|
Die beste medisyne kry jy nie in bottels nie
Ek het die gestel ( en na hierdie winter ook die bou) van’n bees. Ek raak
nooit siek nie. Maar as die Bak en Teries my een keer in drie jaar vasvat,
trek hulle my grond toe met ‘n dawerende slag.
Maandag is toe Valdag.
Binne ‘n halfuur nadat ek by die werk aangekom het, kan ek voel hoe dit
kriewel in my binneste. Nog ‘n uur later en die kouekoors het my.
Ek sit snuiwend verlep agter my lessenaar en staar met brandende oë en
hangskouers na die rekenaarskerm. Waar sal my hulp vandaan kom?
My arms is so swaar dat my vingers op die grond sleep toe ek loop om die
Baas te gaan smeek om genade.
‘Mag ek asseblief…’ piep ek duiselig.
Die Baas frons iets leliks oor sy lae bril. En dan sien ek my ergste
nagmerrie in daglig. Daar sit twee van hom! That’s it, dink ek, ICU toe met
my.
Gelukkig kom die Ander Baas verbygestap en jaag my weg. ‘Sjie, jy! Dokter
toe! Dokter toe!’ brul hy.
En ek gaan.
In die wagkamer gaan lê ek oor drie leë stoele en raak onmiddellik aan die
slaap.
‘Ellooo?’ vra ‘n stem deur die newels. Ek buig my ooglede oop en bekyk my
dokter tranerig op en af.
‘Elloo,’ kraak ek terug. “Kan ek nie maar hier bly lê terwyl jy sommer net
ietsie voorskryf nie?’
‘Ag nee wat,’ sê my Perpetually Positive Potion Pusher.
Hy sleep-dra my tot in die spreekkamer en gooi my op die harde kateltjie
neer. Ruk ‘n stetoskoop en houtspane uit en skree:’Aahhh!!’
‘Aahh, wat? krys ek benoud. ‘Wat sien jy? Die spaan is dan nog nie eers in
my keel nie? Is dit so erg? Kan ek my ma bel?’ Die huil kom sit in my keel.
‘Ayee,’ skud hy vererg sy kop.’Jy het plein griep. Ek het my vinger in die
laai vasgeslaan. Jy sal lewe. Ek mag dalk doodbloei.’
Daar is dokters en dan is daar geneeshere. Ek het ‘n geneesheer.
Party kere wens ek vir ligte kwale net om die man te gaan sien. Hy gee
voorskrifte vir die siel. En hy verlig my guilt trip oor al my swak
gewoontes.
‘Hoeveel rook jy per dag?’
‘Tussen twee en vyf en net oor naweke?’ bieg ek bloedrooi en doodskuldig.
‘Ha!’ lag hy. ‘Noem ‘n mens dit rook?’ Hy trek sy voorskrifblaadjies nader.
‘En watter tuismedikasie gebruik ons op die oomblik?’
Ek is uitgevang. ‘Medlemon en ‘n teelepel Jägermeister voor ek gaan slaap?’
Hy skud sy kop en begin skribbel. ‘Los die Medlemon. Ek stel iets beter voor.’
Terwyl hy sy onleesbare handskrif in die papier inkrap, bekyk ek al die
foto’s agter sy kop.
Duikfoto’s, Afrika- foto’s, Skedelkusfoto’s, lekker tye foto’s.
En ek dink, watter amazing man. Wat elke dag siekes en krankes se pyn- en
skeetverhale moet aanhoor en met sy Patch Adams - maniere meer uitrig as al
die antibiotika in die wêreld.
Ek kan leer hier.
Ek kan ook liewer die daaglikse ‘blech’ in my lewe gebruik om my meer
positief te maak.
My geneesheer sal, wanneer ek met ‘n verkoue kind en ‘n donker gemoed by hom
aankom, dadelik die warm kleertjies en die beswete kappie afruk en brul: Die
kind moet lug kry! Laat hom buite speel! Jy versmoor die arme ding!
En die kind sal gesond wees teen die einde van die afspraak, want soveel van
ons siektes begin in ons koppe en met ons negatiewe houdings.
Ek wonder hoeveel mense besef, ten spyte van die verskriklike rekeninge en
die wrede mediese fondstariewe, watter verskil ‘n goeie dokter in hul lewens
maak.
Daarom wil ek sommer hier dankie sê vir my ou geneesheer vir al die kopwurms
wat hy al uitgeroei het met ‘n paar goed gekose woorde en ‘n paar rapse oor
die kneukels!
Dankie dat ek hier by sy lessenaar kan sit en afpak as ek die dag voel ek
word afgeskeep en my ma is te ver om aandag te gee.
Ons bly tog maar almal kinders in ons gemoedere en as die stresse en die
emosies wil omsit in lyfkwale, soek ons maar net iemand wat kan troos. Al
moet ons ‘n bybetaling doen.
My tyd is om en ek glimlag dankbaar vir die voorskriffie in my hand.
Geneesheer druk my by die deur uit met die afskeidswoorde: ‘Dan sien ons
mekaar weer in 2005?’
‘Yip,’ lag ek en huppel in die hospitaalgang af.
By die apteek vou ek die papiertjie oop.
En natuurlik sal daar staan: Industriële hoeveelhede Jägermeister,
verkieslik saans, langs ‘n kampvuur.
Ek is weer gesond.
|
|