|
Wat is in ‘n naam?
‘n Kollega se man is platgeslaan oor my kinders se name. Weet ek dat hulle
na stede vernoem is? En as ek dit weet, hoekom het ek dit gedoen?
Ek wil eers vir hom sê dat dit die plekke is waar hulle heel opgewek verwek
is, maar ek mag nie jok nie, want dan sou hulle Hatfield en Tierpoort gedoop
wees en, nou ja, hoef ek verder uit te brei?
‘n Verkeerde naam het al bloedige erfporsie-gevegte en selfs bloediger
egskeidings veroorsaak.
Ek verstaan dit nie. Jou naam is tog onlosmaaklik deel van jou
persoonlikheid, jou individualiteit.
Volgens die oosterse geloof droom die ouers vooraf die naam. (Voordat daar
nou weer ‘n religieuse slatsessie uitbreek wil ek noem dat ek van Zen-agtige
tuintjies en meubels hou, maar dis waar dit stop.)
Tog, waar lê die skade in die droom van jou kind se naam? Na nege, soms tien
maande se afwagting is dit tog sekerlik die ouers se voorreg om die drome en
die liefde vir die ongebore kind op te som in ‘n naam.
Maar om vanweë erfporsionele druk en misplaaste familietrots die arme
bloedjie te laai met sewe voorname, is net te erg.
En nou gaan ek leeuwêreld betree.
Waarom bou mense double barrel name vir hulle kinders? Ek praat nie van jou
Jean-Pierre's of Helen-Louise's nie. Ek praat van iemand soos
Marleojé-Martiohan. (Uitgespreek Marliozjy-Marsjoeaan.) Klink vir my soos ‘n
kleurvolle Russiese cocktail in die kroeg van die Starship Enterprise.
Die arme meisie met hierdie belading was saam met my op varsity. En sy het
nie vriende gehad nie, want niemand het geweet hoe om haar te roep nie.
Dit alles omdat haar ouers bykans die hele familie insae in haar naam gegee
het. Ouma Maria en oupa Leon Cronjé het aan pa se kant voorrang geniet en ‘n
erg verbitterde Oupa Marthinus en ouma Johanna kon darem die tweede plek kry.
En arme Cocktail erf toe anyway nie ‘n pennie nie.
Dan is daar die New Age-lede wat hulle spruite (no pun intended) na
eksotiese plantspesies en sterrestelsels vernoem. ‘Hibuscus, my aura
voorspel reën. Bring vir Bougainvillaea en Borealis buite toe dat ons kan
dans. Los tog vir Saturn. Hy is klaar so vol maan.’
En al wat die kinders eintlik wil hê is regte hamburgers en elektrisiteit.
Om verligting vir Kollega se man te bring: my seuntjie se naam is die
Spaanse woord vir ‘rivier’ en my dogtertjie s’n die Navajo woord vir
‘eenheid’ of ‘verbond’.
"Ha!" lag Kollega, "dan het jy mos self in die strik getrap."
Nie regtig nie, want ek het die name gekies omdat dit vir my mooi was en ek
eers later die betekenis van elk nageslaan het. Ek probeer ook nie ‘n
‘lewenstyl’ of ‘n filosofie op hulle afdwing nie. Wat my betref kan hulle
eendag verander na Sus en Daan as hulle wil.
Ek en my suster is vernoem na twee tennisspelers van die jare toet, want
Moeder is verslaaf aan dié sport. Terwyl ek gebless is met ball sense, vang
Ilana gewoonlik die bal met haar gesig. Sy kan egter tien soorte tale praat
en ek het lankal ophou sukkel met die derre en die dasse.
Daar het jy dit nou.
Ouers sal tot in der ewigheid ideale vir die kinders hê, maar laat dit
asseblief met suiwer motiewe wees en dink tog aan Cocktail voor julle begin
doop.
|
|