|
Vreeslike geleerdes in Amerika het bewys dat kinders tot op sewejarige
ouderdom die mees kreatiewe wesens op aarde is.
Dan, tragedie op note, word hulle skool toe gestuur waar alle
kreatiwiteit geleidelik dog doelgerig uit hulle gedwing of geslaan word.
Teen die tyd dat hulle puberteit bereik, slaan hulle ouers hande in die
hare en ween: O, wee.O, wee, waar het ons gefaal?
Ons kinders soek ontvlugting in drank, dwelms en porno op die Net.
Kom ons slaan hulle nog harder. Kom ons stuur hulle na
rehabilitasiesentrums waar hulle tog net kan bykom. Ten duurste. Vir
beide partye. Kom ons ontneem hulle van alle voorregte totdat hulle die
lig gesien het.
Is dit enigsins vreemd dat al minder mense, veral tieners, sukkel met
hul bestaansrede?
Waarom sal hulle in enigiets wil glo?
Watter vreugde kan daar wees in reëls, reëls en nogmaals reëls?
Hoekom moet dissipline so ver gevoer word dat 'n kind genoop word om te
rebelleer teen alles en almal om hom?
"Jy maak jou kinders vir die duiwel groot," het ek al by baie tantes
gehoor. "Jou kinders moet leer om 'n mens ordentlik te groet."
Ek wil soos 'n leeuwyfie begin sis as iemand daardie deuntjie begin
teem. My kinders is drie en vyf jaar oud. Dit is vir my belangriker dat
hulle eerder die tannie se tuin met oe- en a-geluide bewonder as om die
militaristiese bladskudmetode toe te pas.
Daar is 'n onoorbruglike gaping tussen die generasies.
Ek gaan nie ingee nie. Ek gaan nie toelaat dat my kinders in klein
stokmannetjies ontwikkel nie.
Natuurlik glo ek in die nodige respek teenoor ander mense. Ek sal bv.
nie toelaat dat my kinders met tjoklitbesmeerde hande oor jou banke
klouter nie. Of sy brötchen in jou videomasjien wegsteek nie.Ek sal wel
toelaat dat hy sy frustrasies tot uiting bring op 'n manier wat vir ons
altwee aanvaarbaar is.
Oeee, gaan die koor ontevrede stemme op.
Nee, ek is nie 'n New Age Mama nie.
My kinders word nie soos ongetemde diere groot nie.
Hoe kry ek dit reg?
Maklik.
Met verbeelding.
Deur die wonders van elke dag vir hulle te wys.
Menige feëtjie-buffets is al opgedis. Blare vol stokkies en blommetjies
op die spyskaart.
Ek glo saam met hulle dat 'n mens op die reënboog kan slip-'n-slide. En
dat die kleure op jou sitvlak gaan agterbly.
Soggens sing ons kliphard saam met "Stiem" (Sting!) of "Dybid Baubie"
(David Bowie!) Of ons luister na die klankbaan van "The Big Blue" en dan
moet hulle vir my sê wanneer hulle dolfyne hoor en wanneer is dit die
walvisse.
Ek is seker dat sommige mense my nou geklassifeer het as "een-van-daai-arty-farty-faerie-believers."
Daar is 'n tyd en 'n plek vir alles. Selfs Die Boek sê so.
Ek is nie naiëf nie. Maar ek is bereid om te belê in my kinders se
geestestoestand en as dit beteken dat ons dit via ons verbeeldings moet
doen, waarom nie?
Hoe anders kan ons dan die goedheid rondom ons raaksien?
Hoe kan ons God sien?
Hoe kan ons glo?
Ek gaan nie hierdie skrywe vir die Minsterie van Onderwys stuur nie. Ek
glo die oplossing lê tuis.
Stuur jou kind gewapen die toekoms in.
As jy nou saam met hom kan droom, sal jy eerder jou rehab-geld kan
gebruik vir 'n trip op die reënboog.
|
|