Minette Brink

 
 

Fliekkoors
 

 
 
Hier volg 'n vriendelike dog ferm waarskuwing: sou ek ooit weer gaan fliek, sal ek 'n tradisionele wapen onder elke blad hê. Hetsy 'n braaipan of 'n krieket- bat.
Dié skielike aggressie is veroorsaak deur die armsaliges van inbors wat geen fliek-etiket ( of enige etiket, for that matter,) het nie. En wie dan nie wil hoor nie. Dit kos deesdae meer as die twintig dollar om te moewie. Dit kos harige tande. Nog voor jy die teater betree het, begin die geveg. Want die beneukte vrou wat die kiosk beman, soek 'n waenhuis se geld vir 'n vuurhoutjiedosie vol popcorn. Jy verbleek. Jy betaal. Net om summier jou eetlus te verloor wanneer die kaartjieman so diep in sy neus krap dat jy vir 'n oomblik wonder of jy nie 911 moet laat kom nie. Maar dan hou hy dieselfde besmette vinger uit vir jou kaartjie. En jy vlug heel naar die donkerte in.
Ek is 'n fanatiese fliekvlooi. Ek verander gewoonlik sestien keer van sitplek voordat ek veilig voel. Dan straal ek met al my mag soveel afwerende energie uit dat daar gewoonlik ën sirkel leë sitplekke om my is. Want ek fliek in stilte en in vrede. Ek hou nie piekniek nie en ek vry nie in die fliek nie. Maar helaas. Sodra die ligte uitdoof, stroom die bendes en hul ellendes in. En om die een of ander rede word ek binne sekondes omsingel deur die vyand. Afwerende energie ten spyte. En die huil kom sit in my keel. Uit wanhoop.
Ons kry die tantes, min-of-meer gebou soos peperpotjies, wat opsluit in spanne van drie opruk. Hulle sal al hardhorend die storielyn heen en weer pass met gepaste tongklappe en kermgeluide van verontwaardiging. In 'n stadium sal een (of meer) van die peperpotjies òf aan die slaap raak, òf die kleedkamer gaan opsoek. En dan, met die ontwaking of die terugkeer, sal die res van die span omtrent spoeg en rondfladder om die oningeligte te verlig. Teen daai tyd klop die are in my kop al baie sterk. Maar ek bly stil. Want my aandag word afgelei deur die vent met die verskrikte hare wat, natuurlik, reg voor my kom sit. Vyftig minute laat. En ek staar aarkloppend deur die versteende graspol na die big screen. Terwyl ek geleidelik bewus word van 'n ritmiese geknars aan my regterkant. Die aar bars. Daar sal binnekort 'n wet ingestel word wat fliekgangers verplig om hul popcorn te suig sodra die hoofprent begin.
Teen die tyd het ek alle belangstelling (en die storielyn) verloor. En ek wonder waar het die gene verkeerd gekruis. Waarom is dit so moeilik om net die ou tikkie konsiderasie te toon vir die besorgde fliekganger? Los tog die pasgeborene by die huis. Gaan koester die nuutgevonde tienerliefde elders. Wag vir die video. En sal die man met die skurwe tone, wat heel gelate die genoemde tone aan weerskante van my sitplek laat inskif het, asseblief verstik aan sy slush puppy. Ditto die sakeman(?) wat sy transaksies per selfoon beklink.
Soos ek sê: volgende keer is ek gewapen. You have been warned!