Minette Brink

 
 

AiAiba: wegwyser vir gemoed én siel

 
   

“WAT sing jy, Benson?”
Die winterson bak lomerig oor die Erongoberge.
Hier langs die swembad waar die man ʼn paar verdwaalde blare uit die turkooiswater skep, is die enigste geluid dié van die voëls en die sagte geneurie van ʼn oeroue deuntjie.
Benson kom stadig orent en staar lank in die rigting van die Brandberg wat dynserig op die horison rus.
“Dis diep Damara,” sê hy ná ʼn ruk. “Ek kan nie verduidelik nie.”
Ek vra of dit oor die lewe is, oor die liefde, oor hierdie plek genaamd AiAiba waar ʼn mens stil raak, rus vir ʼn soekende gemoed vind.
“Dis oor alles,” sê Benson, “dis uit die Bybel.” En sing-sing stap hy weg.
Sowat 45 kilometer wes van Omaruru op die plaas Anibib, lê die AiAiba-rotskunslodge.
AiAiba, die Damara-woord vir voorloper, padaanwyser, nie net grondlangs nie, maar ook sielsgewys.
Hier in die bewaringsgebied van die Erongoberge, het Hubert Herzog en Fritz Flachberger met die hulp van tagtig werkers uit die Tubusis-gemeenskap ʼn droom laat bewaarheid.
Binne ses maande is dié lodge met sy twintig luukse-eenhede en ‘n restaurant met vyftig sitplekke opgerig en in September 2004 is die eerste besoekers verwelkom.
Begeleide velduitstappies, voëlkykery en die bestudering van rotskuns is maar van die dinge wat hier vir natuurliefhebbers aangebied word.
Teen skemer neem die gasvrou en toergids, Alexandra Sacharow, gaste in die oop viertrekvoertuig tot bo op Skemerkelkberg om ʼn uitsig sonder vergelyke oor dié vallei te bied.
Daar is nie woorde om die sakkende son agter die Brandberg te beskryf nie. Asemrowend, ongelooflik, manjifiek, fantasties, alles in een. Teen donker is dit met ʼn diep ongewilligheid wat jy teen die steilte af klim. Jy wou daar bo bly, gestroop van alle menswees, net een met die skepping en die wonder daarvan.
Met die terugkeer staan sjef Martin Steppe gereed met die allersmaaklikste springbok-consomme, gemsbok in sampioen- en knoffelsous met pasta en soetmielies, afgerond met tuisgemaakte sjokolademousse en wildebessies.
Wanneer die laataand-geselsies onder die lapa begin yl raak, gaan lê ek op een van die dekstoele langs die swembad.
Die sterre skiet klein vonkies silwer deur die Namibiese nag en iewers in die donker vlakte weeklaag ʼn onbekende dier.
En my gedagtes loop deur die rotstekeninge wat ek die dag gesien het.
Ek sien die mensies wat duisende jare terug tussen die rotse gewoon, gejag en gelag het. Sien die skaduwees wat die vuurtjie teen die rotswande in die laatnag gooi. Hoor die stories wat in ʼn onbekende taal vertel word, terwyl die kunstenaars hul kalbassies nader trek om die dag se gebeure op rots te verewig.
Ek word die oggend wakker en verwonder my oor die uitsig deur die oop venster.
In ʼn raam lê die veld, die lug, die rotse.
Agter die lodge is ʼn wandelpaadjie wat deur die rotsformasies kronkel. Daar kan jy op jou eie tyd skeure en spelonke verken en jou verwonder aan nog kunswerke van tóé.
Jolande en Maria staan met wit glimlagte gereed met ʼn stewige ontbyt en ná ʼn oulaaskoffie is dit tyd om te gaan.
Ek neem ʼn foto met my oë.
Dis wat liefde is, besef ek.
Die balans in die natuur. Dis die reusekoedoebul wat jou lank staan en aankyk en dan omdraai en lui-lui wegstap. Dis die rotse met hul vreemde formasies en geheime. Miljoene jare terug deur die magma-skeuring en ‘n vulkaan na die oppervlak gestoot om vandag die mens te oorweldig met die onverstaanbare grootsheid van die lewe.
Ek ken nie die woorde van jou liedjie nie, Benson.
Maar ek weet wat elkeen beteken.

Klik hier om die Brandberg sonsondergang foto te sien wat Minette gestuur het.