Minette Brink

 
 


Ampie
 

 
 
En daar verdwaal sy in die groot stad van Centurion. Nie op straat nie, sommer netso in die Mall.
Nie ʼn baie aangename ervaring nie, synde ek vir jare in die Jakarandastad (deesdae bekend as Tswane) en in Egoli rondgerits het sonder om een keer die pad byster te raak.
Dis ongelooflik hoe vinnig ʼn mens verval in die rustige en landelike bestaan van Windhoek. Straatgewys, maar hoofsaaklik kopsgewys.
Op die lughawe in Johannesburg aangekom, moes ek klaar die onheil kon ruik. Amper twee ure net om die gebou te kan verlaat en daarna die malle verkeer op die ineengevlegte stukke hoofweë en snelweë en allerweë.
Ek is uitasem toe suster in Centurion voor haar huisie stilhou, maar ook diep beïndruk dat sy so kalm is met nie ʼn druppeltjie angssweet op die voorhoof nie.
“Hoekom is Ma se oë so groot,” wil my kind weet, maar Ma se stem is weg.
Die volgende dag moet ons nog laaste Kersinkopies gaan doen en dis hier waar ek toe ʼn sielkundige knou (ok, nog een) kry.
My en Ilana se paaie moet noodgedwonge in die Mall skei, want ek wil haar present gaan koop wat sy natuurlik nie mag sien nie.
Sy moes die intense verwarring bespeur en span ʼn kalmerende stemtoon in.
“Fokus, fokus. Sien jy die winkel? Dis Dischem. Dis ʼn apteek. Af met die roltrappe, eerste stegie links, hou net aan en aan, aan linkerkant is die Body Shop en Exclusive Books. Volg net dieselfde paadjie terug. Ons kry jou oor ʼn halfuur weer hier. Dischem, die a-p-t-e-e-k, onthou.” En daar gaat sy met ʼn kind aan elke hand.
Mense, mense en nogmaals mense. Dis klosterfoubia in die ergste graad en ek klou aan die roltrapreëling soos ‘n drenkeling aan ʼn flertsie dryfhout.
Toe mense, baie mense, agter my begin mor en ophoop, moet ek noodgedwonge my vingers van die trapreëling losskeur en links hou, links hou. Aan en aan en aan, mense wat druk en stamp en stoot en skuur en nie een wat agterkom dat ek besig is om te versmoor nie.
Ek glip by Vodacom in. “Starterpack,” hyg ek.
R40, sê die verkoopspersoon glad. “Heh?” sê ek. “Starterpack, asseblief.”
“R40, dankie,” sê die persoon.
“Uh, ek bedoel, ʼn starterpack vir my foon. Ek is van Namibië en ek het nie roaming nie. Ek soek ʼn SA-nommer vir my tydjie hier.”
Verkoopspersoon kyk my lank en deurdringend aan, asof ek moontlik ʼn oordraagbare geestesverstuiering van die woestyn ingebring het. Dan probeer ons weer.
“R40.”
“Dis onmoontlik,” sê ek met oortuiging.
“Nou hoeveel wil jy graag vir die starterpack betaal,” vra sy/hy liefies.
En dan kliek ek uiteindelik. Dis inderdaad ʼn ander planeet hierdie met ander mense, ander waardes.
Alles kos nie orals Namibies nie. En ek voel soos Ampie wat vir die eerste keer affie plaas kom kuier.
Kop onderstebo loop en tik ek die nuwe nommers in, opgeslurp deur die mensemalery.
Soos ʼn karakter in ʼn Gary Larsen-tekenprent kyk sy op en besef dit is nie waar sy moet wees nie.
Onbekende winkel op winkel op restaurant op stalletjie op straatkunstenaar op geraas op chaos.
My kop voel of dit gaan bars, asof almal om my al vinniger nader kom.
Drie dae later kry ek Die Roltrap. En my suster. “Jy was lank weg,” sê sy.
“Jy het geen idee nie,” sug ek.