Minette Brink

 
 

Op pad na nêrens daar ver op die horison

 
 

Hier volg 'n fantasie. Ek wil wegvlieg uit hierdie kantoor en myself in ander plekke bevind. Driving along Sunset Boulevard saam met vriende in 'n convertible. Wind-innie-hare musiek met 'n kas Breezers op die agter seat. Soos in die movies. Op pad na nêrens daar ver op die horison. Die reis is die bestemming.
Daar is 'n Engelse gesegde wat lui: Never sit in front at the ballet. It spoils the illusion. Dis waar ek wil wees. Ver weg van die voorste gestoeltes.
Ek wil my raserige kop stomslaan met wonderlike scenery en illusies. In limbo.
Daardie stil plek tussen realiteit en droom waar jy in beelde leef. In my limbo is dit altyd pas voor sononder. Wanneer alles in silwer en goud gestreep voor jou lê. My favourite tyd van elke dag. Stiltetyd.
Om dan stil te hou en die woestyn in te stap, vuur te maak en die pienk-blou lug met een asemteug in te suig. Sodat my binneste behaaglik pienk-blou sug. Ek word die lug, die vuur, die woestyn.
Ek kyk met wakker gekko-oë rond, sien verder as die horison. Ruik 'n olifanttrop en skarrel weg, kruip tussen dennenaalde uit en verander in 'n uil. Hoe-hoe…
"Hoe ver is daai briewe," brul die Baas. Ek knip-knip my mense-oë verward. Die fantasie ontplof in 'n duisend silwer skerwe. Baas loer oor my skouer.
"Wat is 'wind-innie-hare' musiek," wil hy weet. Ek raak begeesterd. "O," babbel ek, "dis gewoonlik seventies-eighties musiek. Musiek wat jou oplig, weglig, sodat jy flater- en voëlvry voel." Ah, gaan die lig vir hom op. "Soos Bles se You're the Eagle, I'm the wind?" "Nee," keer ek in absolute horror. Dan sien ek die geamuseerde trek om sy mond. Hy lag vir my. "Toemaar," paai hy," ek verstaan presies wat jy bedoel."
Los alles. Loop tog net.
Ek vat die pad.
Maar nou sukkel ek om terug te klim in die leë convertible. Iets is missing. Terwyl Baas met my gesukkel het, het my padmaats al die Breezers gedrink en verder gehike.
"Hallo?" My stemmetjie weerklink yl in die koue aandlug. "Iemand daar? Iemand wat wil saamry?"
Terwyl ek wag vir 'n antwoord skep ek my fantasie-reisgenoot. Hoe sal hy lyk? Waaroor sal hy praat?
Ek start toe maar die kar en ry stadig verder. In die verte staan 'n donker figuur. Ek dink ek gaan dit oplaai.
Toe ek langs hom stilhou, wonder ek. Hy's baie groot met 'n woeste baard en kwaai wenkbroue. "Waarheen nou?", vra ek bewerig toe hy sy reuse lyf langs my neerplof. "Noord," grom hy en ek ry. Hy vroetel in sy flarderige rugsak en haal 'n kasset uit. Tom Waits kom sit in my ore. In my hart.
Dan druk die Reisiger 'n kaartjie in my hand. Ek lees so tussen die dryf deur. My naam is nie van belang nie. Ek is 'n skilder, 'n beeldhouer, 'n skrywer, 'n Afrika-reisiger. Ek gaan Noord.
"Hoekom?" wil ek weet. In die donker kan ek voel hoe hy vir my gluur. "Jy praat te veel," brom hy. "Bly stil en luister." Hy trek sy velhoed ver oor sy oë.
Ek wil my eers bloediglik vererg en sê: "Hey, dis my fantasie hierdie. Jy kan nie so met my praat nie." Maar hy sit onder my vel en ek wil hom daar hou. Toe bly ek stil.
En skielik is ek rustig. Tevrede. "Bly by my," vra ek. "Ek wil saam met jou Noord. Hierdie alleen travel is nou te veel vir my."
Hy skud sy kop. "Jy ken my nie," sê hy. Vriendeliker as vroeër, dog steeds onverbiddelik. "En as jy my eers gewoond is, bly daar niks oor nie. Die song is klaar. Laai my af."
Ek sien hom kleiner word in die tru-spieëltjie. Dan is hy weg.
Die convertible hou voor die kantoor stil. "Waar was jy?" vra Security.
"Noord," lag ek breed. "En môre gaan ek weer. En die dag daarna. En daarna..."