|
Watter man, my liewe kind?
BY ‘n onlangse familiebyeenkoms het ‘n tante met pers hare my voor stok
gekry.
"En wanneer kry jy weer man?" wou sy onbeskaamd weet, ten aanhore van die
hele familie wie se ore onmiddellik op aandag spits.
"Nee dankie," probeer ek beleefd uit die vraag wikkel.
"Nou wat is fout met jou?" hyg sy tussen die canapé-kouery deur.
Die familie sirkel soos aasvoëls nader. Hier kom mos nou ‘n lekker sappige
brokkie inligting wat vir maande herkou kan word.
"Daar is niks fout met my nie, Tante," sukkel ek met die humeur. "Ek wil net
nie ‘n man hê nie, dis al."
Sy blaas deur skokpienk lippe . "Gmfff, lekker vol geit, né?"
Ek trap vierkantig in die strik en trek verwoed weg.
"As julle dan so entoesiasties is, kry vir my ‘n man wat nie ‘n obsessie met
sport, drank, ander vrouens en status het nie. Nie eens ‘n ligte obsessie
nie. Hy mag ook nie ‘n huishen wees wat heeldag onder my voete broei nie. Hy
moet langer en breër as ek wees, groen of blou oë hê, lang donker hare in ‘n
blink bokstert dra en baie glimlag deur sy bokbaardjie sonder om simpel te
wees. Hy moet slimmer as ek wees sonder om pretensieus of aanstellerig oor
te kom of my soos ‘n aap te laat voel. Verkieslik sal hy in die buitelug
werk, iets soos ‘n toergids of ‘n grootwildjagter met sy eie besigheid, maar
hy mag nie langer as ‘n week op ‘n slag weg van die huis wees nie. Met
vierdag tussenposes. Nooit sal hy my vra oor enige van my buie nie, want hy
sal sommer net weet wat pla. Ek sal die belangrikste persoon in sy lewe wees
sonder dat hy my versmoor met jaloesie en agterdog. Daar sal nie ‘n
vervelige oomblik wees as ons bymekaar is nie, maar hy mag ook nie ‘n
adrenalien-verslaafde wees nie. Hy sal ewe goed lyk in stukkende jeans, ‘n
swembroek en ‘n tuxedo, maar laat ek hom in ‘n Speedo vang en hy’s weg. Daar
sal ook nie een sweetpakbroek of help-my-sterk-lyk-hempie in sy besit wees
nie. Hy sal niks hou van visvang nie en ook nie vir ure aanmekaar praat oor
motors of groot masjiene nie. Ook nie oor die ekonomie of die politiek nie.
Maar hy sal ‘n ordentlike motorfiets ry en op hoogte wees van aktuele sake.
Hy sal weet van vroue-goeters sonder om verwyfd te wees en hy sal ‘n
uithaler kok wees wat glo dat my geregte lekkerder as syne is. Verder sal hy
fantastiese gedigte en prosa skryf sonder om soppy of depressief te raak en
hy sal nie by elke geleentheid sy kitaar uitruk en almal verveel met sy
weergawe van ‘Ou Ryperd’ nie. Sou hy ‘n grap vertel, sal dit beperk wees tot
een grap en nie ‘n drie uur lange marteling vir die geselskap nie. Daar sal
ook nie ‘n steekhaarbrak wees wat hom soos ‘n skadu volg en sy tandeborsel
met hom deel nie. Ek sal versigtig, maar nie bang wees vir sy humeur nie en
hom mag opsoen net wanneer ek wil sonder dat hy hom doodgril vir my
tanddrade. Hy sal gek wees oor my kinders en hulle soos sy eie hanteer. Wil
julle nog hoor?" vra ek leedvermakerig.
Tannie Pershare is bleek. Die familie is stom.
Voordat iemand iets kan sê, gaan ek geïnspireerd voort.
"Maar eintlik kan hy maar bles ook wees, want kyk nou na iemand soos Gys de
Villiers. Hy maak my knieë lam én hy is boonop ‘n akteur. ‘n Ware man vol
passie en kreatiwiteit. Dis wat ek graag na my kant toe sal wil sien kom."
Ek staan selfvoldaan terug en wag vir die terugvoer.
Na ‘n ruk kry die tante haar asem terug.
"Jy sal op die rak bly sit met jou cheeky-geit!" blaas sy ontsteld.
"Dankie tog," sê ek tevrede. |
|