|
EN op die gevorderde ouderdom van vier en dertig kry die uwe op 28 April om
11:00, ja, wag daarvoor, DRADE.
O, ek is so opgewonde daaroor ek kan met stiletto's aan wawiele in Nelson
Mandela af maak. Of in die besemkas gaan sit en bitterlik aan de ween gaan
oor hierdie beker wat my nie wil verby nie.
Die tandeman sê ek het te veel tand en te min been. My onderkaak is blykbaar
net twee sentimeter lank en my bokaak vyf en negentig. Ek het derhalwe 'n
lieflike marmotagtige overbite en my voortande is besig om geleidelik nader
aan mekaar te kruip sodat ek binnekort soos Liewe Heksie gaan lyk met een
reuse-voortand. 'n Geval van meer bek as binnegoed.
Die vreeslike grappiges in die kantoor vermoed dat dit onnodige prosedures
en geldmors is aangesien ek klaar te vol draadwerk is…ha-ha…ek lag nie.
Ek gaan ook nooit weer glimlag nie.
Ek gaan nooit weer 'n tjoppie kan kou dat die bene kraak nie.
Toffies is uit en versappers is in.
Groen blaargroentes is uit want dit sal lyk of ek 'n amfibiese diertjie
vermink het met al die stukkies groen wat so aan die tandbedrading rondswaai.
Ja, dis 'n naarheid.
Ek gaan geskaafde binnewange hê en sjthnaaksjth praat met al die
staalkonstruksies om die gebit.
Na twee jaar gaan die drade glo afkom en dan, die Grand Finale.
Tandman sal gewapen wees met sy tandsaag en boor waarmee ek, hopelik onder
volle verdowing met back-up drugs, uitmekaar gesny gaan word en die ou
stukkie onderkaak langer gerek gaan word.
Moet onder geen omstandighede dink dat die operasie vir kosmetiese
doeleindes is nie. Geen mens sal so masochisties wees om haarself hierdie
leed aan te doen net ter wille van die beter lyk nie. Die rede is
doodeenvoudig dat my tande al hoe verder vorentoe skuif en dat ek hulle moet
keer voordat almal gelyk, soos klein lakentjies op miniatuur balkonnetjies,
oor my lippe begin hang. As jy mooi daaroor dink, sal jy saamstem dat dit
uiters onprakties sal wees, veral as ek in die openbaar moet eet. Ek doen
dit dus vir almal om my, nie vir myself nie.
Maar nou begin ek wonder. Aangesien ek my so moet martel vir so lank, is
hierdie nie dalk die geleentheid waarop ek sedert die jongste se geboorte
wag nie? Die tyd het aangebreek om m-a-e-r te word. En hier word ek sommer
'n hupstoot gegee met die aan- en toeklamping van kakebene. Hoe wil jy nou
vinniger die rolletjies afskud? Vir twee jaar gaan ek net dit wat deur 'n
strooitjie kan pas, inneem.
Dink net, teen Junie 2005 gaan ek 'n stunner wees met 'n langer kakebeen en
'n model se lyfie.
Miskien moet ek die hele pakket neem. Wanneer die drade afkom, moet die
manne met die lasers naderstaan en sommer alles wat hang en flap oplig, weg-laser,
smelt en verstel. Teen daai tyd is Botox al ou nuus en baie goedkoper en kan
ek met 'n verslapte voorkop loop wat nooit ooit weer in 'n verwoede frons
kan toeklap nie.
Ter afsluiting, goue sonstrepies in die hare en 'n splinternuwe klerekas.
Ek kan nie wag nie.
Net een ou kluuiinn probleempie: sal iemand asseblief vir my N$250 000 stuur?
Die mediese fonds maak darem 'n N$50 bydrae tot die drade…
|
|