. Ek doen dit nie uit gewoonte uit nie, maar toe ek
myself weer kon kry, het ek die hele botteltjie boegoebrandewyn vir die week
klaar gesluk.
Dit was met gekruisde duime en groottone wat ek agter my kamerdeur gesit en
hoop het Miesies Bessie roep my nie daardie aand vir ‘n boegoebrandewyntjie
nie.
Darem aardig, sou ek later dink. Miesies Bessie se hygbors het darem skielik
gesond geword, en ek praat nie eers van die niere en ander dinge nie. Die
kierie lê skoon eenkant deesdae. En tog, hoe mis ek my slukkie
boegoebrandewyntjie elke dan en wan.
Nee wat, met ou Dokter elke dag aan sy vrou se sy, gaan dit ook sommer beter
met die plaas ook. Om te dink ons ry nou nie meer elke week dorp toe nie. En
die ergste is dat ek nie meer die nuutste nuus eerstehands by Lina of Martie
kan hoor nie. Ek moet maar tevrede wees met ou Giepie se weergawe daarvan.
Ag nou ja, dis ook weer tyd om die ketel aan te sit vir middagteetjies. Ek
sal maar wag dat ou Giepie terugkom en vir my vertel wat daar op die dorp
aangaan. Ou Dokter het hierdie keer nie kanse gewaag nie. Hy het sommer twee
nuwe dokters op die dorp gekry. Met die een ongelukkig klaar getroud, maar
die ander een darem nie.
Ja wat, dis dan liewer beter so op die plaas met die vars lug.
|
|