|
OP
universiteit word dramastudente die volgende waarheid geleer: ‘There is a
hell where actors go to. It’s called Children’s Theatre.’
Dit is vir enige aspirant-akteur die grootste toets en as jy dit kan
deurstaan, kan jy enige iets in die lewe aanpak. Vir weke repeteer jy van
vroegdag tot lank na middernag aan ‘Miranda en die Towerspons’. Jy verloor
sewentien kilogram in die proses want soveel energie word selde indien ooit
in enige sportsoort op aarde verbruik. Jou kostuum maak egter op vir die
verlies aan massa, veral as jy die rol van Gem die Seester, die Ondersese
Haarkapper, vertolk. Jy staan die helfte van die verhoog vol met die punte
van die seester wat in alle windrigtings swaai. Maar jy moet die marteling
deurgaan om jou tweede jaar deur te kom en daarom verduur jy dit met ‘n
dramatiese glimlag –- jy is immers die groot drama queen.
Tydens die laaste twee kleedrepetisies kry die res van die dramadepartement
die geleentheid om die produksie te beoordeel en die gemarteldes op die
verhoog ‘n idee te gee van gehoorreaksie. En jy dink 'ons het alles onder
beheer.'
Maar helaas.
Die oomblik wanneer die gordyne lig en REGTE kinders sit in die gehoor, dan
bars alle hel los.
Dis ‘n gegil, ‘n geskree, ‘n geboe, ‘n malende kindermassa wat selfs tot op
die verhoog spring en tussen dit alles deur moet jy konsentreer op jou
woorde en om jouself hoorbaar bo die kakofonie te maak. Jy vergeet egter in
die proses van die Seesterkostuum en klap per ongeluk ‘n kind bo van die
verhoog af met die laaste stuiptrekkings van die Seester Tango. Almal gil
histeries, onderwysers inkluis, en jou oog vang dié van jou dosent wat
woedend vir jou van die gallery af gluur. ‘Gaan aan! Gaan aan!’ beduie hy
kwaai en die Seester is vir die res van die vertoning die ongewildste
onderwater karakter. Nie baie goed vir die ego of die jaareindpunte nie.
Gelukkig het die kind nie blywende skade opgedoen nie en het die betrokke
skool ook nie die Seester gedagvaar nie.
Nou is my studentedae ‘n gawe herinnering, maar die hel het nou ‘n nuwe naam:
KINDERPARTYTJIES.
Ek vergesel my jongste na ‘n Liewe Heksie-partytjie en noem by voorbaat vir
die mamma dat ek ‘n bietjie aan die olike kant voel –- ‘ons het net gesig
kom wys.’ Dan sleep ek ‘n stoel nader en gaan sit in die skadu van ‘n
lieflike boom.
Dit is nie so erg nie, dink ek. ‘n Heerlike wintersoggend, al die veld is
vrolik en al daai dinge. Totdat vierhonderd kindertjies om die draai gevlieg
kom en histeries op die springkasteel begin hop.
Ek hou hulle vir ‘n rukkie dop en kom dan agter dat my maag begin draai van
al die op- en affery hier reg voor my. Ek retireer met stoel en al,
weggekeer van die hoppery. Maar ‘n skoot sand tref my vol in die gesig want
ek sit binne in die sandput. Dan skuif ons maar weer. Die keer trek ‘n
duisend fietsklokkies los want ek blokkeer die deurgang van die ryers wat om
die visdam trap.
Intussen gooi my kind ‘n super deluxe vloermoer omdat sy nie die
verjaardagmeisie se presente mag oopmaak nie en al die ander mammas met die
voorbeeldige kinders kyk ons met sulke ‘dankie-vader-dis-nie-my-kind-nie’
ogies aan. Toe gaan ons maar huis toe net na die ‘veels geluk liewe
maatjie’-singery. Alhoewel ek in Milan se oë kon sien dat die maatjie alles
behalwe lief is.
Nou wonder ek maar net, gaan ek eendag groter hel hê as dit by
TIENERPARTYTJIES kom?
Die wat weet, moet maar laat weet… |
|