Minette Brink

 
 

Groendakkies toe met natuur se spietkops

 
 
DAAR jaag Greenpeace, daai beneukte omgewingsmense met ʼn mission, mos die anderdag ʼn erfenisterrein in sy dinges in. Ek kan net dink watter gru-gesigsuitdukkings en bloedstollende gille oor die oseaan moes sidder. Nogal met hul vlagskip, die Rainbow Warrior II, 96 vierkante meter se koraalrif in die Fillipynse eilande afgeskryf. Die arme mense. Hulle bedoel so goed. En nou dit.
Getrou aan hul aard het hulle net daar ʼn tjekkie van N$50 000 uitgeskribbel om vir die “very regrettable” ongelukkie op te maak.
Om te wat? Koraaleiertjies te koop? ʼn Reuse bord op die ongelukstoneel te plant? Wat lui: Koraalrif verwoes. Jammer, o so verskriklik jammer vir die ongerief. Ons het betaal. Greenpeace.
Beamptes van die Tubbataha Nasionale Maritieme Park het glo die skade bepaal en in ʼn gesamentlike verklaring met die Groenes gesê dis verkeerde seevaartkaarte se skuld. Daarvolgens was die Warrior ʼn hele 2.5 kilometer van die heilige korale tydens die gru-ongeluk, maar helaas.
Nou vra ek jou. Hoe bepaal jy die skade aan ʼn koraalrif? Natuurlik is dit ‘n ongelooflike verlies en het ontelbare delikate diertjies in die slag gebly. Duisende jare se prag in sy kanon.
Maar hoekom die Groenes beboet? Hoekom nie die kaartsketsers nie?
Ek haal my hoed af vir mense wat hulle hele lewe aan die natuur en bewusmaking wy. Dit kan nie maklik wees nie.
Nie met die oorweldigende apatie waarteen hulle moet veg nie.
Mense lag klimaatsverandering en die kweekhuis-effek af as mal wetenskaplikes se laatnag formules vir massa histerie.
Verwoestyning gebeur so stadig dat ons kinders se kinders dit dan nie eers sal sien nie.
Die osoon se gat wat destyds soveel opskudding veroorsaak het, se naam is gat.
Besoedeling is een van daai dinge wat saam met vooruitgang gaan. Maak vrede daarmee.
Orkane en vloede is deel van die Eindtye, niks anders nie. Nie ons mense se skuld nie, aikona!
Greenpeace se tjekuitskryf vir korale is egter nie naastenby so erg soos Bets se Trauma nie.
Jaag ek die anderdag die ingang na haar huis heel verby.
Toe ek uiteindelik die oprit na die pypsteelerf kry, sien ek die patetiese figuur in die erf sit en huil.
“Wat is dit,” gil ek en spring uit die kar nog voor dit behoorlik tot stilstand gekom het.
“My Witgat, my Witgat,” snik sy histeries.
“Toemaar, toemaar,” troos ek. “Dit gebeur met al ons boervroue in Afrika, soms raak dinge net te veel. Kom ek gaan maak ʼn teetjie.”
Maar die vrou is buite beheer en wil niks weet nie.
Ek gaan sit toe maar langs haar op die grond en bid vir bedaring.
“Hoe KON sy?” skree Bets skielik en gooi haar arms in die lug. Ek skrik my vaal. Miskien is die skade blywend. Die gewoonlik bedeesde vrou is glad nie by nie.
En dan kliek ek. DIE WITGAT! Natuurlik! Gʼn wonder ek kon nie huis kry nie, die baken op die sypaadjie is weg.
“Waar is jou boom,” vra ek versigtig en skuif ʼn entjie weg. Mens weet nooit waartoe 'n goeie vriendin in ʼn oomblik van blinde woede in staat is nie.
Bets se oë blits.
“ My buurvrou, in haar allerwysheid, het my Witgat afgesaag,” blaas sy. “Omdat dit vir haar ‘stupid’ gelyk het. Oordat dit ‘nie juis ʼn vreeslike mooi boom’ was nie. Afgesaag. Morsaf, gone, weg, vir altyd,” en daar stroom die trane dat die maskara spat.
As dit nie vir die elektriese drade tussen Bets en die buurvrou was nie, was ek bo-oor die muur.
Oor ék toe skuim om die mond van kwaad.
“Dagvaar haar! Laat weet die munisipaliteit, vir mnr. Vogt, mev. Hoffman, die Ministerie! Dis onwettig, dis ʼn beskermde boom, dis inheems, weet sy dan niks,” brul ek dat tot Bets verskrik terugstaan.
Ons het maar uit magteloosheid ʼn wyntjie op die Witgatte gedrink, wat anders kan mens doen?
Kap asseblief nog bome af, ag toe? Dit groei mos weer.
En soos iemand nou die dag sê, interlock die vaal vlaktes, dit ry makliker.