Minette Brink

 
 

Sy kan nie hier oudword nie

 
 

Sy kan nie langer hier bly nie. Nie hier waar elke dag met ‘n Grandpa geopen word teen die hoofpyn waarmee sy gebore is nie.
Sy kan nie vir die res van haar lewe tee aandra en bombastiese navrae hanteer nie.
Maar wat anders? En waarheen?
Jare terug was sy heel aantreklik. Daar was selfs ‘n jongman of twee wat haar vir pienk milkshakes gestiek het. Maar dié kuiertjies het weldra ook opgedroog, net soos haar hoop.
Sy sug en laat die verlede tyd se gedagtes by die venster uitwaai.
Dit maak haar bang, dié onheilspellende voorgevoel dat sy eendag alleen gaan doodgaan. Sonder seremonie. Sommer in haar slaap. En wie weet hoe lank dit gaan neem voordat enigiemand gaan agterkom dat die elfuur-tee nie opgedaag het nie. Dat die telefoon ongeantwoord bly skel. Miskien sal Michiel haar mis, dink sy blosend en betigtigend.
Sies vir jou, dink sy skuldig. Laat staan hierdie onbetaamlike gedagtes. Michiel wat nie eers weet wat haar naam is nie. Maar ai, is Michiel nie die man van haar drome nie? Is Michiel nie die donker held wat haar snags ontvoer na ver en geheimsinnige lande nie?
Hou op, hou op, skree die binnestemmetjie. En die gevoelloosheid daal genadiglik oor haar neer.
Haar tyd is byna om op hierdie vleeslike aarde. Daarom sal sy haar geestelikheid voor op stel. Geen gedagtes oor hoop vir die Sielemaat van wie sy al van kleins af droom nie. Geen verlange na daardie lowergroen plek met miljoene varings en duisende watervalle nie. Die plek waarna sy haar hele lewe lank soek, maar na al die kruistogte dwarsoor die land nog nooit kon vind nie.
Behalwe snags, wanneer die donker vir haar oor die vensterbank loer en wonder hoekom sy so hortend asemhaal. Dan hardloop sy kaalvoet en met warrelende hare oor die dounat heuwels van haar Plek. Tot daar waar die man haar met omsingelende arms opraap en styf vashou.
Maar dit stop hier en nou, want wat help dit tog, die gedroom waarvan niks kom nie?
Sy sug weer en begin werktuiglik die soveelste brief vir die Klaagkolom tik. Skud haar kop onbewustelik heen-en-weer oor die oneindige strome geteem op papier.
En dan vang haar oog die naam onderaan die laaste brief: Michiel van Platheuwel. En haar hart draai op sy sy.
Sy lees weer die brief, dié keer aandagtig, .

Liewe Trientjie, Ek is nie die tipe persoon wat myself wend tot klaagkolomme nie, maar my probleem raak nou te groot. Ek is ‘n sestigjarige man wat al jare by ‘n weekblad werksaam is. Hier by die werk is daar ‘n beeldskone vrou wat nie eens van my bestaan bewus is nie. Ek weet sy hou van pienk melkskommels en dat sy haar lewe lank enkellopend is. Waarom weet ek nie. Dalk het haar hart jare terug gebreek en wil sy nie meer uitreik nie. Wat stel jy voor?

Sy stoot haar stoel saggies agtertoe om ongemerk ‘n beter uitsig op Michiel se werkshoekie te hê. Hy sit donkerkop-onderstebo voor sy rekenaar en wanneer sy skaam voor hom staan, kyk hy vraend op.

Ja? vra hy kortaf toe sy die brief vir hom hou. Die keep tussen sy oë verdiep merkbaar soos hy oor die patetiese woorde gaan. Haar wange gloei soos kole toe hy die brief op die lessenaar neergooi. En? wil hy beneuk weet. Sy swaai om en verstar oombliklik wanneer die nuwe tikstertjie en die kantoorbestuurder haar met breë glimlagge staan en betrag.

Sy vlug deur die parkeerarea na haar losieshuis toe.

Die samesweerders se hoonlag weergalm en klop tot in die nanag deur haar lyf waar sy huilend lê en wag vir die donker by die vensterbank.

Sonder seremonie is sy dood. Alleen, in haar slaap.

‘n Week later kyk Michiel op en wonder, waar is die elfuur tee?