|
Die bittersoet smaak van wêreldroem
Eendag as ek groot is, gaan ek ‘n world famous model word. (Dis nou woorde
in standerd ses). Ek gaan die wêreld vol reis en net eksotiese kos op
eksotiese plekke eet.
Huh-uhh, sê Sanet, models mag nie eet nie, onthou jy?
Ek is vir ‘n rukkie van my storie af en kyk haar kwaai aan.
Man, dan eet ek net Vrydagaande baie, OK? snou ek vermakerig, want nie eers
my beste maatjie gaan my bubble bars nie.
Sy skud meerderwaardig haar kop. Huh-uhh, models mag NOOIT eet nie.
Ek ruk my op en storm oor die speelgrond. Reguit Snoepie toe.
Wat blaas jy so, vra die een agter die toonbank terwyl ek beduie dat sy vir
my ‘n paar tjoklits moet aangee.
Ek is woedend vir Sanet en sy is tog net jaloers want sy weet nie hoe om
eksoties te wees nie en ek gaan tog eendag ‘n world famous model wees,
stoomroller ek uitasem voort.
Die een agter die toonbank sê verveeld, nou gee dan daai tjoklits terug.
Models mag nie eet nie.
AARRGGGHH! gil ek en gaan boek myself in die siekekamer in.
In matriek maak ek dieselfde fout.
Ek staan by my pêlle en probeer ‘cool’ lyk. Almal het droopy oë en vreeslike
blazé houdings. So, begin een die gesprek, wat gaan jy volgende jaar swot?
In pas met die attitude van die oomblik antwoord ek nie dadelik nie. Ek laat
my verveelde oë eers op en af oor haar gly en sê dan met ‘n verskriklike
beswaardheid en sulke pap lippe wat die pout probeer weergee, wel, uhm, ek
kyk soort van na..uhm..regte.
‘n Stilte hang oor die coolstes van cool.
Ek skrik binne toe, maar weet dat ek gelukkig nie gesê het, eendag as ek
groot is nie. Nou waar lê die fout?
Sanet gee ‘n lang gaap en sê: Regte? Huh-uhh, ek dink nie so nie. Jou
Wiskunde punte is pateties EN OP STANDAARDGRAAD.
Ek sweer as die klok nie op daai oomblik begin skrou het nie, het ek wragtag
haar ponytail met een sierlike pluk ontwortel.
Maar ek leer nie.
Uit moedswilligheid probeer ek drie jaar lank Privaatreg 1 deurkom. Totdat
my stiefpa met ‘n wit gesig en geklemde kake my goedjies in Pretoria kom
oppak en die duisende kilometers terug Windhoek toe soos ‘n Tibettaanse
monnik chant: hierdie fonteintjie het nou opgedroog, hierdie fonteintjie het
nou opgedroog…
En dis waar my loopbaan as ‘n kelnerin begin en ek genoeg kêsh bymekaar hark
vir daai onvermydelike ek-gaan-myself-vind reis om die wêreld.
Vir ‘n jaar lank soek ek myself in systraatjies in Israel en bo-op dakke van
youth hostels in Griekeland. Maar al wat ek kry is ‘n lieflike tan en ferm
bobene van al die stap.
En dan, die oggend van waarheid.
In Turkye bly ek langs ‘n moskee vol torings en in die torings staan mans
met megafone wat elke vier ure die dorpsbewoners probeer waarsku oor iets.
Party nagte kan ek nie slaap nie en dan skep die deuntjies wat hulle so
kreun, die wonderlikste beelde. Dis na nog so ‘n nag wat ek een oggend
wakker word met die glashelder wete: ek het myself gevind. Ek gaan Drama
swot. Ek gaan ‘n WORLD FAMOUS AKTREE-ZUH word.
Begeesterd gooi ek my klere in my rugsak, storm by die pension uit en
hardloop na die naaste bushalte. Jaag tot by die lughawe, vlieg terug huis
toe en skryf net-net betyds in vir die kursus.
Dit was presies tien jaar gelede.
Ek is nog steeds waar ek was in standerd ses.
Sanet skud deesdae net haar kop as ek met wilde drome aan haar kuiertafel
sit. Sy sê gelukkig nie meer huh-uhh nie, glimlag net met die kyk van ‘n
dieper verstaan.
In PG du Plessis se Siener in die Suburbs sê Tiemie: ek wil ook van geweet
wees, Ma.
En dis tog maar wat so baie mense ook wil hê. Miskien nie op die wêreldskaal
wat ek dit verwag het nie, maar tog.
Gelukkig bring ouderdom wysheid.
Deesdae is my kinders se kwylbek bewondering en my vriende se geselse genoeg
om ‘n Oscar- toespraak oor te skryf.
Maar nou dat ek weer daaraan dink, miskien moet ek eendag ‘n World Famous
Skrywer word…
|
|