|
AS ‘N MENS MAAR JOU FAMILIE KON KIES
My oom in die Kaap het verlede naweek ‘n rype sestig geword en natuurlik
moes die familie uit alle gewestes opruk.
Ek is nie vreeslik familievas nie.
Nie dat daar afwykings of misdadigers onder hulle is nie, maar die
ge-haai-kyk-hoe-groot-het-jy-geword en die gesoenery en gedrukkery staan my
nie aan nie.
My suster het dit selfs oorweeg om Duitse masels op te doen net om die
affêre te vermy, maar na intensiewe druk en emosionele afpersing het Ousus
haar oorreed om op die vliegtuig te spring.
Ek kan mos nie alleen deur die marteling gaan nie.
Natuurlik kry my suster dit erger as ek, want sy was ‘n babatjie toe ons uit
die Kaap weg is Nam toe. Daar was weinig kontak daarna met die
agtergeblewenes in die suidelike punt van die kontinent.
Daarom word my dertigjare babasussie gewoonlik eers sjerrie ingejaag voordat
ons die deure oopgooi vir lank-nie-gesien-nie-familie.
‘Haai,’ hyg die tannie met die deinende boesem.’Is dit tog nie klein
Ilanatjie nie? Aarde, jy was soooo groot toe ek jou laas gesien het.’ En dan
knyp sy Ilanatjie se reeds opgeblase wange met intense lekkerkry.
Sodra sy wegwaggel, fluister Ilana deur haar tande, ‘wie de d….r was dit’ en
ek trek my skouers op en gee nog ‘n sjerrie aan, want my oog het die
agterkleinneefs in aantog gevang.
Die Neefs lyk almal na mekaar en tot vandag toe kan ek nie onthou wie is wie
nie. Daar is veertien van hulle (of so voel dit) en net hul lengtes wissel.
Verder is almal blond met blou oë en die allerverskriklikste skouers wat jou
sleutelbene in een ligte omhelsing kan vergruis. Goeie boere, nietemin.
Uitasem maak ek en suster onsself uit die voete en gaan kruip agter die
motor home weg wat spesiaal vir die okkasie van die see af gejaag is
binneland toe.
‘Ek sien nie meer kans hiervoor nie,’ sê Ilana tranerig. ‘Ek is nie gemaak
hiervoor nie. Kom ons gaan Dros toe vir ‘n uur en dan kom ons terug as almal
al lekker aan die kuier is.’
Ousus se verantwoordelikheidsin veg verwoed teen die aanloklikheid van die
voorstel. Dan swaai die motor home se venstertjie bokant ons koppe oop en
iemand brul verwoed, ‘rook, ek ruik rook! Die opstal brand!’
Ons kyk mekaar verstom aan terwyl ons verbouereerd die halfgerookte
sigarette dooddruk.
‘Oom Jannie,’ fluister ons gelyk. ‘Ek dog hy’s laaaaankal dood.’ Dan leopard
crawl ons terug huis toe, voordat die gevaarlike man met sy knopkierie ons
agterkoppe inslaan. Hoekom hy genooi is weet niemand en ek gaan soek my ma
vir meer inligting.
‘Ja,’ sug sy’ ons het nie geweet wat om te doen nie, maar die ouetehuis sê
hy het nie meer lank oor nie en toe het ons gedink om hom vir oulaas hier by
ons te hê.’
‘Hoekom,’ wil ek verbaas weet. ‘Hy het dan nie ‘n clue wie een van ons is
nie?’ maar my ma ma het een van haar gunsteling tannies raakgesien en
jillend word daar om besnoerde halse geval sodat ek vir ‘n oomblik wonder of
dit bloederig sal raak as een van daai stringe krale losskiet en teen die
malende mensemassa ricochet.
Ek sleep my suster in die gang af op soek na waters waar rus is.
Die Neefs het egter die TV kamer oorgeneem vir een of ander simpel
rugbywedstryd en weldra breek ‘n vieslike stoeigeveg uit tussen die Stormers
en die Sharks ondersteuners.
‘Ma gaan crack,’ is al waaraan ek kan dink toe die TV se remote ons ouma se
trouportret aan skerwe laat spat. Gelukkig raas dit so op die kuierstoep dat
ek kan wegglip voordat ek die een is wat die skoppie en die besempie moet
gaan haal en skerfies opvee.
Elke liewe kamer in die huis is beset. Klere, tasse, skoene, komberse,
matrasse en kussings lê wyd gesaai. Selfs die kamer wat aan my en suster
toegewys is, is deur anonieme lede oorgeneem.
Die Dros-voorstel klink skielik baie aanvaarbaar.
‘Kom,’ fluister ek vir Ilana en ons vlug oor die agtermuur. Ons draf
giggelend straat-af. Verlos van versmoring deur swingelende bo-arms en Mint
Imperial-asems.
Maar die gejuig word gehalt deur die Verjaarsdag Oom wat van agter af roep:
Wag vir my!
‘Wonderlik,’ brom ek vir die suster,’so naby en tog so ver.’
Maar Oom kry ons elkeen aan ‘n skouer beet en stoomroller in ‘n aweregse
rigting weg van die huis.
‘Ek is nie gemaak hiervoor nie,’ blaas hy vies.’Waar kry ‘n man sjerrie in
hierdie dorp?’
Op die restaurant se stoepie stel ons drie ‘n laaste heildronk in voordat
ons weer huiswaarts moet keer.
‘Lank sal hul lewe,’ sug ons beswaard.
Maar ons sou dit nie regtig anders wou hê nie.
|
|