|
“HET jy gehoor,” suis dit in die wandelgange. “Sus en So gaan skei. En
dis nog niks, So het klaar ʼn nuwe lover laat intrek.”
Ek raak lam van sulke prate. Ek is te stupid om te verstaan. Al wat ek
sien is die verbete trekke om die skinderbekke en die hartseer wat swart
om die verliefdes-wat-was hang, maar wat niemand ooit sal erken nie.
Want ons is daarop uit om mekaar terug te kry en te vernietig. Al vat
dit tot skuins voor die graf.
Ons steek die kinders op om op Nuwe Lover te spaai en lê woorde en idees
in die reeds versplinterde gemoedjies. Hoekom? Is daar werklik soveel
genot te put uit venyn en weerwraak? Die lewe moet tog aangaan en is net
makliker met die minimum koffertjies vol erge verlede.
Natuurlik is dit erg, so ʼn geskeiery. Natuurlik vat dit langer as lank
vir die wonde om toe te groei. Natuurlik is daar dae wat die littekens
onder die vel net vir jou sigbaar is.
Maar daar ís baie good times tussen in. Daar ís pêlle wat op die rêrige
afdae op die stoep kom plak en beurte maak om die klokkie te lui tòt jy
oopmaak. Daar ís hordes videos en musiek en partytjies en opvoerings en
stokperdjies om na uit te sien. Die bottom line is om te vergewe en aan
te gaan.
En as jy regtig die dag voel of jy uit jou eie kop en lyf gaan spat, bel
vir Oom Klaas en gaan kuier vir die Dagbrekers. Skokterapie vir seker,
maar ook die vinnigste manier om jou tot jou sinne te ruk. En jou
nederig dankbaar te maak dat jy nog die keuse én die kapasiteit het om
te beplan, te hoop, te weet.
En as jy gelukkig is om ʼn plek by hulle jaarlikse konsert te kry (waaraan
hulle vir màànde geoefen het), dan is jy waarlik geseënd. Want ʼn
Downsindroompaartjie doen die Tango met meer oemf as Al Pacino in Scent
of a Woman, twee opgeskote seuns kry dit onder groot applous reg om nie
een keer van die balanseerbalk af te val nie.Stokke, blikke en lepels
verander in die duurste en mees ingewikkelde instrumente in die lomp
handjies om musiek vir die engele te maak. En jy raak meegevoer in die
ongelooflike entoesiastiese genot en vreugde waarmee elkeen van daai 77
kinders elke sekonde voel. Oom Klaas se woorde aan die einde kan jy nie
anders as betraand kopknikkend beaam nie. Dis bevoorregte ouers van dié
kinders, het hy gesê. Want God het hulle uitgekies omdat hulle spesiaal
is.
Wanneer jy twee aande later na jou nie-Dagbreekkind se konsert gaan kyk,
raak jy stil so in die geordende geraas. Jou hart wat skuins voor die
gordyne oop wou-wou vergal omdat daar nie ʼn Pa is wat al dié spesiale
geleenthede wil deel nie, raak sag. Want dis die mooiste kind wat daar
op die verhoog staan. Die slimste en die gesondste en sy is joune. Met ʼn
hele lewe wat nog voorlê. Watter droompies is daar nie in daai klein
lyfie nie? Watter pyn word nie klaar weggesteek agter die
haasbekglimlaggies nie? Waarom daai stukkie mens se fantasieë namens
haar verpletter deur die negatiewe af te dwing? Net omdat JY te nagekom
voel en JY wil terugkry? En dan voel jy hoe al die koffersvol verwyt en
weerwraak skielik langs die treinspoor val en al kleiner raak soos jy
voorentoe stoom.
Uit die diepte van jou hart hoop jy dat Sus en So en al hulle nuwe
lovers daai trein sal hoor.
En soos Dagbrekers sal spring om die lekker van die reis na wie weet
waar mee te maak. |
|