|
DIS regtig besonder aangenaam om na twee weke verlof die kantoor in te stap
en in my gesig uitgelag te word.
“Whaaaa! Waar’s die harrekies,” skree een en vou dubbel van asemnood.
“Die bruin lyk ehm…anders,” probeer een kamma diplomaties.
“Gmffff,” snork ek beneuk en vee oor die vetterige stywe bolla wat my oë
skrewe trek.
“DIS NAT, nie gekleur nie,” bulder ek dat sien en hoor vergaan.
“Eow,” gril die lot en tree agteruit toe hulle die ghries op my vingers sien.
‘DIS NIE SNAAKS NIE,” huil ek en sak op my bewoë arms neer.
Net om weer krag te kry vir die nagmerrie wat nou eers begin het.
Die vorige dag ‘bederf’ ek myself met ʼn lieflike haarproduk wat beloof om
jou harrekies ‘son-syagtig’ pragtig te laat.
Die bossiekop van my is erg droog en so ʼn potjie met die lekkerruikende
balsempie in, lyk na net die antwoord.
Ek kan nie wag dat die kinders gaan slaap nie sodat ek die wondermiddel
rustig in die koppie kan inwerk nie.
Soos op die potjie helsemdrek aanbeveel word, deel ek haarslierte in seksies
en masseer die groen pasta in elke haarselletjie in.
Toe die laaste stringetjie ordentlik gewaks is, duik ek in ʼn diep skuimbad
en glimlag verruklik oor die visioen van my nuwe ‘son-syagtige’ sagte hare.
Toe spring ek regop omdat die slierte verstok-styf in my skouers insteek en
voor my oë verder versteen.
Ek gryp die stortkraan en draai die rooikraan amper uit sy skarnier.
Verbrand my kopvel en gil van pyn, maar al wat afkom, uitkom, is die
olierige gemors.
Sewe en twintig sjampoo-sessies later lyk ek nog steeds of ek ʼn industriële
pot Vaseline met mening in my kop ingevryf het.
Dis ʼn disaster. En die son kom al op.
Ek is met ʼn stywe bollatjie kantoor toe waar die groot gelag my met ope arms
verwelkom.
Een kollega het my vir ʼn halfuur sit en bekyk voor sy stomverbaas ‘o dis JY’
fluister.
“Is oor jy soos ʼn bosluis lyk met die klein koppie en die groot lyf,”
verduidelik die mees taktvolle kantoorlid.
“Nee, nee,” probeer Jo sy lewe red. “Sy lyk soos M, James Bond se
sekretaresse, veral met die brilletjie wat so mooi by die harrekies…” haar
stem verdwyn onder my verwoede weerligkyk.
Almal skarrel toe maar terug na hul lessenaars.
Terwyl ek die vervaardiger van die drek in Suid-Afrika probeer opspoor.
“En wat dink jy gaan hulle doen,” waag Jo dit so waar as VET weet hier oor
my skouer.
Voor ek kan terugblaf, skree sy van die lag vir haar eie simpel grappie.
“Hey, dalk stuur hulle vir ʼn jou ʼn jaar se voorraad Hairfood. Of dalk ʼn
pruik,” snork sy histeries en tel die potjie op wat ek intussen uit my sak
gepluk het.
“DIE GOED, o ek KEN dit. Die tweeling het dit op hulle koppe gesit en dit
het twee weke later eers uitgewas. Met Sunlight seep,” sug sy en skud haar
kop met die herinneringe aan hul eie haartragedie.
My onderlip begin bewe. Ek kan nie my hare afskeer nie. Met die krulkroese
van my lyk ek NES ʼn karakoellammetjie as dit kort gesny is. Daai
rimpelriffies oor die pelsie, dis my hare daai.
“Dis verskriklik. Ek voel nie lekker nie,” sê ek bleek en sluit myself in
die badkamer toe.
Twee ure later strompel ek betraand terug lessenaar toe en gaan bel die
verdomde vervaardigers. Hulle sal terugbel, sê die ontvangsdame kamma
besorgd. Met raad om terstond dié ou probleempie op te los.
Dis nou amper ʼn week later en nog nie ʼn woord van ghries-stroop uit die
buurland nie.
Nie wasseep, suurlemoensap of asyn het die triek gedoen nie. Ek lyk nog
steeds of ek verbete pogings aanwend om dreadlocks te groei. Ek het amper Jo
se raad gebruik om JIK en paintstripper te probeer, maar was bang die
kombinasie ontplof op my kop.
Ek sleep met trae voete by Dani se kantoor in. “Kan ek jou haarknipper leen
vanaand? Jy sien, ʼn vrou se hare is haar kroon, maar ʼn ge-oliede kroon lyk
maar hartseer.Watter kammetjie gebruik mens,” wil ek diep bedroef weet.
“Nommer vier” sê Dani en sug empaties.
Nah, dink ek toe ek later met die haarmasjien in my hand staan.
Die kammetjie-bedryf lyk na ʼn beslommernis. Ek gaan dit sommerso sonder een
deurstoot…
|
|