Minette Brink

 
 

Boesmanbid
 

 
 
DIT is die maand Oktober. Glo die mooiste, mooiste maand met viooltjies in die voorhuis en al daai stroperige digters-treurmares.
Dit is die maand Oktober. Naas Kersfees die tydperk met die hoogste selfmoordsyfers.
Dis nie ʼn lekker onderwerp nie, maar soms moet ʼn mens maar die feite in die oge kyk. En nooit sal ʼn mens al die antwoorde kry nie. Hoekom is ons hier, wat is ons doel, het die Here ons verlaat en sommer al Sy engele ook saamgevat en kyk hoe lyk die wêreld nou.
Daar is tye wat die vrae net te veel raak en die slaap net te min raak. En iewers tussen in hang ons verward oor die waantoe (waan toe) nou. Ons word ouer, sien elke dag die tekens in die spieël en steeds het ons nie ʼn aks nader aan die antwoord gekom nie.
Sien nie eers ʼn stukkie lig op die horison nie. Ons is nie depressief of morbied of kwaad of hartseer nie. Net dom verward en lam van moeg. Van diesêlle van elke dag, van wonner oor die gewonner. Nie eers Desember se uitspan ommie draai kan die mondhoeke tot nuwe hoogtes inspireer nie.
En dan sal ons iewers in die nanag ons neuse vanself voel wikkel, ons lywe skielik koeler raak en ons voete vanself tot by die oop venster loop. Die kantgordyne eenkant skuif en verwonderd staan en ruik en voel en sug.
Want dit reën. Vir die eerste keer. En skielik is ons die eerste mense in die paradys, voor die groot swig vir Adam en sy appel. Volmaak. En lig. En lewendig.
Oppad waan toe die volgende dag, is almal stadiger, gemoedeliker, vriendeliker, sagter, mooier.
En Jakarandas het hemelse pers konfetti oor alles gestrooi. ʼn Huwelik tussen seisoene. En ons los die gewerk en geworry oor die niks en gaan staan buite in die sagte reën en steek ons tonge uit en proe die lewe.
Terwyl ons soos die kinders wat ons jare terug was en eintlik nog steeds is, in die poele spring en op die sypaadjie dans. Om uitasem met bloedrooi wange laggend in die kantoor terug te skarrel. En die eerste pos met nuwe moed beginne lees.
Die Boesman se Onse Vader, geskryf deur P.J. van den Heever:
“Onse Vader wat doer êrns vêr bo in die bloulug is, diese warm dag wil ikke op myse kniege tot U kom bid: Lat U se koningskap tog by ons kom, en lat U se grootheid hier tissen ons staan gemaak kan worre, en lat U se wil gebeure doer bo by U rond, net so gebeure hier by ons Boesm’land se grond. Gee ons vandag onse tjai-impie kos en vergewe ons, onse sondige gemors, sos ons die ander minse sin vergeef. Here lat die kwaad doen goerterse wye draaie om ons loop en gee tog samblief Here lat die duwel nie naby kom nie. Die minse doen sulke lelike goerters teen my, maar help tog samblief dat ik dit nie sal raak sien nie, dan sal U mos ok nie myne raak sien nie. U is vir altyd en vir altyd. Amene my groot Kroon.”
Dit is die maand Oktober.