Minette Brink

 
 


Magic
 

 
 
Ek wens, ek wens…
Vir ‘n klomp goed. Om saam met die man in my lewe op sy reise om die aardbol te gaan. Om die wêreld se oë oop te kry. Om ‘n huisvrou te wees wat bedags pottebakkers-meesterstukke skep en eksotiese kosse maak. Om ‘n alternatiewe geneser te wees. Om ‘n klomp goed.
Waar is die magic in die lewe heen? Wat het geword van kleintydse verwondering oor sommer enige iets?
Ek is verslaaf aan Tolkien se wêreld waar ridders en elwe en hobbits die duiwels met swaarde en towerkrag en geloof verdryf. Waar varings en watervalle paleistuine skep en die maanlig ‘n anderste silwer skyn.
Ek is verveeld.
Met tegnologiese vooruitgang en die abstrakte woorde van e-posse. Met die alewige geraas en verrotting in die lewe. Met myself. En ek wil nie gaan gym, by die tennisklub aansluit of van voor af leer brug speel nie. Ek wil pret hê, ek wil baie lag en ek wil myself permanent omvou hê met arms en harte vol liefde en lewenslus.
Ek wil nie meer boeke oor kindermolestering, verkragting en die armblankes van toeka se Jo’burgdae lees nie. Ek soek magic! Ek soek hoop!
Hoeveel berigte kan ‘n mens oor vigwesies en vigsgevalle en weeskinders en wie weet hoeveel ander in nood skryf?
Almal is depressief, almal is onvergenoegd, almal soek geld. Wie gee nog om, wie stel werklik nog belang?
Ek wens, ek wens…
“Ek wens jy wil ophou kerm en begin werk,” skrou die baas oor die rekenaarskerm.
“Ok, ok,” gooi ek wal en word deur die skrillende telefoon verder teruggeruk in die wrede realiteit.
“Mêvrou Mênet, dis Albertina,” sê die stem aan die ander kant. “Ek wil dankie vir die mense sê. Ons het nuwe klere en slaapgoed vir al die kinders gekry. En baie, baie kos.”
Lank nadat sy koebaai gesê het, sit ek nog en peins. Sies vir jou, raas Die Stemmetjie in die binneste.
Sies dat jy ophou glo het.
Daar sit Albertina in ‘n eenvertrek blikhuisie en pas 45 weeskinders met raap en skraap op. En nog nooit was sy sonder daai spierwit en breë glimlag nie. Elke keer wanneer ek daar besoek aflê word ek letterlik met oop arms verwelkom, eintlik omsingel, want Albertina is ‘n groot vrou met ‘n groter hart.
Terwyl ek nog my seëninge sit en tel, lui die telefoon weer.
“Ek gaan trou,” jubel my suster uit Pretoria. “En sal jy die strooimeisie wees?” Ek sluk aan die huil wat skielik dwars in my keel kom sit. Want dis my dertigjare babasussie wat sewe jaar gelede haar liefde in ‘n verskriklike motorongeluk verloor het. Wat met soveel hartseer en nog meer hoekoms elke dag moes opstaan en net aangaan, want dis mos maar hoe die lewe is?
En toe sy op ‘n dag wakker word en besef die beklemming om die hart is weg, was Eugene daar en nou is dit sulke tyd.
Ons praat oor die rokke en die skoene en die venue en die kos. Lag ons besimpeld oor ons weet Moeder gaan soos altyd tevergeefs probeer om ons woeste boskasies met krullers te tem.
Lank nadat sy afgelui het sit ek met ‘n droomverlore glimlag en wonder oor die lewe. Met die snaakse, soms seer draaie wat hy met ‘n mens maak. Daar is ‘n tyd en ‘n plek vir alles, sê die Boek. Inderdaad.
En al waarvoor ek nou wens, is dat Ilana en Eugene vir altyd so verlore in die verliefdgeit sal bly soos nou.