|
EN daar
word ek toe mos die anderdag sommer twee keer uitgetrap.
Deur WILDVREEMDES, nogal.
Eers gebel op my selfoon (die vermetelheid) om vasgevat te word oor die
wrede omgewing waarin ek durf werk en die harteloosheid waarmee ‘julle
koerantmense’ woorde kies.
Net daarna op straat voorgekeer oor my goddelose lewensstyl en oorlat ek nie
bewyse van lidmaatskap van ʼn spesifieke kerk kan lewer nie.
En weet ek dat ek reguit hel toe gaan omdat ek geskei is EN dat ek die
kinders in sonde saamsleep?
O, ek is ʼn slegte, slegte mens.
Ek kan niemand meer in die oë kyk nie.
O, behoede my.
Want: Hoe durf ek so sinies ligsinnig wees oor myself, ander, die lewe?
Want: Hoe durf ek Sondae werk?
Daarom gaan ek nou bedank en myself in my huis toesluit met die hoop dat
alle nare dinge sal weggaan en almal in Utopia sal voortleef.
Want wat die oog nie sien nie, kan die hart nie oor treur nie, nie waar nie?
As ek dit wel die dag buite moet waag om ʼn broodjie te gaan koop, sal ek nie
die haweloses, die gestremdes, die bejaardes sonder pensioen, die
mishandeldes, die dwelm- en drankverslaafdes of die korrupsie om my raaksien
nie.
Ek sal ook vergeet van die derduisende sinkhuise net hier anderkant die bult
waar honger elke dag oorverdowend geluidloos skree en glo dat vigs ʼn
opgemaakte bangmaakstorie is wat net sekere mense opdoen omdat dit hul
verdiende loon is.
Sal ook nie meer wonder of die 122 000 weeskinders in die land vanaand
hulleself aan die slaap huil nie. Ook nie meer omgee of vroue in gegoede en
krotbuurte deur hul mans half bewusteloos geslaan word nie.
Ek sal regtig vere voel vir kinders met kanker en ander oorerflike siektes
wat dringend geld nodig het vir operasies en ander mediese sorg.
Ook my nie langer steur aan gestremde kinders se nuwe plaasstal wat met
groot moeite opgerig is net om ʼn ekstra geldjie vir nuwe boeke en toerusting
in te samel nie.
Tonnelvisie sal voortaan aan die orde van die dag wees met net die trein van
positiewe denke se lig wat van vooraf aangerol kom.
Maar voor ek myself heeltemal van realiteit onttrek, net ʼn laaste paar
selfsugtige versoeke.
Sal die twee persone wat my so blatant sleggesę het asseblief die grootheid
van gees hę om my te vergewe vir my tekortkominge?
Want ek wil vra dat niemand ooit weer iets lees oor buitensporige
tienerbedrywighede, skoolgeld, mediese onkoste, rolstoele, krukke,
bloedoortappings, nekstutte, terapeutiese perdrylesse, fisioterapie sessies,
insamelingsveldtogte, verlore gesinslede, tragiese velduitstappies, verlore
wisseltrofees, stamseloorplantings, Dagbreekkonserte, vigsdonasies,
vigskinders, weeskinders, verlore diere, mishandelde diere, dwelmslawe,
drankrehabilitasie, onthoofde lyke, gru-motorongelukke, begrafnisse,
selfmoorde, korrupsie, bedrog, diefstal, huisinbrake, motorsindikate, swak
diens en lawaai in munisipale gebiede nie.
Asseblief.
Laat ons van nou af net die goeie raaksien en vergeet van al die negatiewe
ou invloede van die verlede.
Want as ons dit nie erken nie, kan dit nie bestaan nie.
Ag man, dis lekker in Utopia!
Net ʼn laaste vraag: het jou tiende net waarde in geldnote? |
|