Minette Brink

 
 


Gobabeb, groot gelykmaker in die woestyn
 

 
 
DIE son brand meer as die vel in die Namibwoestyn. Dit skroei die weerstand en die opstand weg.
En wanneer jy terug tussen vier mure sit, is jou hart en jou siel seer omdat daar meer is as hier.
Sondagmiddag twaalfuur sit ek plat op die sypaadjie in die parkeerterrein oorkant die Kalahari Sands.
Klein stukkie oornagtassie en 'n kamerasak. Ons gaan Gobabeb toe.
“Wat wil mens daar gaan maak in die niks? Twee hutte en 'n watertoring en dis dit. G'n selfoonopvangs, TV of krag nie. Longdrops en was in 'n koppie water. Vreemde wetenskaplikes wat agter torre aanhardloop in 45 grade Celsius. Wat wil mens daar gaan maak?”
Mens wil niks daar gaan maak nie. Mens wil net gaan kyk.
En die bussie kom aangejaag en ons moet klim. Absalom en Natascha en Mercia en Herrn Nestroy en Donovan die drywer en aangename kennis.
Hy het nog nie die Gamsbergpas gery nie, sê die drywer, maar sal ons dit maar vat?
Mercia beman die kaart en die res wikkel in vir die lang slaap.
Maar die mooi aan weerskante van die suisende bande oor die gruis praat te hard en in stille eerbied aanbid ons die land.
Heuwels en berge en wuiwende gras. Rante bedek met klossies bos soos 'n ou man se groterwordende bles in die laatmiddag son. Kranse en skeure en rotse is grynsende skedels en slapende dinosourusse.
Kronkelkronkel deur die Kuisebpas en skielik is ons nie meer beleefde vreemdelinge nie.
“If you fall from here you’ll fall from grace to the grass,” mompel Absalom terwyl hy sy lyf wegtrek van die afgrond hier teenaan die bussie se sy.
Ons sien die land deur ander oë. Neem foto’s van mekaar voor die Solitairediekant en Walvisdaaikant se bord.
Minute word ure en die son trek water. Welkom in die Namib Naukluft op die pad na nêrens. Stop, vra ek, tyd vir nog ‘n foto en Absalom soen die grond.
“Is daar lewe na Gobabeb,” sug Natascha toe ons verdwaal.
Mercia en Donovan se skuld, want hulle luister na die grappe uit die agterste gestoeltes en mis die afdraai.
Toe eet ons maar en deel wat ons het, “because here in Africa we share.”
En na dae en maande op die pad na nêrens is ons daar.
Gobabeb, watergat by die vyeboom langs die Kuisebrivier. En ons drink bier en word geroskam oor ons nie flitse gebring het nie en daar is jou tent.
“Ek gaan met 'n baas moet praat hieroor," brom Natascha in die donker op pad rivier toe.
Voor die tent laat val sy haar macaronikosblik en tassie.
"Ek het nog nooit in my lewe gekamp nie. En wat van die skerpioene," klink dit weemoedig in die vallei.
En dié sien ons by die dosyne later die nag. Onder die ultravioletlig gloei dié figuurtjies groen en pers in skeure en takke en boombas.
Na die tyd is ons kenners van gediertes en uit dankbaarheid klink ons 'n laaste bier. Al wil Absalom die City Boy met mening op 'n dak klim om net één sms vir die meisie in Windhoek te stuur.
Maar hier’s niks se selfoonbedrywe nie en tyd staan in elk geval stil en wat is die haas?
In die nag val die boomskerpioene op die tent se dak en girtsgirts teen die kante af. Maar voor ek kan sidder, oorval die woestynlug my en voor die son word ek wakker en wonder waar ek is.
Voëls wat sing terwyl ek onder die net lê en wag vir die son se gesig om oor die horison te beur.
Ek deel die stort met motte en onbekende goggas en 'n eksotiese sprinkaan met 'n verweefde kunswerk in sy ragfyn vlerke.
En van daar af is alles 'n droom. In die bloedige son is vreemde wetenskaplikes vereer vir die gehol agter torre aan. Daar is geëet en gedrink en rondgewys en met verwondering gekyk in watter anderste wêreld dié Gobabebbers bly.
Toe ons wegry, het ons vir lank halflyf by die vensters uitgehang om vir Helen te waai en te waai en 'n laaste verlangende kyk oor die Namibsand te gee.
En ons was stil, want ons het stukkies van ons siele daar agtergelaat in ruil vir die stukkies wat ons daar langs die Kuiseb opgetel het.
Ons het saam die ontdekkings gemaak en soos kinders laf vir mekaar gelag.
"Because here in Africa we share."
Al is ons 'n boer en 'n plaasmeisie, 'n city boy van Oshakati, 'n drywer van Khomasdal, 'n Ingilsman wat kaarte verkeerd lees, 'n afgetrede ambassadeur of 'n Duitse Afrikaner met 'n liefde vir macaroni.