|
DIE anderdag kry ek weer een van daai kettingbriewe wat ek binne twee
sekondes vir ‘n halfmiljoen mense moet aanstuur anders gaan my rekenaar
ontplof/ek vir ewig sonder liefde wees/my toonnaels ingroei.
Ek wil heeltemal crack as dit gebeur, want al is ek nie vreeslik bygelowig
nie, is daar tog altyd die krapperige gewonder dat ek wel die ridder kan
ontmoet/tien miljoen pond van 'n wildvreemde tannie in Skotland kan erf/die
Nobelprys vir letterkunde kan wen.
Pure simpelgeit.
En laat ek nou net een keer dit waag om die gemors aan te stuur aan al die
kontakte op my adreslys, DAN reageer al die pêlle oor die aardbol skielik
met vreeslike drif. Vir maande sal jy niks van hulle hoor nie, maar stuur
net een gemorspossie en kyk wat is die reaksie. Hulle verwens jou tot in
ewigheid.
Gewoonlik is hierdie kettingbriewe vol geluk twee duisend jaar gelede deur
'n monnik onder in die kelder van die een of ander obskure kasteel begin.
Die betrokke brief is ook al nege en tagtig keer om die wêreld (hoe weet
hulle dit?) en as jy dit durf waag om die ketting te breek -- oee, -- wees
bang, wees baie bang.
Dan het die 'skrywer' van die brief nog die vermetelheid om goed te sê soos
'een man in die VSA het die brief as gemors afgelag en die ketting verbreek.
Twee minute later is sy kar gesteel, het sy vrou hom gelos, is hy afgedank,
het hy masels gekry en uit 'n hoë gebou geval. Gelukkig kon hy onthou in
watter vuilgoeddrom hy die kettingbrief gegooi het en het hy met koorsagtige
haas tienduisend kopieë gemaak en almal in sy onmiddellike omgewing daarmee
lastig geval. Binne 'n uur was sy vrou terug, is hy heraangestel, maar as
besturende direkteur met 'n splinternuwe Volvo, die masels het opgeklaar en
die beheerliggaam van die gebou waaruit hy geval het, het buite die hof
geskik vir twee miljoen dollars.'
Hoe kan hulle 'n mens so bang praat? Natuurlik gaan jy aan die bewe as jy
dink watter ellendes jou alles kan tref as jy nie dadelik begin afdrukke
maak nie.
Deesdae dwing ek myself om dadelik die delete-knoppie te druk as dit lyk
soos een van daai briewe. Wat die hart nie van weet nie, kan hy nie oor
treur nie, of so iets.
Amper net so erg soos die geluksbriewe is die soppy mense wat vir jou 'n
slide show stuur van wollerige diertjies wat deur koringlande rol, spekwang
babatjies met vlerkies wat op pienk wolkies sit en kwyl, plate en plate vol
wuiwende kosmosse en die diep, diep boodskap by elke prentjie soos: 'Daar
sal weer 'n kwetterende gelag wees na die trauma' of 'Ek is altyd daar vir
jou, al praat ons nooit en as ek dood is, sal jy in my hart wees.'
Die ergste van alles is dat jy en die afsenders van die diep woorde mekaar
beswaarlik ken en jy het ook geen idee waarom die persone jou gekies het as
die teiken van hulle emosionele ontlading nie. En behoede jou as jy weier om
die hele bedryf weer terug te stuur na die afsender (dit het weer iets te
make met die skakel wat nie gebreek moet word nie), dan kry jy sulke skreef
ogies en 'n 'hmf, wil mos nie my vriendin wees nie' wanneer julle verby
mekaar in die gang skuur. Nee, regtig.
Sou hulle die moeite gedoen het om my eers te leer ken, sou hulle baie
vinnig geleer het dat ek altyd my oë begin rol as iemand lostrek met woorde
van wysheid. (So gebore, ek het regtig geen beheer daaroor nie.)
Ek weet die skattige prentjies word seker met die beste bedoelings gestuur
maar hou nou asseblief op. Dit maak my briesend as ek by my werkies probeer
uitkom en tussen al die hordes e-posse eers vir 'n halfuur moet wag vir 'n
verwerkte weergawe van Psalm 23 met byklanke en lugfoto's om klaar te speel.
En raai wat, ek SAL baie geluk hê van nou af. Al het ek in die afgelope week
vyf geluksbriewe in vlamme laat opgaan.
Geduld is 'n gawe.
|
|